Giftige Klerksdorp kan Rooi Bulle ‘n week vroeg onttroon


Dit was Tiaan Koen wat verlede week met sy bepalende bonuspuntdrie in die doodsnikke vir Hoërskool Klerksdorp hierdie week ‘n tuishalfeindstryd beklink het.
Volg al die SDC Noordvaal Plaat-aksie regstreeks op SuperSport Schools – (www.supersportschools.com)
Hoewel die Klerksdorpers met 24-25 teen Hoërskool Zwartkop die knie gebuig het, het hulle nietemin genoeg gedoen om Saterdagmiddag gasheer te speel vir HTS Middelburg in die een halfeindstryd van die SDC Noordvaal Cup se Plaat-afdeling.
Die Rooi Bulle, wat die verdedigende kampioen is nadat hulle die titel met Hoërskool Transvalia gedeel het in 2024, was op koers om die Klerksdorpers tuis in Middelburg te verwelkom, voor Koen se heldedaad.
Dit is juis die einste Koen wat ‘n groot bedreiging vir die besoekers Saterdag inhou. Koen en slot, Abrie Esterhuizen, was Klerksdorp se vernaamste staatmakers deur die loop van die seisoen, terwyl Dorian Isaacs se skuif na losskakel ook die beste uit hom gebring het. Winton Abrahams, op buitesenter, kan ook ‘n deurslaggewende faktor vir die tuisspan wees indien hulle hoop om die Rooi Bulle ‘n week vroeg as kampioen te onttroon.
Dit gaan nie ‘n maklike taak wees nie, met ysters soos Janco Aucamp (slot), Hanru Terblanche (haker) en Tercuis Bezuidenhout (agsteman) wat uitmuntende vertonings gelewer het in verlede jaar se eindstryd. Dié drietal se ervaring, saam met die leierskap van senter en kaptein, Johnny Dos Santos, sal Saterdag goud werd wees.
Dos Santos het heelwat om voor te speel, aangesien hy nie deel gehad het in verlede jaar se eindstryd nie en ook die grootste gedeelte van die huidige seisoen weens ‘n gebreekte been misgeloop het. Sy tweestryd met Abrahams in die middeveld, sowel as Terblanche se kanonpoot, kan beslissend wees.
Die wenner van Saterdag se stryd in Klerksdorp sal teen óf die onoorwonne Zwartkop óf ‘n gevaarlike Hoërskool Middelburg in die eindstryd te staan kom.
Die spanne:
Hoërskool Klerksdorp t. HTS Middelburg om 12:45 in Klerksdorp
Hoërskool Klerksdorp: 15 Brendin Matthyse, 14 Xander Smit, 13 Winton Abrahams, 12 Jarred van Staden, 11 Elzeno Schalkwyk, 10 Dorian Isaacs, 9 Rellston Wilson, 8 Tiaan Koen, 7 Marnus van der Merwe, 6 D-Jee Treurnich, 5 Juan Hills, 4 Abrie Esterhuizen, 3 Brandon Botha, 2 De Wet Le Roux, 1 Zander Nienaber.
HTS Middelburg (moontlik): 15 Wynand Cronje, 14 Reynard Snyders, 13 Jacques Greyling, 12 Johnny Dos Santos, 11 CJ Muller, 10 Dante Lubbe, 9 Reece Botha, 8 Tercius Bezuidenhout, 7 Ethan Kock, 6 Argu Kruger, 5 Andrea De Wet, 4 Janco Aucamp, 3 Marinus Oberholzer, 2 Hanru Terblanche, 1 Janco Botha.
Afskoptye van Junior spanne in Klerksdorp:
o.16: 11:20 – Oos-Moot t. Kempton Park.
o.15: 10:10 – Zwartkop t. Wesvalia.
o.14: 09:00 – Hoërskool Middelburg t. Hoërskool Kempton Park.