Gouties druk stempel af teen Fichardtpark

Goudveld-Hoërskool het Dinsdag hul Wesgrow Sentrale Sportreeks-veldtog met ‘n indrukwekkende sege van 22-19 oor verlede jaar se kampioenspan, Hoërskool Fichardtpark, geopen.
Beleef al die aksie weer op SuperSport Schools – Registreer nou – Skakel na die toernooi
Die Leeus was van meet af op die aanval, maar die tuisspan se kaptein, Ruben Crous, kon daarin slaag om die aanvanklike druk te verlig met sy geoefende skopvoet.
Nadat hulle sowat 15 minute van druk moes absorbeer, was dit die einste Crous wat ‘n gaping gevind het om sy binnesenter, Caleb Lottering, oor te stuur vir die eerste drie van die wedstryd.
Die Gouties het aanhou druk toepas vir haker, Jan Coetzee, om ook te druk, en Crous het die voorsprong vergroot met ‘n langafstand-strafdoel.
Die Fichies se haker, MJ Hattingh, het egter, kort voor die breuk, sy span op die telbord geplaas met ‘n drie na ‘n vlymskerp breekslag deur skrumskakel, Devanté Claasen.
Die Leeus het hul ritme in die tweede helfte begin vind, met Marno Smith wat, na volgehoue druk, nog ‘n drie vir die besoekers kon aanteken.
Losvoorspeler, Thabiso Phafudi en kie het egter uitstekend gevaar daarin om die Bloemfonteiners in die los te frustreer, terwyl Coetzee hulle telkens op die voorvoet geplaas het met sy kraglopies.
Ayanda Quinisa, Fichardtpark se vleuel, het ook uiters effektief verdedig, met Aiden Engelbrecht wat goed vertoon het toe hy later opgekom het in Claasen se plek.
Coetzee het egter sy tweede drie gedruk om die Fichies te bêre, nadat plaasvervanger-skrumskakel, Janco Maass, goed gedoen het om balbesit te behou.
Selfs tóé was die aksie nog nie verby nie, met ‘n onderskepdrie deur die blitsige buitesenter, Duan Viviers, wat die besoekers weer binne trefafstand kon bring. Dit was helaas nie genoeg om die Gouties se vroeë voorsprong in te haal nie.
In Bloemfontein het Hoërskole Jim Fouché en Witteberg spreekwoordelik “sussies gesoen” in ‘n rillerstryd om hul Wesgrow-veldtog met ‘n gelykopstryd van 24-24 af te skop.
Die besoekers het vroeg die voortou geneem met drieë deur Llewellyn Beukes (flank) en Pieter Nel (slot), maar JF het teruggeslaan danksy die effektiewe kombinasie tussen losskakel, Alldrick Johnson, en heelagter, Christian Strydom, wat op ‘n drie deur laasgenoemde uitgeloop het.
Kort daarna het die Bloemfonteiners se voorspelers kragte saamgespan om vir Nathan van Breda oor te dryf, maar skuins voor halftyd het die Witteberg-vleuel, Kenyon Morat, op die teenaanval deurgebreek om weer die bordjies te verhang.
Franco Oberholzer, die tuisspan se flank, en stut, SW van der Merwe, het die veld volgespeel en die buitesenter, Adrian de Necker, het telkens gevaarlik voorgekom met die bal in hand, terwyl Sydwell Sethi (losskakel) en Daniel Meintjies (agsteman) ook uitgeblink het vir die besoekers.
Van der Merwe het twee keer die doellyn oorgesteek om sy span gelyk te laat trek op 24-24.
Dit was ‘n opwindende kragmeting en die eindtelling is waarskynlik ‘n regverdige weerspieëling van die wedstryd, hoewel albei spanne sal voel dat hulle ‘n paar gulde geleenthede verbrou het deur ongedwonge hanteerfoute.
Puntemakers:
Goudveld-Hoërskool 22 (17) – Drieë: Jan Coetzee (2), Caleb Lottering. Doelskoppe: Ruben Crous (2). Strafdoel: Crous. Hoërskool Fichardtpark 19 (7) – Drieë: MJ Hattingh, Marno Smith, Duan Viviers. Doelskoppe: Devanté Claasen (2).
Hoërskool Jim Fouché 24 (14) – Drieë: SW van der Merwe (2), Christian Strydom, Nathan van Breda. Doelskoppe: Alldrick Johnson (2). Hoërskool Witteberg 24 (17) – Driee: Llewellyn Beukes, Pieter Nel, Tshepo Motloung, Kenyon Morat. Doelskoppe: Sydwell Sethi (2).
Ander uitslae
o. 19 – Goudveld II 23, Fichardtpark II 15; Witteberg II 22, Jim Fouché II 19; Goudveld III 26, Fichardtpark III 26; Jim Fouché III 19, Witteberg III 17; Jim Fouché IV 24, Witteberg 10.
o. 16 – Fichardtpark 31, Goudveld 10; Witteberg 25, Jim Fouché 15; Fichardtpark B 19, Goudveld B 0.
o. 15 – Fichardtpark 31, Goudveld 7; Jim Fouché 22, Witteberg 10; Jim Fouché B 33, Witteberg B 10; Fichardtpark B 26, Goudveld B 5.
o. 14 – Fichardtpark 57, Goudveld 0; Witteberg 50, Jim Fouché 0; Witteberg B 38, Jim Fouché B 0; Fichardtpark B 33, Goudveld B 7.