Goudveld en Gimmies beindruk op Brandfort-sportdag
Brandfort. – Die vonke gaan vanjaar behoorlik in die Goudveld spat. Na die Griffon-kampioen, Welkom Gimnasium, en Goudveld-Hoërskool se eerste rugbywedstryde van die seisoen op die 17de jaarlikse Pieter Swanepoel sportdag kan ondersteuners van die twee skole hulle lippe vir vanjaar se ENB Classic Clash tussen die twee spanne aflek.
Gimmies het Louis Botha met 23-8 getroef in ‘n wedstryd waar hulle feitlik die hele tyd in beheer was. Die wedstryd was soos vooraf beloof kliphard met albei spanne wat ook nie bang was om die bal lug te gee nie. Die wenspan se vleuel David Eyssen het al sy span se punte in die eerste helfte aangeteken om met ‘n voorsprong van 13-5 te gaan rus. Eyssen het verlede jaar nog vir Goudveld uitgedraf.
Voorlangs het die Cravenweek-agtsteman, Gift Dlamini, met eer uit sy stryd met Louis Botha se losvoorspelers Jabulani Mtshatsheni en Siyabonga Luwaca getree. Die duo van Louis Botha verdien ook elk ‘n klop op die skouer vir hulle vertonings. Albei het fisiek hul lyf op die spel geplaas en ook ‘n hele paar harde duikslae uitgevoer.
Goudveld se losskakel, Tristan September, was aan die spits van sy span se oorwinning van 31-17 oor Landboudal van Jacobsdal. Hy het nie net twee keer in die eerste helfte gaan druk nie, maar ook die aanvoorwerk vir die vleuel Ricky Frieslaar gedoen. Hy het met vlytige voetwerk telkemale Lanties se verdedigers op die verkeerde voet betrap.
Vir Landboudal het sy agtsteman, Ricus Jonck, met eer uit die stryd getree. Lanties het in die tweede helfte met ‘n terugvegpoging begin, maar September vir Frieslaar oorgestuur het, was die skrif reeds teen die muur. Na die kragmeting bestaan daar geen twyfel dat Goudveld vanjaar oor die skietgoed agterlangs beskik asook die agttal om een van die voorste spanne in die sentrale streek die seisoen te wees nie.
President Steyn van Bloemfontein het vir Ficksburg met 36-14 geklop. Die Steyners het reeds teen lemoentyd ‘n stewige voorsprong van 29-7 geniet waarna die span sy voet van die pedaal in die tweede helfte gehaal het. Die Steyners se agterlyn het in die eerste helfte lus vir hardloop gewees. Veral die senter Niel Smith, heelagter Ryno Nyce en losskakel, Fanie van Heerden, het vir opwindende stukkies spel gesorg.
Voorlangs het die agtsteman, Janco Nel, en slot Andor van Brakel blink vertonings gelewer. Vir Ficksburg was niemand beter as sy losskakel, Ranny Nolan, nie.
Jim Fouche het op sy tuisveld vir Witteberg van Bethlehem met 44-8 ore aangesit. JF het ses drieë ingeryg. Die langeraat slot Ernst Nebe en die flank Tiaan Trollip het met hul inklimspel voorlangs vir die wenspan uitgeblink. Agterlangs het die skrumskakel, Stefan Coetzer, en die heelagter, Joshua Albertse, goed vertoon.
Noord-Kaap het teen Hoërskool Klerksdorp op laasgenoemde se tuisveld hard gewerk om uiteindelik met 22-19 as oorwinnaars van die veld te stap. Northerns se beste speler op die dag was sy buitesenter, Ruan Schultz. Hy was ‘n rots vir sy span op die verdediging, terwyl hy ook ‘n hele paar gevaarlike lopies op die aanval ingekry het.
Puntemakers:
Welkom Gimnasium 23 (13) – Drieë: David Eysen, Gift Dlamini. Doelskoppe: Eysen (2). Strafdoele: Eysen (3). Louis Botha 8 (5) – Drie: Jabulani Mtshatsheni. Strafdoel: Rallston Dreyer.
Goudveld-Hoërskool 31 (19) – Drieë: Tristan September (2), Zane Vorster, Ricky Frieslaar, Ruben Breedt. Doelskoppe: September (3). Landboudal 17 (5) – Drieë: Willem Scholtz, Ricus Jonck, JL Pretorius. Doelskop: CA Menezes.
President Steyn 36 (29) – Drieë: Ryno Nyce, Johnny Khomisi, Luandre Nel, Tienie Meiring, Janco Nel, Jeandre Atkinson. Doelskoppe: Niel Smith (2), Gailin Neels. Ficksburg 14 (7) – Drieë: Ranny Nolan, Athi Konza. Doelskoppe: Nolan (2).
VRIENDSKAPLIK
Jim Fouché 44 – Drieë: Joshua Albertse, Tiaan Trollip, Miles Woolley, Stefan Coetzer, Francois Maree, Flippie Jonck. Doelskoppe: Henco Venter (4). Strafdoele: Venter (2). Witteberg 8.
Noord-Kaap 22 (12) – Drieë: Cameron Hufke, Rian Kotze, Edrich Brand. Doelskoppe: Hufke (2). Strafdoel: Hufke. Hoërskool Klerksdorp 19 (5) – Drieë: Fanie Maree, Michael Venter, Jacques Swanepoel. Doelskoppe: Venter (2).




