SuperSport Schools News

Geskiedenis sal vandag in die Shimla-liga eindstryd in Bloemfontein gemaak word

By Hannes Nienaber , in Rugby | News , at 2022-08-27

Daar sal vandag geskiedenis op Shimlapark in Bloemfontein in die eindstryd van die Kovsiestreekkompetisie op Shimlapark in Bloemfontein gemaak word.

Die Hoërskool Jim Fouché sê vir die Hoërskool Trio van Kroonstad die stryd om die titel aan.

Indien JF die kroon dra sal hy die eerste Vrystaatse skool buiten Grey-kollege wees wat dit vermag. Dit is die eerste keer sedert 2008 wat JF tot die eindstryd van die liga deurgedring het.

In 2008 was die Springbok-vleuel Jamba Ulenga een van die Groen Masjien se staatmakers. Harmony Sportsakademie het in die eindstryd met 41-38 na ekstra speeltyd koning gekraai met ‘n ene Branco du Preez op losskakel aan die spits. Christiano Swarts het nog met ‘n skepdoel op die einde sake in die span van Virginia se guns geswaai.

Trio het die afgelope paar weke die geskiedenisboeke behoorlik herskryf. Die skool wat vanjaar sy eerste rugbyseisoen beleef is teen alle waarskynlikheid as kampioen van die Griffon-liga gekroon, waarna hy ook vir die Hoërskool Diamantveld van Kimberley in die halfeindstryd van die Shimla-liga met 21-17 getroef het.

Dit nadat Trio ‘n agterstand van 0-17 in die tweede helfte moes uitwis. Die span van Kroonstad het ook in die Griffon-liga sterk geëindig so vandag se eindstryd beloof ook om die senuwees te laat knaag.

JF het sy plek in die eindstryd met ‘n sege van 38-17 oor die Hoërskool Upington bespreek. JF se gevaarmanne vir vandag se eindstryd is sy heelagter, GJ Vos, en skrumskakel, Jadon Roodt.

Eersgenoemde beskik oor ‘n geleerde skopstewel, terwyl Roodt sy pak sal moet aanvuur teen ‘n gedugte agttal en waarskynlik vanaf die agtervoet moet sorg dat JF se agterhoede steeds gehalte balbesit ontvang.

Trio se agttal het al menigte spanne vanjaar in die grond in geskrum. Sy Cravenweek-vaskopstut, Kaleb Kriek, speel ‘n groot rol hier. Hy is boonop ‘n man wat ook die bal sterk kan dra.

Die spanne is: 

Jim Fouché: 15 GJ Vos, 14 Tristan van der Walt, 13 Marcus Gordon, 12 JP van Heerden, 11 Thorn Beveridge, 10 Justin Pieterse, 9 Jadon Roodt (kaptein), 8 Phillip Noëth, 7 Stefan Venter, 6 CJ Raath, 5 Ruan Nieuwoudt, 4 Calvin Bolt, 3 Bernard Labuschagne, 2 Ethan Nelson, 1 MJ Meyer.

Hoërskool Trio: 15 Jaco Steyn, 14 Louis Boshoff, 13 Charlton Basson, 12 Michael Heyns, 11 Ignus de Wet, 10 BJ Pelser, 9 CJ Taljaard, 8 Ewald Tolmay, 7 Conrad Hattingh, 6 JD Kirstein, 5 Piet van Rensburg, 4 Henco Kriek, 3 Kaleb Kriek, 2 Austin Jardim, 1 Anru Mulder.

Hannes Nienaber
error: Sorry ol' chap, those shenanigans are not permissible.