Goodman baas van die plaas teen Helpmekaar
Herschelle Goodman, losskakel van Monument, was Saterdag die grootste verskil tussen sy skoolspan en Helpmekaar in hul Virsekerbeker-kragmeting in Krugersdorp.
Goodman het met sy dartellopies drie keer Helpies se verdediging oop gekloof om sy span tot ‘n sege van 41-31 te help. Monnas het teen die omdraaislag al ‘n voorsprong van 19-0 geniet.
Goodman het met sy vertoning ook tong vir die Goue Leeus se keurders uitgesteek. Die losskakel moes vir die Leeus se XV-tal tydens die Cravenweek uitdraf, terwyl sy direkte teenstander van Helpies, Tiaan Botes, in die Rooibontes se uitsoekspan was.
Buiten Goodman was sy kaptein en buitesenter, Henco van Wyk, soos gebruiklik ook op sy stukke en het hy ‘n paar keer soos ‘n warm mes deur botter deur Helpies se verdediging gesny.
Helpmekaar beklee ondanks die nederlaag steeds die boonste posisie op die puntelys, maar Monument het waarskynlik met die sege seker gemaak dat hy ook ‘n plek in die uitspeelrondes sal hê.
Vir Helpmekaar het sy haker, Ricardo van der Merwe, in die los gewoel.
Garsfontein was in ‘n vernietigende bui in Boksburg teen EG Jansen. Die Garsie Bere het die Jansies met 80-38 op sy tuisveld afgestof. Die besoekers vanuit die Jakarandastad het teen rustyd reeds ‘n allemintige voorsprong van 40-5 opgebou.
Hoe Garsfontein se buitesenter, Devoux Deysel, nie ‘n plek in enige van die Blou Bulle se verteenwoordigende spanne gekry het nie, sal net die keurders weet. Deysel het drie keer die tuisspan se doellyn oorgesteek na hy uitgehonger vir aksie tydens die skoolvakansie geraak het.
Garsies se breier, Johan du Plessis, het besluit om van sy sleutelspelers ‘n ruskans in die tweede helfte te gun. Voorlangs het Garsies se vaskopstut, Gerhard van der Merwe, haker Manie Potgieter en die slot en kaptein, Raynard Roets, die pap behoorlik dik aangemaak. Agterlangs kan die skrumskakel, Jurich Claassens, en die heelagter, Zeilinga Strydom, ook maar effe breëbors rondloop.
Menlopark het ook nie veel genade vir sy besoekers vanuit Vanderbijlpark, Transvalia, gehad nie. Die Parkies het die kragmeting met 71-24 gewen.
Die tuisspan se losskakel, Marcelle Deysel, het ‘n uitmuntende dag op die rugbyveld beleef. Hy het 26 punte tot sy span se sege bygedra. Het het twee keer die doellyn oorgesteek en ook agt van sy span se 11 drieë verdoel. Die haker, Enrique Courtriers en albei vleuels Nsuku Baloyi en Ulrich Wiese het almal ook soos Deysel dubelle driedruk-plesier ervaar.
Wiese se tweekuns sou bittersoet gewees het, want hy het verlede jaar nog vir Transvalia se eerstespan uitgedraf.
Puntemakers:
Monument 41 (19) – Drieë: Herschelle Goodman (3), KG Nyamande, Kyle Schultz, Reuben Barnard, Luan van der Walt. Doelskoppe: Franco Hallet (3). Helpmekaar 31 (0) – Drieë: Ricardo van der Merwe (2), Christiaan Bezuidenhout, Divan Esterhuizen, Aidan Parsons. Doelskoppe: Tiaan Botes (3).
Garsfontein 80 (40) – Drieë: Devoux Deysel (3), Rowan Cloete (2), Gerhard van der Merwe, Dillon Olckers, AJ Johnson, Jurich Claassens, Raynard Roets, Stefan Terblanche, Manie Potgieter. Doelskoppe: Wikus Basson (8), Cloete (2). EG Jansen 38 (5) – Drieë: Brandon Pienaar, Franco Enslin, Leshley October, Dwayne Lubbe, Jonathan Redelinghuys, Tylon Kotze. Doelskoppe: Kyle Potgieter (3), Duan Bloem.
Menlopark 71 (26) – Drieë: Enrique Courtriers (2), Nsuku Baloyi (2), Ulrich Wiese (2), Marcelle Deysel (2), Nolan Pienaar, Enrique Steffen, Ruan van der Walt. Doelskoppe: Deysel (8). Transvalia 24 (0) – Drieë: Franco Wagner, Marnus Theunissen, Shaun Christie, Bernard du Plessis. Doelskoppe: MC Dippenaar, Christie.
Ander spanne:
o.16: EG Jansen 17, Garsfontein 14; Menlopark 50, Transvalia 0; Monument 36, Helpmekaar 22.
o.15: Helpmekaar 8, Monument 7; Garsfontein 19, EG Jansen 12; Menlopark 19, Transvalia 7.
o.14: Garsfontein 29, EG Jansen 0; Menlopark 12, Transvalia 0; Monument 22, Helpmekaar 17.
![]() | Kyk Weer | |||
| o.19A | EG Jansen vs Waterkloof | https://digitv.co.za/#/video/15321/16338/Vod | ||
[powr-comments id=”c1780e1d_1563088064409″]





