SuperSport Schools Plus

Garsies dié span om te klop, maar die Bere sal lugtig vir Helpies wees

By Hannes Nienaber , in Rugby | News , at 2023-08-18 Tags: ,

FOTO: Frans Lombard/Actionpix

Daar sal vanjaar ‘n nuwe kampioen in  die SDC Noordvaal Cup se Beker-afdeling gekroon word.

En drie van die spanne in aksie in Saterdag se twee halfeindstryde weet dat indien hulle die seisoen op ‘n hoogtepunt wil afsluit sal hul die Bere van Garsfontein moet klop.

Volg al die aksie regstreeks op SuperSport Schools (www.supersportschools.com).

Garsies was die hele seisoen nog net een keer teen die land se voorste span, Grey-kollege (9-23), tydens die Wildeklawer-toernooi aan die verloorkant.

Garsfontein kom op sy tuisveld Bere-park in Pretoria in die een halfeindstryd teen Helpmekaar-kollege te staan. Die tuisspan sal egter glad nie oorgerus wees nie.

Die span van die Jakarandastad het vroeër vanjaar in die twee spanne se kragmeting in die liga benoude oomblikke beleef voordat hy met 49-48 as oorwinnaars van die veld gestap het.

Helpies het nog altyd ‘n manier gehad om die Bere te ontwrig, selfs toe hulle tussen 2015 en 2017 in die destydse Grootskole-afdeling van die reeks deelgeneem het. Helpies was vir drie agtereenvolgende seisoen die Grootskole-kampioen. Die span van die Goudstad het tussen 2016 en 2018 die Bere vier keer op ‘n streep geklop.

Garsfontein was in 2015 en 2016 die Beeldtrofee-kampioen vir Makroskole soos die kompetisie destyds bekend gestaan het. Die Garsies sal alles in die stryd werp om vanjaar weer sy hande op die gesogte trofee te kry. Die span van Pretoria was in sy laaste drie kragmeting teen Helpmekaar aan die wenkant.

Vroeër vanjaar (49-48), 2022 (34-10) en in 2019 (50-22). Die Helpies sal bly wees om hul stelskopper, Michael Benzien, terug op binnesenter in die span te hê. Hy moes die veld in die wedstryd vroeër vanjaar teen Garsies weens ‘n besering verlaat. Die voorste puntemaker in vanjaar se reeks was nie op die veld in die doodsnikke toe hy sy span tot ‘n sege kon skop nie.

Die Bere is ook weer terug op só te sê volsterkte met sy kaptein en agtsteman, Abri van der Westhuysen, asook die flank Luan Olivier wat hul terugkeer tot die span maak. Van der Westhuyzen kom terug na ‘n besering, terwyl Olivier die SA o.18-sewespan op die Statebond Jeugspele in Trinidad en Tobago verteenwoordig het.

Een saak waaroor al vier spanne gelukkig sal wees is die feit dat daar vanjaar vir die eerste keer in die geskiedenis van die reeks onpartydige skeidsregters vir die halfeindstryde ingespan word.

Monument van Krugersdorp sal nie vanjaar sy titel as kampioen kan verdedig nie. Monnas is verlede week deur Waterkloof met 26-22 verslaan. Dié nederlaag het aan die Blou Tornado hul plek in die uitspele besorg, terwyl Monnas vir die eerste keer seder 2013 nie tot die reeks se halfeindronde kon deurdring nie.

Dr. EG Jansen het die kragmeting vroeër vanjaar teen Klofies met 34-26 in Pretoria gewen. Die Jansies sal vandag op hul tuisveld as die gunstelinge op die veld draf, maar sal ook nie die Klofies onderskat nie.

Klofies het in die kragmeting ‘n voorsprong van 19-0 opgebou voordat die Jansies in die tweede helfte sake oorheers het. EG Jansen se buitesenter, Jeandré Jacobs, is met 12 drieë die voorste driedrukker sover in vanjaar se kompetisie.

Klofies se senterpaar, Reuven Ferreira en Riwan van Aswegen, was verlede week teen Monnas op hul stukke en sal vandag ook hul beste voet voor moet sit.

EG Jansen was laas in 2013 kampioen, toevallig die laaste keer wat Monnas nie tot die halfeindronde kon deurdring nie. Die Jansies het daardie jaar vir Kempton Park met 38-17 in die eindstryd verslaan.

Die tuisspan word deur die ervare duo, Rudi Dames en Reghardt Botha, gebrei. Dames het die SA Skole-span in 1999 vanuit HTS Vereeniging gehaal.

Klofies se enigste Cravenweek-verteenwoordiger, Happy Makate, sal op heelagter in die wedstryd diens doen. Makate het meeste van sy rugby vanjaar vir sy skoolspan in die middelveld gespeel, terwyl hy verlede week teen Monnas aan die kant van die skrum diens gedoen het. Makate het ook die Blou Bulle op die Cravenweek as ‘n flank verteenwoordig.

Daar wag ook ‘n hewige stryd voorlangs tussen die twee agtstemanne, Dale Arlow (Waterkloof) en Zaide-Leigh Rippenaar (EG Jansen). Klofies se Jean Jooste is ook ‘n klipharde speler wat nog nie vanjaar ‘n afdag op die rugbyveld beleef het nie.

Die spanne is: 

Garsfontein vs Helpmekaar op Berepark in Pretoria om 11:30:

Garsfontein: 15 Jason Hugo, 14 Ruan Enslin, 13 Demitri Erasmus, 12 Heinrich Cloete, 11 Cassie Prinsloo, 10 Nicallen Gabrielsen, 9 Zian Cilliers, 8 Abri van der Westhuysen (kaptein), 7 Stephan Pretorius, 6 Luan Olivier, 5 Divan Brits, 4 Aiden King, 3 Leighton-Jon Cloete, 2 De Wet Lottering, 1 DA Swart.

Helpmekaar: 15 Trityne Parsons, 14 Delano Maritz, 13 Rynhardt van de Linden, 12 Michael Benzien, 11 Pieter Möller, 10 Junayden Seffier, 9 Tristan van Niekerk, 8 Christiaan Steyn (kaptein), 7 Ulrich Swart, 6 Motlatsi Moloi, 5 Darius Haasbroek, 4 JP Lombaard, 3 Ulrich van der Merwe, 2 Ruan Welman, 1 Pedri de Wet.

Skeidsregter: Johré Botha (Valke).

EG Jansen vs Waterkloof in Boksburg om 12:00: 

EG Jansen: 15 David Twala, 14 R-Jay Pietersen, 13 Jeandré Jacobs, 12 Keanu Engelbrecht, 11 Cameron van Wyk, 10 Ruan van Heerden, 9 Gordon Smith, 8 Zaide-Leigh Rippenaar, 7 Reon Pretoris, 6 Damian Kruger, 5 Michael Devy, 4 Duwan Potgieter, 3 Marnus Swarts, 2 Danré Pike, 1 Shawn Simpson.

Waterkloof: 15 Happy Makate, 14 Waldimar Griesel, 13 Riwan van Aswegen, 12 Reuven Ferreira, 11 Sjaan Steyn, 10 Franco Cronjé, 9 Migael Prinsloo, 8 Dale Arlow, 7 Jean Jooste, 6 Dewald Muler, 5 Stephan de Beer, 4 Dylan Knoetze, 3 Luan Brown, 2 Stephan Jacobsz, 1 Marnus Maritz.

Skeidsregter: Graciano Pienaar (Goue Leeus).

Bepalings | Junior Halfeindstryde (tuisspanne eerste vermeld):

o.16 – 09:00: Waterkloof vs Garsfontein; Helpmekaar vs Menlopark.

o.15: Noordheuwel vs Monument; Helpmekaar vs Waterkloof.

o.14: Monument vs Helpmekaar; Noordheuwel vs EG Jansen.

Hannes Nienaber
error: Sorry ol' chap, those shenanigans are not permissible.