SuperSport Schools Plus

Garsies geen gelyke in Noordvaal, Klofies gaffel Wit Bulle vir plek in halfeindronde

By Hannes Nienaber , in Rugby | News , at 2023-08-12 Tags: , , , , , ,

HEINRICH CLOETE (met bal), binnesenter van Garsfontein stamp hier EG Jansen se skrumskakel, Gordon Smith, minagtend uit die pad in die twee spanne se kragmeting in die SDC Noordvaal Cup. Garsies het met 42-36 as oorwinnaars uit die stryd getree. FOTO: Frans Lombard/Actionpix

BOKSBURG. – Die gort was Saterdag behoorlik gaar in die Beker-afdeling van die SDC Noordvaal Cup.

Daar sal boonop vanjaar ‘n nuwe kampioen in die kompetisie gekroon word na Waterkloof die Wit Bulle van Monument met 26-22 in hul laaste groepwedstryd verslaan het.

Dié kragmeting tussen die twee spanne kon as ‘n kwarteindstryd aangesien gewees het. Die wenner sou deurdring tot die halfeindronde van die reeks, terwyl die verloorder se seisoen vroeg beëindig sou word.

Monnas het teen rustyd ‘n voorsprong van 14-5 geniet. Sy skrumskakel, Ceano Everson, was witwarm en het twee keer agter Klofies se doellyn gaan kuier.

Die tuisspan se senterpaar, Reuven Ferreira en Riwan van Aswegen, het egter in die tweede helfte te veel vrae gehad vir Monnas se verdediging. Klofies se kantman Jean Jooste was ook uitstaande.

Garsfontein se Bere het in Boksburg met ‘n sege van 42-36 oor EG Jansen gesorg dat hulle bo-aan die puntelys met ‘n onoorwonne status in die liga eindig. Die Jansies was voor die kragmeting ook nog onoorwonne in die reeks.

Garsies se losskakel, Nicallen Gabrielsen, het met sy akkurate stelskopwerk beïndruk. Indien hy die peil van die kegel kan behou vir die uitspeelwedstryd gaan sy span nie maklik geklop word nie.

Die grondslag vir die sege is egter deur die verdediging van die buitesenter, Dimitre Erasmus, gelê. Hy was in ‘n hewige tweestryd met sy direkte teenstander, Jeandré Jacobs, gewikkel.

Jacobs is die voorste driedrukker in die reeks en het weer op die aanval ‘n hele paar keer gevaarlik vertoon.

In die Bowl-afdeling van die Noordvaal-reeks het Wesvalia vir Dr. Malan van Meyerton ‘n drag slae van 99-0 toegedien. Wesvalia se Junior Kuhn (haker), Francois Dumond (flank) en Teboho Sekonyela (vleuel) het elk drie keer agter die doellyn gaan kuier.

Wesvalia se losskakel, Richardt van Heerden het self 24 punte tot sy span se totaal met 12 doelskoppe bygedra.

In Groep 2 van die Noordvaal-reeks sal Midstream College sy titel as kampioen teen Bergsig Akademie van Rustenburg verdedig. Midstream College het vir Potchefstroom Gimnasium met 42-26 in die halfeindronde uitgeknikker, terwyl Bergsig naelskraaps met Dinamika (23-22) klaargespeel het.

In Groep 3 het verlede jaar se kampioene, Vryburg en Die Wilgers, mekaar reeds vanjaar in die halfeindronde ontmoet. Die twee spanne het verlede jaar die louere met 15-elk gedeel. Vanjaar was Vryburg op sy tuisveld met 37-29 baas om ‘n afspraak met Bastion vir die eindstryd vas te maak.

Bastion het oor te veel skietgoed in sy halfeindstryd vir Erasmus van Bronkhorstspruit beskik en met 68-25 as oorwinnaars van die veld gestap.

In die Vrystaat A-liga eindstryd het Jim Fouché die bordjies met 31-25 teen Fichardtpark verhang. Dit was boonop Fichies se eerste nederlaag van die seisoen.

Fichies was vroeër vanjaar met 39-33 oor JF baas. Albei spanne sal vanjaar tot die halfeindronde van die Kovsiestreekkompetisie se Shimla-liga deurdring.

JF se sege in die eindstryd beteken dat hy in die halfeindronde teen die Griffons se kampioen, Welkom Gimnasium, te staan sal kom. Welkom Gimnasium het vir Voortrekker van Bethlehem met 29-26 in die Griffon-eindstryd verslaan.

Fichies se Leeus sal na Kimberley moet reis om teen die Griekwa-kampioen sake uit te spook. Hoërskool Upington dra vanjaar dié kroon.

In dié streekkompetisie se Irawa-liga sal die Hoërskool Staatspresident Swart van Brandfort volgende week in die halfeindronde teen Wilgerivier van Frankfort sake uitspook.

Brandfort het die Vrystaatse B-liga eindstryd teen Zastron met 29-27 gewen. Wilgerivier as met 29-14 in die Vrystaat Platteland-eindstryd oor Bothaville baas.

In die Paarl het New Orleans sy oorheersing die afgelope paar jaar oor Klein Nederburg in die twee skole se interskole met ‘n sege van 13-8 voortgesit. Die wenspan se regtervleuel, Jayden Solomons, het twee keer in die hoekie oorgedraf.

Hoërskool Durbanville het met ‘n wegholsege van 91-0 oor Tygerberg sy spiere behoorlik gebult voor sy jaarlikse interskole teen Stellenberg. Durbies se Jayden Nell het drie van sy span se 15 drieë afgerond.

Die Kwaggas van Outeniqua het hul eeufeesjaar met ‘n oorwinning van 38-19 oor HTS Drostdy afgesluit.

Al die uitslae: 

SDC NOORDVAAL CUP

GROEP 1

Beker: Garsfontein 42, EG Jansen 36; Waterkloof 26, Monument 22; Noordheuwel 44, Marais Viljoen 28. Plaat: Transvalia 40, HTS Middelburg 11; Hoërskool Rustenburg 38, Kempton Park 15; Hoërskool Klerksdorp 27, Montana 26; Hoërskool Middelburg 21, Zwartkop 7. Skild: Lichtenburg 31, Ben Vorster 17; Secunda 38, Heidelberg Volkskool 28; Ligbron 34, Hugenote (Springs) 26; Oos-Moot 34, Jeugland 17. Bowl: Eldoraigne 67, Hoërskool Alberton 12; Die Anker 43, Potchefstroom Volkskool 13; Wesvalia 99, Dr. Malan 0; Hoërskool Pietersburg 38, Merensky 26.

GROEP 2 – HALFEINDSTRYDE

Midstream College 42, Potchefstroom Gimnasium 26; Bergsig Akademie 23, Dinamika 22.

GROEP 3 – HALFEINDSTRYDE

Vryburg 37, Die Wilgers 29; Bastion 68, Erasmus (Bronkhorstspruit) 25.

GROEP 4 – HALFEINDSTRYDE

Bekker 26, Glenharvie 10; Allen Glen 29, Edenvale 15.

GROEP 5A – HALFEINDSTRYDE

Westonaria 26, Highveld 10; Heilbron 29, Hoërskool Roodepoort 10.

KWAZULU-NATAL/OOS-KAAP

Selborne College 12, Grey High School 10; Glenwood 27, Maritzburg College 24; Framesby 30, Marlow Landbou 25; Graeme College 15, Muir College 13; Nico Malan 31, Hoërskool Punt 7; HTS Daniël Pienaar 20, Die Brandwag (Uitenhage) 13; Hudson Park 17, Dale College 14; Pearson 38, Parel Vallei 12; Queen’s College35, Cambridge 12.

VRYSTAAT/GRIEKWAS

Jim Fouché 31, Fichardtpark 25; Brandfort 29, Zastron 27; Welkom Gimnasium 29, Voortrekker 26; Wilgerivier 29, Bothaville 14; Hoopstad 33, Vrede 12; Diamantveld 33, Kalahari (Kuruman) 12; Postmasburg 22, Namakwaland 14; Hartswater 27, Curro Kathu 17.

WES-KAAP

Outeniqua 38, HTS Drostdy 19; New Orleans 13, Klein Nederburg 8; Wynberg Boys’ High 27, Bishops 20; Rondebosch Boys’ High 29, SACS 21; Montagu 21, Charlie Hofmeyr 17; Hoërskool Durbanville 91, Tygerberg 0; Robertson 26, Langenhoven Gimnasium 12; Brackenfell 48, Melkbosstrand 15; Stellenberg 24, Milnerton 7; Hoërskool Bellville 36, Strand 26; Kasselsvlei 41, Parkland College 19; Piketberg 25, Dirkie Uys 20; Overberg 39, Hoërskool Stellenbosch 12; Bredasdorp 46, Swellendam 16; Westerford 32, SK Walmers 7; Bergrivier 81, Weltevrede 17.

Hannes Nienaber
error: Sorry ol' chap, those shenanigans are not permissible.