Gimmies glip by agterdeur in, Kempies kook

In ‘n week waar die kolf die oorhand oor die bal geniet, is daar steeds ruimte vir naelbytstryde soos dié tussen die gasheer, Potchefstroom Gimnasium, en Westville Boys’ High se Stayers-span op die tweede dag van die Izintaba Gimmies-Krieketfees.
Herleef al die aksie op SuperSport Schools – (www.supersporschools.com)
‘n Uitstaande boulvertoning, gelei deur die Gimmies se Henré Cronje, het verseker dat die gasheer met slegs vyf lopies by die agterdeur kon inglip. Cronje se syfers van 3/20, ondersteun deur Jahndré Coetzee (2/18) en Bennet Keet (2/33), het die Durbaniete vir 151 uitgeboender.
Dit nadat die Gimmies hard moes spook om hul weg tot 156 almal uit te vind. Dit was grotendeels te danke aan ‘n waardevolle beurt van 37 lopies deur James Wood. Coetzee was ook met die kolf ‘n uitblinker en het vir Wood ondersteun met ‘n bydrae van 24 lopies.
Westville se aanvangsbouler, Lwandle Bulose, het die meeste skade aangerig, deur drie paaltjies vir 38 lopies te laat kantel. Declan Boyton het homself ook goed van sy taak gekwyt met syfers van 2/32 in die vyf beurte wat hy afgestuur het.
Ronay Pillay was die beste kolwer op die dag met 64 lopies van 82 aflewerings wat so hittete die Gimmies se ondergang beteken het. Jahndré Coetzee het egter tot sy span se redding gekom deur vir Pillay pawiljoen toe te stuur
Hoërskool Kempton Park se kolwers was weer op hul stukke, met hul toporde wat ligte werk gemaak van die teiken van 203 wat Hoërskool Marais Viljoen vir hulle gestel het. Sheldon Kruger was die Kempies se uitblinker en het slegs 79 balle nodig gehad om sy bydrae van 91 lopies, nie uit nie, te bereik.
Floors Mynhardt was kort op sy hakke met ‘n goed gebalanseerde en onoorwonne beurt van 83. Hy en Kruger het indrukwekkend gekombineer vir ‘n vennootskap van 169 lopies.
Marais Viljoen se Jamie Northcott het ook die lopies ingeryg. Die aanvangskolwer het teen ‘n stewige tempo vir sy 76 lopies gekolf, terwyl Abdullah Tadwala ook sy waarde in die middelorde tentoongestel het deur ‘n verdere 41 lopies op sy kerfstok te plaas.
Paarl Gimnasium se toporde het, nes die Kempie-kolwers, hul tyd in die middel teen Hoërskool Rustenburg optimaal benut. Die besoekers van die Paarl se Charles King en Koch van Eyssen was uitstaande deur albei die 100-kerf verby te steek en te verseker dat Gimmies ‘n reusetelling van 328/6 in die toegelate 50 beurte kon opstel.
King was hul voorste kolwer met ‘n onoorwonne 107 lopies van 96 aflewerings. Van Eyssen het ook die skote laat klap met die kolf en, al het hy op sewe gekolf, steeds genoeg tyd gehad om 101 lopies aan te teken. Hy het slegs 49 balle nodig gehad en sy beurt het agt viere en sewe sesse ingesluit.
Die Rusties se Nathan Rossouw (47*) en Zandré Diedericks (41) het hard probeer om die kastaiings uit die vuur te krap, maar Gimmies se vertoning met die bal, gelei deur die draaier, Zaid Abrahams (3/19), was net té goed. Die Rustenburgers moes uiteindelik tevrede wees met ‘n telling van 231/9.
Beknopte telkaarte:
Potchefstroom Gimnasium 156 (James Wood 37, Ekstras 32, Jahndré Coetzee 24; Evan du Toit 3/23, Lwandle Bulose 3/39, Declan Boynton 2/32); Westville Stayers 151 (Ronav Pillay 64; Henré Cronje 3/20, Jahndré Coetzee 2/18, Bennet Keet 2/33). Potchefstroom Gimnasium wen met ses lopies.
Marais Viljoen 202 (Jamie Northcott 76, Abdullah Tadwala 41, Rieshaeel Hashim 26; Keaden Posthumus 3/38, Warren Pretorius 3/39, Wian Pieters 2/22); Hoërskool Kempton Park 203/1 (Sheldon Kruger 91*, Floors Mynhardt 83*, Wian Pieters 20; Jordan Baijnath 1/51). Kempton Park wen met nege paaltjies.
Paarl Gimnasium 328/6 (Charles King 107*, Koch van Eyssen 101*, Adriaan Louw 50, Wian Munnick 25; Thian Labuschagne 3/58); Hoërskool Rustenburg 231/9 (Nathan Rossouw 47*, Zandré Diedericks 41, Callie Fryer 28, Thian Labuschagne 26, Tristan van der Linde 24; Zaid Abrahams 3/19, Waldus de Jager 2/38, Charles King 2/53). Paarl Gimnasium wen met 97 lopies.