Geen genade vandag tussen Klerksdorp en Oos-Moot in Skild-eindstryd verwag
Daar sal vandag sonder twyfel niks teruggehou word in die eindstryd van die Noordvaaltrofee se Skild-kompetisie tussen die Hoërskool Klerksdorp en Oos-Moot nie.
Daar was heelwat ongelukkigheid tussen die twee skole oor die gebeure na afloop van hul liga-wedstryd in Klerksdorp twee weke gelede. Vandag se eindstryd vind ook weer in Klerksdorp plaas.
Hopelik sal rugby en sportmansgees vandag seëvier.
Daar was ‘n tugverhoor gereël en klagstate deur die Luiperds Rugby-unie (LRU) uitgestuur voor die halfeindronde. Die verhoor wat verlede Donderdag sou plaasvind is toe afgestel omdat die LRU voel die klagte val nie onder hul jurisdiksie nie, maar eerder onder die van Wereld Rugby.
Die LRU het wel aangedui day hy verteenwoordigers na die eindstryd sal stuur om te verseker dat alles seepglad sal verloop.
Die unie se Hanru van Rooyen is ook as die skeidsregter aangestel. Hy het vroeër vanjaar die hoofwedstryd van die Cravenweek geblaas asook die kragmeting tussen Paarl Gimnasium en Grey-kollege tydens Wildeklawer.
Daar was glo gevegte na die wedstryd waarby onder andere die voormalige Springbok-haker, Danie Coetzee, wie by Oos-Moot betrokke is se seun en slot van Oos-Moot, Rudolph Coetzee, neergevel is.
Coetzee sr. het in sy verklaring oor die voorval onder andere gese dat die voorval die slegste advertensie vir rugby is wat hy nog beleef het. Danie is ook Oos-Moot se kondisionerings-afrigter.
Albei die afrigters van Klerksdorp, Johan van Schoor en Piet von Wielligh, is daarvan aangekla dat hul die spel in oneer met hul aksies gebring het. Daar is gerugte dat die twee wat ook as Dagga en Kwagga bekend staan reeds vroeër vanjaar versoek is om nie na vanjaar weer by die afrigting van rugby betrokke te wees nie.
Twee spelers van Klerksdorp was ook aangekla, maar geen spelers van Oos-Moot is na die voorval uitgewys nie.
Maar terug by die rugby.
Die Hoërskool Klerksdorp het reeds genoeg vanjaar gedoen om seker te maak dat die skool volgende jaar na die Plaat-afdeling van die Noordvaaltrofee gepromiveer word. Klerksdorp se eerstespan sal ook die eindstryd as die gunsteling betree.
Die tuisspan se losskakel, MJ Mostert, was vanjaar reeds ‘n groot doring in die vlees van sy span se teenstanders. Mostert het verlede week 20 punte met die skopskoen tot sy span se oorwinning van 30-5 oor Ligbron Akademie van Ermelo bygedra.
Die span se flank Divan Pieters asook die voorryman Keagan Wallace is ook spelers wat deur Oos-Moot fyn dopgehou moet word.
Oos-Moot se skakelpaar, Jacques Benadie en Charl van der Sluys, sal op hul stukke moet wees indien die besoekers met die trofee na Pretoria wil terugkeer. Voorlangs kan die flank Regardt Jordaan en haker, Ryan Scott, dorings in Klerksdorp se vlees wees.
Die spanne is:
Hoërskool Klerksdorp: 15 Stefan Mare, 14 Lebogang Wageng, 13 Senekane Mmuse, 12 Jaden Fredericks, 11 Lennie Bevan, 10 MJ Mostert, 9 Zane van Staden, 8 Ewald Fourie, 7 Divan Pieters, 6 Luan von Wielligh, 5 Helgard Coetzee, 4 Eduard Mayoss, 3 Willie van Rensburg, 2 Wiaan Strydom, 1 Keagan Wallace.
Oos-Moot: 15 Tiaan Bornman, 14 Jeandre de Bruyn, 13 Carlo Janse van Rensburg, 12 Gideon van Rooyen, 11 Vincent Rautenbach, 10 Charl van der Sluys, 9 Jacques Benadie, 8 Ricardo Visser, 7 Regardt Jordaan, 6 Duvan du Plessis, 5 Gert-Hendrik Grobler, 4 Rudolph Coetzee, 3 Rubenn Fourie, 2 Ryan Scott, 1 Braam Bezuidenhout.
Afskop: 12:50
Skeidsregter: Hanru van Rooyen