Grey blink uit die blokke
Grey-kollege het die nuwe seisoen Saterdag amptelik afgeskop by Hoërskool President Steyn se Hester van der Walt-sportdag deur, nes verlede jaar, hul veldtog af te skop met ‘n wegholsege van 40-3 oor Hoërskool Trio van Kroonstad.
Kyk al die wedstryde op die A-veld weer op SuperSport Schools – Registreer nou
Die Bloemfonteiners het van meet af die oorhand geniet, met Xander Smit (flank) wat net 25 sekondes nodig gehad het na die eerste afskop om oor die lyn te bars en Grey se rekening oop te maak.
Na daardie eerste terugslag, het die span van Kroonstad nietemin hergroepeer en staal getoon om aanvanklik Grey-kollege se meedoënlose aanslag te stuit.
Byron Biennas (losskakel) het, soos verlede seisoen, ‘n sentrale rol gespeel in sy span se vertoning en hul aanval gedirigeer, maar daar was geen gapings te vinde in die Bloemfonteiners se verdedigingslyn nie.
Biennas kon egter die gaping op die telbord tydelik laat krimp met ‘n lang strafdoel van die kantlyn af.
Grey se vleuel, Pretorius Ekeji, was ook telkens gevaarlik waneer hy sy hande op die bal gekry het. Hy het sy merk op die wedstryd gelaat deur bo-oor ‘n paar Trio-verdedigers te hardloop vir twee drieë.
Grey het die sluise in die tweede helfte oopgemaak met vier verdoelde drieë sonder om enige verdere punte af te staan en lyk reeds soos ‘n goed geoliede masjien.
Grey se skoolkaptein vir 2024, Pieter van der Merwe (senter), het ook ‘n pragdrie gedruk om ‘n uitstekende spanpoging af te rond, nadat sy span in die tweede helfte die bal meer kon begin versprei in die agterlyn.
Skrumskakel, Phillip McLaren, het verseker dat sy oorgehaalde agterlyn die bal blitsig ontvang en was ook beloon vir sy harde werk met ‘n drie.
Die enkele keer wat Altus van Schalkwyk, wat as ‘n plaasvervanger opgekom het, die lyn kon breek vir Trio, het hy hom vasgeloop in Grey se heelagter, Thristan Maree, wie se enorme duikslag die besit weereens kon omkeer vir die Bloemfonteiners.
Alzeadon Felix, Grey se losskakel, was deurlopend in beheer van die spel en kon met vyf doelskoppe self ook 10 punte bydra.
Verlede jaar was die telling tussen die twee spanne 38-10, met Grey wat voortgegaan het om ‘n onoorwonne seisoen met vele hoogtepunte te lewer. Indien hierdie vertonning enige aanduiding is van wat wag, lyk dit asof die Vrystaatse reuse oorgehaal is vir nog ‘n fenomenale seisoen.
Volgende naweek pak Grey vir Welkom Gimnasium in Bloemfontein, voor die seisoen met mening afskop by die Noord/Suid-toernooi op 22 Maart, wanneer hulle teen King Edward VII School en Jeppe High School te staan kom.
Grey se tweedespan het hul wedstryd teen Voortrekker se tweedes ook gemaklik gewen met 64-7. Siyabonga Kenny, hul blitsige vleuel, het twee keer agter die doellyn gaan kuier, terwyl heelagter, Heinz Stockenström, 19 punte bygedra het met ‘n drie en sewe doelskoppe.
Die Trekkers se vyftiental wat teen HTS Louis Botha uitgedraf het moes staat maak op van verlede jaar se sterre om gelykop te speel.
Die Louis Botha seuns lyk alreeds asof hulle op ‘n beter plek is as verlede jaar, en het ‘n barshou gespeel om ‘n voorsprong van 14-0 op te bou voor halftyd.
Agsteman, Kwanda Tokwe, het ‘n tweekuns behaal, maar nadat die span van Bethlehem hul reserwebank leeggemaak het om van hul staatmakers op te bring het die momentum geswaai.
Frederik Fourie en Craig Mann het uitstekend gekombineer om die gapings uit te buit en die agterstand in te haal, maar albei spanne sal voel dat daar geleenthede was om ‘n oorwinning te kon behaal.
Hierdie toernooi word egter juis gebruik om bietjie op te warm voor die seisoen in alle erns afskop, en albei hierdie spanne lyk asof hulle opwindende rugby gaan opdis in hul onderskeie ligas.
Hoërskool Bloemfontein het ook ‘n puik sege van 47-19 oor Hoërskool Marquard behaal.
Hul losvoorspelers, Wessel van der Merwe en Brandon Erasmus, het uitstekend saamgejag, met Jano Jackson wat die spel op losskakel dikteer het.
Hoërskool Ladybrand se Lucky Rathubala (vleuel) het ook twee drieë tot sy naam gevoeg in sy span se oorwinning van 17-7 oor Hoërskool Hendrik Potgieter van Reddersburg.
Puntemakers:
Grey-kollege XV: 40 (12) – Drieë: Pretorius Ekeji (2), Pieter van der Merwe, Emile McGeer, Dian Venter, Xander Smit. Doelskoppe: Alzeadon Felix (5) Hoërskool Trio: 3 (3) – Strafdoel: Byron Biennas.
Grey-kollege II: 64 – Drieë: Siyabonga Kenny (2),Heinz Stockenström, Donelle Hendriks, Bernard Wessels, AJ Booysen, David Hayidakis, Henco Diederichs, Stephan Jacobs, Theto Montjane. Doelskoppe: Stockenström (7). Voortrekker Hoërskool II: 7.
HTS Louis Botha: 17 (14) – Drieë: Kwanda Tokwe (2) Nomgang Themba. Doelskoppe: Nikikheli November. Voortrekker Hoërskool XV: 17 (0) – Drieë: Frederik Fourie (2), Craig Mann. Doelskop: Tumi Khoza.
Hoërskool Bloemfontein: 47 – Drieë: Brandon Erasmus (2), Bokang Maichu, Wessel van der Merwe, Kenslin Collins, Duan Visagie, Arthur Maasdorp. Doelskoppe: Keanu van Heerden (6). Hoërskool Marquard: 19 – Drieë: Tshepang Lekhase, Gift Shabangu, Renang Shelile. Doelskoppe: Boitumelo Nkhatho (2).
Hoërskool Hoopstad: 21 – Drieë: Abrie van Zyl, Hennie Barnard, AB Muller. Doelskoppe: Barnard (3). Hoërskool Ficksburg: 12 – Drieë: JJ Nel, Karabo Morobe. Doelskop: Oratilwe Shata.
Hoërskool Ladybrand: 17 – Drieë: Lucky Rathubala (2), Itumeleng Monyatsi. Doelskop: Schori. Hoërskool Hendrik Potgieter: 7 (7) – Drie Boitshepo Nthipe. Doelskop: Nthipe.