SuperSport Schools Plus

Garsies se “skrumpet-brigade” looi die Parkies

By Franco Oberholzer , in Rugby | Featured Rugby | News , at 2025-08-23 Tags: , , , ,

YUVRAH GEORGE, regtervleuel van Hoërskool Garsfontein, duik oor vir een van sy drie drieë in die halfeindstryd teen Hoërskool Menlopark. FOTO: Frans Lombrad/Actionpix.

Hoërskool Garsfontein se “skrumpet-brigade” het die wa deur die drif getrek teen Die Hoërskool Menlopark, vir die Bere om uiteindelik met 45-29 te seëvier en deur te dring na die eindstryd van SDC Noordvaal Cup se Beker-afdeling.

Herleef al die SDC Noordvaal Beker-aksie op SuperSport Schools – (www.supersportschools.com) 

Yuvrah George het sy tuisveld binne die eerste 10 minute reeds aan die brand gespeel om sy tweede driekuns aan drieë behaal.

George het Saterdag weer op regtervleuel uitgedraf, nadat Junaide Stuart ‘n hou teen die bobeen gekry het in die SA o.18-span se laaste wedstryd teen Engeland in die onlangse Internasionale Reeks in die Kaap. Stuart is wel later van die bank ingespan en het ook sy stempel afgedruk.

Die Bere was, danksy George, blitsig uit die blokke en het binne ‘n oogwink met 14-0 voorgeloop.

Die Parkies se formidabele dryfmaal het spoedig egter aan die gang gekom en vir Declan Pelser in staat gestel om oor te bars vir ‘n tweekuns. Dit het die momentum in die Parkies se guns geswaai, met skrumskakel, Gustav Schäffner, en buitesenter, Leskin Samuels, wat ook gedruk het om aan die besoekers ‘n voorsprong van 29-24 te bied met die omdraaislag.

Stuart het in die tweede skof egter die knoop vir die Bere deurgehak met ‘n paar stukkies briljante individuele spel, wat aan hom ook twee drieë besorg het. Sy tweede, na ‘n uitstekende agterlynbeweging, het die uitklophou toegedien.

Losskakel, Joshua Gouws, het die res bygevoeg, terwyl die Parkies geen verdere punte in die tweede skof kon aanteken nie. Gouws het met drie doelskoppe en twee strafdoele geslaag vir die verdedigende kampioen, wat nou na ‘n vierde agtereenvolgende eindstryd, tuis teen Helpmekaar Kollege, deurgedring het.

Puntemakers: 

Garsfontein 45 (24) – Drieë: Yuvrah George (3), Junaide Stuart (2), Derrick Kuhn. Doelskoppe: Joshua Gouws (3). Strafdoele: Gouws (2). Menlopark 29 (29) – Drieë: Declan Pelser (2), Gustav Schäffner, Tiaan Boshoff, Leskin Samuels. Doelskoppe: Willie Pieterse (2).

Ander spanne: 

o.16: Menlopark 25, Waterkloof 20.

o.15: Garsfontein 38, Monument 26.

o.14: Helpmekaar 26, Garsfontein 19.

Franco Oberholzer
error: Sorry ol' chap, those shenanigans are not permissible.