SuperSport Schools Plus

Geelkobras sluit Rolyn Bergsig onoorwonne af

By Franco Oberholzer , in Rugby | News , at 2024-05-01 Tags: , , , ,

FOTO: Marius Nortje

Die Afrikaanse Hoër Seunskool se Geelkobras was onkeerbaar by vanjaar se Rolyn Bergsig-sportfees.

Herleef al die aksie op SuperSport Schools. (www.supersportschools.com).

Die span van Pretoria het die fees in Rustenburg met ‘n oorwinning van 40-19 oor Hoërskool Die Wilgers afgesluit, nadat hulle Maandag vir Hoërskool Wonderboom met 57-21 die loef afgesteek het.

Binnesenter, George Cronje, was die Pretorianers se uitblinker op die tweede aksiebelaaide dag. Hy het deurgaans hul eweknieë uit die Jakarandastad onder heelwat druk geplaas met sy kragtige lopies in die middeveld, en het twee keer deurgebreek vir drieë.

Die plaasvervanger losvoorspelers, Gareth Geyser en Markus Kruger, het die pap dik aangemaak voorlangs en is ook elk met ‘n kuiertjie agter die doellyn beloon vir hul harde werk.

Vir Die Wilgers het niemand beter vertoon as die oopkantflank, Zander Bothma, nie. Bothma het beïndruk met sy energieke spel en het verál op die verdediging sy lyf op die spel geplaas. Die woelwater-flank was verantwoordelik vir vyf van sy span se 21 punte toe hy welverdiend die Geelkobras se doellyn oorgesteek het.

Bergsig Akdemie se Hawks het, nes die Geelkobras, die fees onoorwonne afgesluit. Die gasheerskool se tweede span het Rustenburg Rugby Academy met ‘n reuse telling van 52-10 afgestof.

Die Hawks se buitesenter, Steven Grobler, het gewys hoekom hy uiters gevaarlik kan wees gedurende die res van die seisoen. Sy netjiese aanvalslyne en begeesterde lopies in die middeveld het aan hom ‘n tweekuns besorg.

Grobler was egter nie die enigste doring in die vlees van die besoekende Akademie-span nie, met agtsteman, Eathan Rautenbach, wat self twee keer gaan druk het.

Puntemakers: 

Affies (Geelkobras) 40 (21) – Drieë: George Cronje (2), Geoffry Greyling, Khomo Manakana, Gareth Geyser, Markus Kruger. Doelskoppe: Pieter de Klerk (5). Die Wilgers 19 (19) – Drieë: Zander Bothma, SP Schutte, Aidon Moolman. Doelskoppe: Reinhardt Uys (2).

Bergsig (Hawks) 52 (26) – Drieë: Steven Grobler (2), Eathan Rautenbach (2), Phillu Thomas, Carlo de Jager, Marlon Mowers, Christian Pereira. Doelskoppe: Shane Watt (6). Rustenburg Rugby Academy 10 (5) – Drieë: Botlhale, Neo.

 

Franco Oberholzer
error: Sorry ol' chap, those shenanigans are not permissible.