SuperSport Schools Plus

Gimmies werk hard vir sege van 12-6 oor Stellenberg

By Hannes Nienaber , in Rugby | News , at 2022-03-18 Tags:

NewsGLiamKoenPaarl Gimnasium het sy seisoen met ‘n sege van 12-6 oor die Hoërskool Stellenberg afgeskop, maar dit was nie sonder rukke en stote nie. Gimmies het teen rustyd ‘n voorsprong van 12-0 geniet. 

Die voorsprong kon heelwat groter gewees het, maar verspeelde kanse in die eerste helfte het Gimmies heelwat punte op die telbord gekos. Die besoekers vanuit die Paarl het binne die eerste vyf minute van die kragmeting drie keer die doellyn oorgesteek sonder om daarin te slaag om ‘n drie te druk. 

Die Gimmies se agttal sou met hul vertoning vir die afrigters Pieter Rossouw en Helmut Lehmann, rede gegee het om te glimlag. Hulle het in die lynstane asook in die skrums die oorhand oor die Jade Brigade gehad. Dit was veral die slot Keanu Coetsee wat met sy rankwerk in die lynstane beïndruk het. 

Die haker, Luca Bakkes, het ook ‘n stewige vertoning in die vastelos asook in die vaste fasette gelewer. In die vastelos was dit egter die flank Dean Crous wat met sy werksverrigting die toon aangegee het. 

Al agt voorspelers van die wenspan verdien egter ‘n klop op die skouer. As dit nie vir hul oorheersing voorlangs was nie, het die telbord dalk ‘n ander storie vertel. 

Agterlangs het die losskakel, Liam Koen, met sy balverspreiding asook lang lynskoppe gewys dat hy reg is om vanjaar om sy reputasie gestand te doen. 

Stellenberg se flank Wessel Joubert was vir sy span menigte keer goud werd op verdediging. Hy was ‘n hele paar keer die man wat die laaste duikslag op die punte uitgevoer het om te verhoed dat Gimmies hul voorsprong rek.  Die Jade Brigade se afrigters, Divan Batt en Corné Kannenmeyer, sal tevrede met hul span se vertoning voel. 

Veral in ag genome dat hul span se volgende taak is om Grey-kollege van Bloemfontein volgende week tydens die NMI Toyota Noord/Suid-toernooi die stryd aan te sê. 

Puntemakers: 

Paarl Gimnasium 12 (12) – Drieë: Emrique Liedeman, Luca Bakkes. Doelskop: Liam Koen. Stellenberg 6 (0) – Strafdoele: Tommie Smook (2). 

[powr-comments id=”e1e3dacd_1647621012006″]

Hannes Nienaber
error: Sorry ol' chap, those shenanigans are not permissible.