Garsies te sterk vir Waterkloof, terwyl Helpies vir Menlopark afransel

Die Bere van die Hoërskool Garsfontein het dit Saterdag duidelik gemaak dat hulle vanjaar weer een van die rolspelers in vanjaar se SDC Noordvaal Cup se Beker-kompetisie gaan wees.
Die Garsies het vir Waterkloof met 50-21 op Berepark verslaan om sy aanslag in vanjaar se reeks af te skop.
Die Bere se kaptein en agtsteman, Abri van der Westhuizen, was aan die voorpunt van sy span se sege met ‘n driekuns aan drieë.
Die flank Thinus Oosthuizen het ook ‘n reuse wedstryd gespeel na hy noodgedwonge na die kant van die skrum moes skuif na albei die span se flanke, Divan Brits en Zander Lourens, tydens Wildeklawer beserings opgedoen het.
Die Bere het in die skrums die oorhand gehad. Die span se skrumdokter, Kevin Buys, verdien baie lof want daar sal baie ver gesoek moet word vir ‘n Garsie-skrum in trurat sedert hy by die span betrokke geraak het.
Vir Waterkloof was daar niemand beter as sy flank Jean Jooste nie. Buiten die feit dat Jooste vir sy inklimspel met twee drieë beloon is, het hy ook deurgans sy lyf op die spel vir sy span geplaas. Sy kaptein en agtsteman, Dale Arlow, kan ook tevrede met sy vertoning voel.
Agterlangs het die Bere ook gegrom met Zian Cilliers (skrumskakel) en Dimitre Erasmus (buitesenter) wat uitstaande was.
Helpmekaar-kollege het vir Menlopark ‘n drag slae van 73-15 op sy tuisveld in Johannesburg toegedien. Helpies se vleuel Pieter Moller het vier keer agter die besoekers se doellyn gaan kuier.
Die grondslag vir die sege is egter voorlangs gelê waar veral die slot Ulrich Swart uistaande spel gelewer het. Swart het uitstekend gerank in die lynstane en ook in die vastelos gewoel.
Buiten Moller het die heelagter, Junayden Seffier, ook uitmuntend vertoon. Veral sy taktiese skopwerk was van hoë gehalte.
Die beseringspook het behoorlik amok gesaai by die Parkies voor die kragmeting. Slegte nuus vir die span is dat hy eerskomende Saterdag teen Garsfontein te staan kom.
Die Hoërskool Nelspruit het amper vir ‘n opskudding in Krugersdorp gesorg toe hy met nog so agt minute se speeltyd oor teen Monument voorgeloop het.
Die Wit Bulle het egter na ‘n nuwe rat verwissel om uiteindelik met 20 punte met die telling op 41-20 te seëvier. Dit was veral die losskakel, Justin Viljoen, en die slot RJ Barnard wat van die plaasvervangersbank ‘n groot impak gemaak het.
Viljoen het met sy taktiese skoppe daarin geslaag om die druk na die Rhinos te verplaas, terwyl Barnard voorlangs die vuur aangesteek het.
Puntemakers:
Garsfontein 50 (22) – Drieë: Abri van der Westhuizen (3), Dimitre Erasmus (2), Ruan Enslin, Heinrich Cloete, De Wet Lottering. Doelskoppe: Zian Cilliers (3), Nicallen Gabrielsen (2). Waterkloof 21 (14) – Drieë: Jean Jooste (2), Hernus Marais. Doelskoppe: Franco Cronjé (3).
Helpmekaar-kollege 73 (26) – Drieë: Pieter Moller (4), Ruan Welman, Ulrich Swart, Boela de Wet, Christiaan Steyn, Tristan van Niekerk, Reynard van der Linden, JJ du Preez. Doelskoppe: Michael Benzien (9). Menlopark 15 (8) – Drieë: Mocke Balt (2). Doelskop: Jaden Fortuin. Strafdoel: Fortuin.
Monument 41 (15) – Drieë: Jody Schambreel (2), Tristan da Costa (2), Kelvin van Wyk, Nathan Erasmus, Stephan Uys. Doelskoppe: Justin Viljoen (3). Hoërskool Nelspruit 20 (15) – Drieë: Ryan Venter, Ian Wood, Reghard Vermaak. Doelskop: Kian van Tonder. Strafdoel: Van Tonder.
Ander spanne:
o.16: Waterkloof 29, Garsfontein 10; Helpmekaar 19, Menlopark 16; Monument 47, Nelspruit 14.
o.15: Waterkloof 41, Garsfontein 13; Helpmekaar 26, Menlopark 14; Monument 55, Nelspruit 7.
o.14: Garsfontein 13, Waterkloof 9; Helpmekaar 22, Menlopark 15; Monument 62, Nelspruit 14.




