Gimmies en Gouties behaal belangrike seges
Welkom-Gimnasium is die enigste onoorwonne span in die Griffon-liga oor en Goudveld-Hoërskool het met ‘n naelskraapse sege van 23-22 oor Witteberg van Bethlehem homself ook as een van die vroeë aanspraakmakers gevestig.
Gimmies het self gesweet om vir die Afrikaanse Hoërskool Kroonstad met 23-22 te uitoorlê. Die wenspan het met die omdraaislag ‘n goeie voorsprong van 17-7 geniet.
Rooiskool se skrumskakel, Duncan Horak, was uitmuntend. Hy het die oond seepglad skoongemaak en ook met sy breekslae vir Gimmies problem besorg. Hy is vir sy goeie spel met twee drieë beloon. Hy het ook op die verdediging ‘n belangrike rol in sy span se vertoning vertolk.
Voorlangs het die slotpaar, Ettienne O’Donovan en Michiel Bosman, saam met die agtsteman, Johan Steyn, goeie spel gelewer. Steyn het ‘n hele paar goeie lopies met die bal onder die arm ingekry.
Gouties het Witteberg sy tweede nederlaag van die liga in Bethlehem. Dit was ook die span van Bethlehem se tweede nederlaag op sy tuisveld in vanjaar se Griffon-liga. Vanjaar is gewis die Welkomse skole se sterkte aanslag op die titel as kampioen in ‘n aantal jare. HTS Welkom was in 1998 die laaste span van Welkom wat die titel kon verower.
Hentie Cilliers se afrigter, Andries Kruger, sou ‘n paar spanningsvolle oomblikke in sy span se sege van 33-13 oor HTS Welkom beleef het. Die Tekkies was met nog 20 minute se spel oor in die wedstryd met 13-12 voor.
Boonop het HTS se Griffon Cravenweek-senter van verlede jaar, Siya Ngxesha, vanuit sy eie kwartgebied weggebreek, maar is deur Henties se flank, Gift Dlamini, net kort van die doellyn ingehaal en platgetrek. Indien Ngxesha hier gaan druk het sou die skrif aan die muur vir die span van Virginia gewees het.
Henties se puik losskakel, Dominic Smit, het vier keer die doellyn oorgesteek en ook met vier doelskoppe geslaag vir ‘n persoonlike bydrae van 28 punte.
Voortrekker van Bethlehem het goeie spel in die eerste helfte gelewer om Hoërskool Kroonstad met 26-8 te verslaan. Die wenspan het reeds met lemoentyd ‘n voorsprong van 26-3 opgebou.
Die span se buitesenter, Donovan Bouwer, was een van sy span se sterre gewees. Hy het ook twee keer die doellyn oorgesteek. Die linkervleuel, JJ Lombaard, het ook ‘n hele paar goeie lopies ingekry.
Voorlangs kan die stut Pieter Kleynhans en haker, Tiaan van Zyl, maar vandag ook breebors rondloop.
Vir Blouskool het sy twee slotte, Jaco van Oudtshoorn en Johan la Grange, soos gewoontlik onder die staatmakers getel. Die flanke, Jan-Louis du Plessis en Hendré Bolton, het ook goeie spel opgedis.
Agterlangs verdien die vleuel TP Kleinhans en binnesenter, Mervin Touzel, elk ‘n klop op die skouer.
Puntemakers:
Welkom-Gimnasium 23 (17) – Drieë: Danie Hendricks, Ezrick Alexander. Doelskoppe: Luan James (2). Strafdoele: James (3). AHS Kroonstad 22 (7) – Drieë: Duncan Horak (2), Louis Steyn. Doelskoppe: Corné Cooper (2). Strafdoel: Franco Froneman.
Witteberg 22 – Drieë: Cronjé Meiring, Dean Bubb, Jason Roux. Doelskoppe: Tiaan Schoonraad (2). Strafdoel: Schoonraad. Goudveld-Hoërskool 23.
Voortrekker 26 (26) – Drieë: Donovan Bouwer (2), Bertus Kleynhans, Etienne Becker. Doelskoppe: Becker (3). Hoërskool Kroonstad 8 (3) – Drie: Lenku Oosthuizen. Strafdoel: Henro de Vos.
Hentie Cilliers 33 (12) – Drieë: Domenic Smit (4), Gift Dlamini. Doelskoppe: Smit (4). HTS Welkom 13 (8).




