SuperSport Schools Plus

Grey beskik net oor te veel skietgoed vir Waterkloof

By Hannes Nienaber , in Rugby | News , at 2019-07-14 Tags: , ,

NEwsGSonwaboSokoyiGrey-kollege se sege van 63-27 oor Waterkloof in Pretoria is ‘n getuigskrif van die skool se uitstekende strukture in sy rugbyprogram. Die span van Bloemfontein moes sonder meer as ‘n handvol spelers klaarkom, maar die spel op die veld het getuig van ‘n geoliede masjien. 

Grey se Tielman Nieuwoudt (vaskopstut), Juan-Dee Olivier (skrumskakel), George Cronjé (agtsteman), Danwich Beukes (slot), Tiaan Jonker (flank) en Lesley Botha (senter) is almal op die krukkelys. Boonop dien die loskopstut, Jan-Hendrik Wessels (twee weke), en die flank/haker Ricardo Fourie (vier weke) skorsings uit na hulle vir vuispel tydens die Cravenweek in Bloemfontein verhoor is. 

Meeste ander skole se eerstespanne sou lamgelê gewees het deur die aantal spelers op die kantlyn, maar nie Suid-Afrika se eie Rugbyfabriek nie. Grey het teen rustyd reeds ‘n stewige voorsprong van 32-6 opgebou en alle aanduidings was daar dat die span soos gewoontlik die krane in die tweede helfte sou oopdraai. 

Hier is waar Waterkloof se troepe hul toetrede tot die wedstryd gemaak het. Die Klofies met sy kaptein en binnesenter, Theunis Pretorius, aan die spits het in die eerste 20 minute van die tweede helfte verwoed geveg om aansien aan hul poging te gee. 

Pretorius het ook welverdiend sy span se eerste drie in die wedstryd gedruk. Hy het ‘n hele paar keer in die eerste helfte bresse in Grey se verdediging geslaan, maar daar was nie genoeg ondersteuning wanneer Grey se dekverdediging hom ingehark het nie.

Grey se heelagter, Sonwabo Sokoyi, in tandem met die twee vleuels, Marcell Muller en Franco Knoetze, het Klofies se verdediging met finesse en krag oopgekloof na willekeur. Muller het ‘n driekuns aan drieë behaal en sy totaal vir die seisoen tot 15 drieë opgeskuif. Sokoyi het self twee keer die doellyn oorgesteek. 

Voorlangs het die agtsteman, Janco Cloete, ‘n uitstaande vertoning opgedis. Hy het twee skitterende lopies deur homself afgerond. Die haker, André-Hugo Venter, slot Sisonke Vumazonke en Deon le Roux kan ook meer as tevrede met hul vertonings voel. 

Voorlangs het die Klofies se agtsteman, Armand Fleidl, stut Franco Groenewald en die slot Lourens de Beer hard in die tweede helfte gewerk om meer balbesit vir hul span te besorg. Klofies se losskakel, Ian Trollip, het ook gewys dat hy oor ‘n geleërde skopskoen beskik. Hy het ‘n hele paar keer met sy lang lynskoppe druk op sy span verlig en ook met al vyf sy stelskoppe pale toe geslaag. 

Grey se naasbestes, die Cherries, het nie veel probleme ondervind om Noordheuwel se eerstespan met 60-19 gekarnuffel. Die vleuel Joubert Schoeman wat een van die eerstespan se drieë gedruk het, het ook ‘n driekuns aan drieë vir die Cherries behaal. 

Puntemakers: 

Grey-kollege 63 (32) – Drieë: Marcell Muller (3), Sonwabo Sokoyi (2), Janco Cloete (2), FC du Plessis, Armand Cavaleiro, Joubert Schoeman. Doelskoppe: Du Plessis (3), Franco Knoetze (2). Strafdoel: Du Plessis. Waterkloof 27 (6) – Drieë: Theunis Pretorius, Lourens de Beer, Armand Fleidl. Doelskoppe: Ian Trollip (3). Strafdoele: Trollip (2). 

Ander spanne: 

o.19 – Cherries 60, Noordheuwel 19; Peaches 59, Waterkloof II 12; Playboys 19, Noordheuwel II 17; Packs 10, Waterkloof III 0; Pigs 73, Noordheuwel III 12; Crocks 36, Waterkloof IV 5; Camels 37, Noordheuwel IV 5. o.16 – Grey-kollege 72, Waterkloof 0. o.15: Grey-kollege 55, Waterkloof 12. o.14: Grey-kollege 81, Waterkloof 0.

KlofieTVKyk Weer
u19AWaterkloof vs Grey-kollegeDigiTVhttps://digitv.co.za/#/video/15320/16326/Vod
u19A/BNoordheuwel vs CherriesDigiTVhttps://digitv.co.za/#/video/15319/16326/Vod
u16AWaterkloof vs Grey-kollegeDigiTVhttps://digitv.co.za/#/video/15318/16326/Vod

[powr-comments id=”174d7554_1563085815892″]

Hannes Nienaber
error: Sorry ol' chap, those shenanigans are not permissible.