SuperSport Schools Plus

Gimmies pluk Struisies se vere in FNB Classic Clashes-stryd

By Willem Louw , in Rugby | Featured Rugby | News , at 2024-05-13 Tags: , ,

FOTO: Mike de Kock

Langenhoven Gimnasium het op verlede jaar se sukses voortgebou deur nogmaals as oorwinnaars uit die stryd te tree in hul FNB Classic Clashes-kragmeting met die naburige Hoërskool Oudtshoorn.

Beleef al die aksie weer op SuperSport Schools – Registreer nou Skakel na die wedstryd

Verlede jaar was die Gimmies met 41-33 baas, maar die Oudtshoorn-derby bied elke jaar ‘n splinternuwe uitdaging en Langenhoven moes uithaal om vanjaar vir Oudtshoorn met 31-20 te verslaan.

Die vonke het vanaf die eerste afskop gespat met die Struisies se massiewe pak wat die bal met mening oor die voordeellyn gedra het, maar die tuisspan het sterk bly staan om hul doellyn suksesvol te verdedig. Nadat Oudtshoorn die eerste halfuur oorheers het, was dit Langenhoven-losskakel, Cade Ayford, wat met ‘n vlymskerp teenaanval die eerste drie kon aanteken.

Sy direkte teenstander, Sidey Lourens, het daarna die Struisies se rekening oopgemaak met ‘n strafdoel, maar nóg ‘n drie deur Gimmies se lewendige skrumskakel, Jayden Arends, het die halftydtelling op 10-3 te staan gebring.

Lourens is een van drie van die Hoërskool Oudtshoorn spelers in vanjaar se SWD Akademieweek groep. Geo Bruintjies, en Naydon Jackson is ook in daardie groep.

Sinebongo Moyeni, Kamvaletu Ndoda, Logan Jantjies en Brad Avontuur verteenwoordig die Struisies by die Cravenweek vanjaar.

Michael Smit het vroeg in die tweede helfte oorgebeur en Evan Delport het ‘n losbal toegeduik om die voorsprong na 24-3 te rek.

Waylinn Mc Dillon het ‘n begeesterde terugvegpoging geloods vir die Struisies met hul eerste drie, maar ‘n intelligente steekskoppie deur Arends vir Tamrin Pietersen om op te raap en oor te duik het daardie vyf punte bykans onmiddelik uitgekanselleer.

Die besoekers het nietemin aanhou druk toepas op die Gimmies se verdedigingslinie, en was beloon met twee pragdrieë deur Neavon Jackson en Ronaldo Prins wat hul telling na 20 opgestoot het. Teen daardie tyd het die tuisskare se jolyt egter reeds ingeskop.

Puntemakers

Langenhoven Gimnasium 31 (10) – Drieë: Cade Ayford, Jayden Arends, Michael Smit, Evan Delport, Tamrin Pietersen. Doelskoppe: Arends (3) Hoërskool Oudtshoorn 20 (3) – Drieë: Waylinn Mc Dillon, Neavon Jackson, Ronaldo Prins. Doelskop: Prins. Strafdoel: Sidey Louwrens.

Ander tellings

o.19 – Langenhoven Gimnasium II 33, Oudtshoorn II 0.

o.16 – Langenhoven Gimnasium 52, Oudtshoorn 12.

o.15 – Langenhoven Gimnasium 22, Oudtshoorn 12.

o.14 – Hoërskool Oudtshoorn 17, Gimnasium 5.

FOTO: Mike de Kock
Willem Louw
error: Sorry ol' chap, those shenanigans are not permissible.