Gimmies kan ‘n reuse aanslag van Gouties in Shimla-eindstryd te wagte wees
Goudveld-Hoërskool se eerste rugbyspan sal sy beste vertoning van die seisoen, jammer waarskynlik ten minste die afgelope dekade moet opdis indien hy Saterdag as kampioen van die Kovsie-streekkompetisie se Shimla-liga gekroon wil word.
Die Gouties kom teen die verdedigende kampioen, Welkom Gimnasium, in die eindstryd op Shimlapark om 14:40
Die twee aartsvyande het mekaar al twee keer vanjaar op die rugbyveld die stryd aangesê. Die twee spanne het met 22-elk gelykop in die Griffon-eindstryd gespeel, maar Gimmies het laaste gelag omdat hulle eerste in die kragmeting gaan druk het.
In die ligawedstryd wat ook die jaarlikse FNB Classic Clash is, het Gimmies gemaklik met 43-16 as oorwinnaars van die veld gestap. Gouties kon laas in 2014 (36-18) daarin slaag om Welkom Gimnasium te troef.
Gimmies word versterk deur sy kaptein en agtsteman, Keke Morabe, wat weer sy plek aan die agterkant van die skrum sal inneem. Morabe het die halfeindstryd van die Shimla-liga teen Duineveld weens sy betrokkenheid by die SA Skole-span misgeloop.
Gimmies het vir Duineveld van Upington met 44-15 in die halfeindronde verslaan om sy plek in die eindstryd te bespreek. Gouties het vir die eerste keer tot die eindstryd deurgedring na die Vrystaatse kampioen, die Hoërskool Sentraal, met 59-28 omgedop het.
Goudveld het met dié sege ook behoorlik die bordjies teen die Tralies verhang na hy vroeër die knie met 24-34 teen Sentraal tydens die Wesgrow-liga gebuig het. Gouties het vroeër vanjaar in die halfeindronde van die Griffon-liga teen Voortrekker van Bethlehem ook die bordjies met 38-17 verhang. Die Trekkers het die ligawedstryd tussen die twee spanne naelskraaps met 39-38 gewen.
Gouties se sleutelspelers sal sy kaptein en skrumskakel, JC Allan, wees. Hy sal sy span moet aanvuur om met ‘n uitsonderlike vertoning vorendag te kom. Die agtsteman, Jubaren Adriaan, sal moet probeer om Morabe soveel as moontlik uit te skakel. Allan se skakelmaat, Dylan Smith, kan ook met sy dartellopies vir Gimmies probleme besorg.
Morabe kan goeie ondersteuning van sy twee flanke, Calla Pienaar en Christo Steyn, verwag.
Een ding is seker die Kovsiestreek-kompetisie se Shimla-liga se trofee sal vir die volgende jaar steeds in Welkom staan.
Die spanne is:
Welkom Gimnasium: 15 Marchall Andrews, 14 Morné Maastriet, 13 Jaime Heynes, 12 Keith van Aswegen, 11 Marno April, 10 Bennie Human, 9 Shaquille van Heerden, 8 Keke Morabe (kaptein), 7 Calla Pienaar, 6 Christo Steyn, 5 Husain Banzi, 4 Tandikaya James, 3 Franco-Lee Ceaser, 2 Martley Bayman, 1 Johan Pretorius.
Goudveld-Hoërskool: 15 Jacquin Bailey, 14 Marius Hechter, 13 Jaco Weideman, 12 Vian Benson, 11 Elcurtis Lewack, 10 Dylan Smith, 9 JC Allan (kaptein), 8 Jubaren Adriaan, 7 Dylan Pretorius, 6 Neil Harmse, 5 Rian Olivier, 4 Henricht Cloete, 3 Eckhard Malan, 2 JP Knoessen, 1 Alistair O’Brien.
Skeidsregter: Tiaan Steyn (Vrystaatse Skeidsregters-vereniging).
[powr-comments id=”6523954e_1566574047797″]




