Geskiedenis wink vir Gimmies in Bowl-eindstryd teen Volkies


Sedert die Bowl-afdeling se ontstaan in 2018, destyds as deel van die Virsekerbeker, was daar nog nooit ‘n span wat sy titel in dié afdeling suksesvol kon verdedig nie.
Volg al die SDC Noordvaal Bowl-aksie regstreeks op SuperSport Schools – (www.supersportschools.com)
Dit is waarskynlik omdat die kampioenspanne in die Bowl dikwels promosie na die Skild-afdeling verwerf het, soos wat die geval was met Hoërskool Secunda (2022) en Hoërskool Die Anker (2023).
Vir Potchefstroom Gimnasium se jong span, afgerig deur Regardt Kelingeld, is ‘n tweede titel in soveel jaar egter Saterdagmiddag, op die Piet Malan-veld, binne bereik. Hoewel Gimmies teen ‘n sterk Potchefstroom Volkskool te staan kom in die Potch-derby, meen Kleingeld dat sy span fokus op hul sterkpunte.
“Dit is ‘n groot dag vir die dorp; ek is bly dat twee Potch-skole die eindstryd gehaal het en dat die Bowl weer hier staanplek sal kry,” sê Kleingeld. “Volkies het ‘n goeie span en die oomblik gaan groot wees, daarom fokus ons op dit wat ons beplan en geoefen het.
“Vir my persoonlik is dit spesiaal om in my eerste jaar by Gimmies reeds met hierdie groep seuns só ‘n groot dag te kan beleef. Die druk was van meet af aan kwaai, maar die seuns het groot karakter getoon om na ‘n uitdagende seisoen te wees waar hulle nou is.”
Kleingeld se span sal Saterdag vir die eerste keer sedert die laaste wedstryd voor die vakansie weer op alle silinders kan vuur.
Staatmaker stut, Jeandré Barends, neem oplaas weer sy plek in die beginspan in, met flank en kaptein, Reuel Potgieter, wat by hom aansluit om die Gimmies in die se grootste wedstryd van die seisoen aan te voer. Elrich Bosch het wonder bo wonder van sy kniebesering herstel om terug te keer na die middeveld, met De Wet Grobler wat van senter terugskuif agsteman toe.
Dit is duidelik dat die stryd tussen die twee agttalle meedoënloos sal wees, soos wat die geval was vroeër vanjaar toe die Gimmies met 21-12 baas was.
Sedertdien het daar egter heelwat water in die see geloop. Die Volkies het na dié nederlaag ‘n paar taktiese skuiwe aangebring wat hulle netjies op koers gebring het. Een van dié veranderinge was Lourenzo Louw se skuif na regtervleuel, om die spasie op die punte uit te buit saam met die gevaarlike Lethabo Riet op heelagter.
Hennie Pretorius wat as losskakel ingespan word, met Anro Nel wat na senter geskuif het, het verdere impak gehad op die Volkies se aanvalsvernuf agterlangs, en ál drie die sleutelspelers sal Saterdag wéér op hul pos wees.
Dit is moeilik om te voorspel wie hierdie slag die botoon sal voer tussen dié twee goed afgerigte spanne. Een ding is egter seker, Potchefstroom kan hom regskuif vir ‘n aksiebelaaide 70 minute wanneer die Bowl-eindstryd Saterdagmiddag hier afskop.
Die spanne:
Potchefstroom Gimnasium t. Potchefstroom Volkskool om 12:30 in Potchefstroom
Potchefstroom Gimnasium: 15 Josh Pretoruis, 14 Rea Moalosi, 13 Itumeleng Pheto, 12 Elrich Bosch, 11 Orabile Koena, 10 Zandre Da Silva, 9 MJ Viljoen, 8 De Wet Grobler, 7 Reuel Potgieter, 6 Damian Zwahlen, 5 Joubert Niemann, 4 Dirk Stear, 3 Matt Redelinghuys, 2 Kobus Grobbelaar, 1 Jeandré Barends.
Potchefstroom Volkskool: 15 Lethabo Riet, 14 Lourenzo Louw, 13 River Samuel, 12 Anro Nel, 11 Juan Fourie, 10 Hennie Pretorius, 9 Juhan Geldenhuys, 8 Johannes Lombard, 7 Henre Nel, 6 Wian Victor, 5 Caden Kruger, 4 Stef Schoeman, 3 AB Brink, 2 Louis Fourie, 1 Koan Smit.
Skeidsregter: Paulus Schoeman (Luiperds)
Ander spanne:
o.16: 10:45 – Merensky t. Eldoraigne
o.15: 09:30 – Eldoraigne t. Hoërskool Ermelo
o.14: 08:00 – Potchefstroom Gimnasium t. Jeugland