SuperSport Schools Plus

Giftige Monnas, Dinamika haaks in Alberton

By Franco Oberholzer , in Cricket | Featured Cricket | News , at 2025-01-30 Tags: , , , , , , ,

FOTO: Hoërskool Monument op Facebook.

Die volgende ronde in die Finsbury-reeks se C-afdeling bied ‘n gulde geleentheid vir Hoërskool Dinamika om terug te keer na die wenpad.

Volg al die aksie regstreeks op SuperSport Schools(www.supersportschools.com)

Die span van Alberton is oorgehaal om die gevaarlike Hoërskool Monument op tuisbodem te ontvang. Die Monumentare het hul veldtog die week vantevore op uitstekende wyse geloods deur vir Hoërskool Lichtenburg met 64 lopies te verslaan.

Die Monnas-kolwers is duidelik netjies op dreef, met Zian Maritz, die Krugersdorpers se voorslagkolwer teen die Liggies, wat weer ‘n groot gevaar inhou met die wilgerlat.

Ten spyte daarvan dat hy in die vorige ronde teen ‘n omgekrapte Zwartkop-span vasgeval het, het Dinamika self sy reeks op ‘n hoë noot afgeskop deur oortuigend met Midstream College, een van die gunstelinge in die afdeling, af te reken. Jadin Schlebusch is besig om sy voete te vind voor die paaltjies en, met albei spanne se kolflyste wat besaai is met talent, kan die lewe taamlik interessant raak vir die boulers.

Hoërskool Pietersburg geniet uiteindelik tuisveldvoordeel wanneer die span van Limpopo vir Hoërskool Lichtenburg in Polokwane verwelkom. Die Pieties, alhoewel hulle reeds nederlaag geproe het vanjaar, beskik steeds oor ‘n uiters sterk span op papier, met hul veelsydige kaptein, Dian Gouws, en Cilliers van der Merwe wat die Liggies talle hoofbrekens kan besorg.

Douw Jacobs, die besoekers se beste speler tot dusver, sal die geleentheid in Polokwane wil aangryp om waardevolle punte vir sy span op die puntelys te plaas.

Centurion kan uitsien na ‘n opwindende stryd tussen die kookwater Hoërskool Zwartkop en Midstream College. Albei spanne het hul vorige kragmetings met afgeronde spanvertonings oorheers. Hierdie week behoort ‘n klipharde stryd tussen die kolwers af te gee op die kolfvriendelike blaaie van die Hoëveld. Die Zwarries sal vasbeslote wees om dit drie uit drie te maak, maar die besoekers sal alles in die stryd werp om die tuisspan se segetog te beëindig.

Bepalings:

Week 3:
Dinamika t. Monument
Hoërskool Pietersburg t. Hoërskool Lichtenburg
Zwartkop t. Midstream College

Franco Oberholzer
error: Sorry ol' chap, those shenanigans are not permissible.