Gewonde Wit Bulle sal vandag appeltjie met die Garsie Bere wil skil

Die Turkoois Bere draf waarskynlik vandag teen Affies vir die eerste keer in die geskiedenis as die gunstelinge op die veld.
Die Hoërskool Garsfontein se eerstespan het verlede jaar vir die eerste keer ooit daarin geslaag om Affies se Wit Bulle te klop toe hy met 20-19 as oorwinnaars van die veld gestap het.
Vandag se wedstryd kan regstreeks op SuperSport Schools (www.supersportschools.com) gekyk word.
Die etiket as gunstelinge is egter nie so breed as wat die woord lank is nie. Die Wit Bulle sal ongetwyfeld op hul tuisveld soos liewer soos ‘n gewonde buffel wees na verlede jaar se nederlaag. Boonop sal verlede jaar se nederlaag nog vars in alle Affies se geheue sit.
Die Bere sover vanjaar onoorwonne met sy sege van 34-29 oor Stellenberg tydens die NMI Toyota Menlyn Noord/Suid-toernooi wat waarskynlik hul taaiste kragmeting tot dusver was.
Die Garsies het waarskynlik die taaiste Wildeklawer-toernooi wat voorlê met ontmoetings met Grey-kollege en Outeniqua oor drie dae wat wag.
Affies het vanjaar nog net een keer die knie gebuig en dit was in die klipharde tweestryd met die Hoër Jongenskool Paarl (19-26). Die Wit Bulle het egter blink vertoon in hul seges oor Helpmekaar (41-33) en Durban High School (25-24).
Die tuisspan sal waarskynlik vandag hoop dat sy rolmaalbewegings vanaf sy lynstane glad verloop. Affies haker, FC van Rooyen, sal hier ‘n belangrik rol vertolk. Ander sleutelrolspelers vir die Wit Bulle vandag sal Migael de Lange (heelagter), Janko Purchase (binnesenter) en Dieter Schubert (agtsteman) wees.
Dit is veral die tweestryd tussen Schubert en sy direkte teenstander en die Bere se kaptein, Abri van der Westhuizen, wat fyn dopgehou sal word. Albei behoort vanjaar die Blou Bulle se Cravenweek-span na George te haal, een van hulle sal egter na die kant van die skrum moet skuif.
Van der Westhuizen vorm saam met die twee flanke, Divan Brits en Zander Lourens ‘n gedugte lostrio. Lourens is ewe tuis op haker, maar waar hy op sy gemaklikste is, is met sy kop in die middel van ‘n losskrum.
Garsies se buitesenter, Dimitre Erasmus, is altyd gevaarlik wanneer hy te veel spasie gegun word. Hy het ‘n manier om altyd die eerste paar verdedigers op hom te ontglip.
Die spanne:
Affies: 15 Migael de Lange, 14 Stephan Brits, 13 Ivandre van Wyk, 12 Janko Purchase, 11 Righardt Pretorius, 10 Ruben Pienaar, 9 Hendre Schoeman, 8 Dieter Schubert, 7 Ruan Lippoldt, 6 Juan Vorster, 5 JD Hattingh, 4 Johnathan Eloff, 3 Ruan Smuts, 2 FC van Rooyen, 1 Steyn Truter.
Garsfontein: 15 Jason Hugo, 14 Ruan Enslin, 13 Dimitre Erasmus, 12 Heinrich Cloete, 11 Cassie Prinsloo, 10 Nicallen Gabrielsen, 9 Zian Cilliers, 8 Abri van der Westhuizen, 7 Divan Brits, 6 Zander Lourens, 5 James Schnetler, 4 Thinus Oosthuizen, 3 Leighton-Jon Cloete, 2 De Wet Lottering, 1 DA Swart.
Afskop: 13:30
Ander bepalings:
A-veld – 12:20: Tweedespanne; 11:10: Derdespanne; 10:00: o.16A; 09:00: o.15A; 08:00: o.14A.




