SuperSport Schools Plus

Gimmies en Trekkers deur tot Griffon-eindstryd

By Hannes Nienaber , in Rugby | News , at 2016-08-09

Welkom Gimnasium het sy spiere behoorlik in die halfeindronde van die Griffon-liga Vrydag in die HT Pelatona-stadion in Welkom gebult. Die verdedigende kampioen het Witteberg van Bethlehem met 52-8 uit die pad gestamp.

Gimmies sal in die eindstryd van die Griffon-liga sy titel as kampioen teen Voortrekker van Bethlehem verdedig.

Dit was veral die span se Cravenweek-buitesenter, Lubabalo Mtyeshi, wat te veel vrae aan die Wittes se verdedeging gevra het. Hy het vier keer oor die doellyn gebars.

Die kantman JJ Scheepers het die bal uitstekend gedra en sy span op die voorvoet gehou. Almal in die Griffon-liga weet ook hoe gevaarlik Gimmies se skrumskakel, Richman Gora, kan wees as sy span op die voorvoet is. Gora het hom gister by die SA Skole-span in Kaapstad aangesluit.

Gimmies se agtsteman, Gift Dlamini, verdien ook ’n klop op die skouer vir sy vertoning.

Vir Witteberg het sy agtsteman Cronjé Meiring en voorryman JW Meades voorlangs goeie spel gelewer.

In die agterhoede kan die vleuel PJ Jonker en skrumskakel, Jason Roux, tevrede met hul vertonings voel. 

Voortrekker moes harder werk om sy halfeindstryd teen Goudveld-Hoërskool met 39-24 te wen. Die span se losvoorspelers Michael Janse van Rensburg en Wessel van Huysteen het voorlangs Gouties se gal gewerk. Die span se skitterende heelagter, Marco Labuschagné, was ook op sy stukke. Hy is vir sy goeie spel met twee drieë beloon.

Die Hoër Landbouskool Hendrik Potgieter van Reddersburg het in slegs sy tweede jaar in die B-afdeling daarin geslaag om die eindstryd te haal. Die span wat deur Dawie Pretorius en Christie Swarts gebrei word het Brandfort met 22-12 in die halfeindstryd verslaan.

Reddersburg se groot held in die sege was sy losskakel, Jeandré Rautenbach. Die wenspan het teen lemoentyd reeds ’n stewige voorsprong van 12-0 opgebou.

Sy teenstander in die eindstryd, St. Andrew van Bloemfontein, is sonder twyfel die gunsteling om as kampioen gekroon te word. Saints het die liga onoorwonne met bonuspunte in al sy wedstryde afgesluit.

Die span het ook in sy halfeindstryd teen Sand du Plessis gemaklik met 41-20 as oorwinnaars van die veld gestap. Sannies was met die telling op 20-17 in Saints se guns nog met rustyd in die wedstryd.

Die sege is voorlangs deur Saints se agttal gelê met sy losskakel, Michael Maree, wat spel dikteer het. Die skrumskakel, Jacques de Bruin, was egter sy span se beste speler in die halfeindronde wat op President Steyn se Gonval Store-park beslis is.

Puntemakers: 

Voortrekker 39: Drieë: Marco Labuschagné (2), Hercu Breitenbach, Jonathan Allison, Michael Janse van Rensburg. Doelskoppe: Louis Viljoen (4). Strafdoele: Viljoen (2). Goudveld-Hoërskool 24: Drieë: AJ Jacobs, Lorenzo Cloete, Zane Vorster. Doelskoppe: Cloete (3). Strafdoel: Cloete.

Welkom Gimnasium 52 (28): Drieë: Lubabalo Mtyeshi (4), Gift Dlamini, David Eyssen, Kyle Els, Richman Gora. Doelskoppe: Andrew Kota (5), Jason Wagman. Witteberg 8 (3): Drie: Cronjé Meiring. Strafdoel: George Spershott.

Hoër Landbouskool Hendrik Potgieter 22 (12): Drieë: Boeta Godbeer (2), Jeandré Rautenbach. Doelskoppe: Rautenbach (2). Strafdoel: Rautenbach. Brandfort 12 (0): Kyle Waite, Jaco Tukker. Doelskop: Francois Fourie.

St. Andrew 41 (20): Drieë: Jacques de Bruin (2), Sean Newberry, Christoffel de Lange, Ryan Smith, Dylan de Jager. Doelskoppe: Michael Maree (4). Strafdoel: Maree. Sand du Plessis 20 (17): Drieë: Katleho Moletsane, Nicky Hattingh. Doelskoppe: William Bloem (2). Strafdoele: Bloem (2).

Hannes Nienaber
error: Sorry ol' chap, those shenanigans are not permissible.