SuperSport Schools Plus

Garsies bo-baas in die Agter-Paarl

By Hannes Nienaber , in Rugby | News , at 2018-03-18

NewsGBolandLandbouHoërskool Garsfontein het gister in die Agter-Paarl so ietwat Boland Landbou se partytjie op sy jaarlikse rugbydag bederf.

Die Garsie Bere het met 24-20 as oorwinnaars van die veld gestap. Boland Landbou het teen lemoentyd ‘n voorsprong van 17-7 geniet. Dit was egter Garsies se SA Skole-senter Diego Appollis wat met sy skitterspel sy span se terugveg-poging gelei het.

Appollis het self een drie afgerond en daarna ook die aanvoorwerk vir die plaasvervanger-heelagter, Juandré Scheepers, se drie gedoen.

Garsies het verlede jaar tydens die Noord/Suid-toernooi in Pretoria ‘n agterstand van 25 punte uitgewis om Boland Landbou met 43-41 te troef.

Boland Landbou was gister weer in beheer van die wedstryd, maar kon dit ongelukkig nie in ‘n sege omskep nie.

Die span se losskakel, Darren Hendricks, en binnesenter, Erik Lambrecht, het albei uitmuntend vertoon.

HTS Drostdy het met sy sege van 36-19 oor Stellenberg op die sportdag gewys dat hy vanjaar ‘n paar groot honde kan byt.

Affies het sy seisoen met ‘n sege van 40-7 oor Diamantveld op sy tuisveld in die Jakarandastad afgekop. Hoewel die eindtelling ‘n gemaklike sege vir die Wit Bulle aandui, het hulle met rukke en stote gespeel.

Affies kon net ‘n voorsprong van 5-0 teen rustyd opbou. Indien die geluksgodin meer vir Diamonds in die eerste helfte geglimlag het, kon hulle met ‘n voortou na die eerste helfte gaan rus het.

Affies se agtsteman, George Oosthuizen, het die vonk verskaf om sy span tot die sege aan te vuur. Oosthuizen het drie keer in die tweede helfte die doellyn oorgesteek. Hy het ook met sy verdediging en spel by die afbreekpunte vir Diamantveld probleme besorg.

Affies se heelagter, Heinrich Bischoff, het telkemale bresse in die verdediging geslaan, maar die laaste aangee het elke keer verlore gegaan. Vir Diamonds het sy kaptein en skrumskakel, Charlie Louw, nooit moed opgegee nie.

Helpmekaar-kollege se vleuel Christiaan Bezuidenhout het met ‘n driekuns aan drieë sy span gehelp om Waterkloof in Pretoria met 39-11 getroef. Bezuidenhout het verlede week vier drieë teen Eldoraigne gedruk.

Klofies se buitesenter, Julian Bogner, is vroeg met ‘n rooikaart van die veld na ‘n boorvat gejaag. Die tuisspan het hope durf ten toon gestel om met 14-man steeds weerstand te bied.

Helpies se heelagter, Tiaan Botes, was ongetwyfeld die speler van die wedstryd. Hy het 19 van sy span se punte in ‘n spogvertoning aangeteken.

Na gister is daar geen twyfel dat Transvalia van Vanderbijlpark vanjaar onder die groot honde tel nie. Transvalia het die Rooi Bulle van HTS Middelburg nie net getem nie, maar met 68-7 afgeransel. Die besoekers het teen rustyd reeds ‘n voorsprong van 37-0 opgebou.

Monument se kaptein en SA Skole-haker, Morné Brandon, het drie van sy span se drieë in sy weghol-oorwinning van 73-3 oor die Hoërskool Pietersburg gedruk. Teen rustyd met die telling op 61-3 in Monnas se guns was die skrif reeds teen die muur.
Monnas het egter weens ‘n paar hanteerfoute momentum vroeg in die tweede helfte verloor.

Menlopark het in Mbombela daarin geslaag om die Hoërskool Nelspruit met 17-14 te troef. Die Nelspruit Rhinos het met die omdraaislag ‘n skrale voorsprong van 14-10 geniet.

Die Hoërskool Rustenburg het op sy tuisveld vir Eldoraigne met 50-12 streepsuiker gegee.

In die NWU-Pukke 16-reeks sal daar ‘n paar verrassings moet wees om te verhoed dat Leeuwenhof en Pionier van Vryheid mekaar in die eindstryd die stryd sal aansê.

Leeuwenhof het Bekker van Magaliesburg wat verlede jaar die louere met Pionier gedeel het, met 50-7 kafgedraf. Pionier kom in die week teen Piet Retief in sy laaste groepwedstryd van die reeks te staan.

Die Hoërskool Alberton is die enigste onoorwonne span oor in die NWU-Pukke se Sport-reeks. Allies het Secunda gister met 24-20 met die kous oor die kop huis toe gestuur.

Grey-kollege het sy seisoen teen Welkom Gimnasium met ‘n sege van 49-12 afgeskop. Grey kon rustyd met net ‘n skrale voorsprong van 14-12 gaan rus.

AL DIE UITSLAE: 

VRIENDSKAPLIK

Affies 40, Diamantveld 7; Helpmekaar 39, Waterkloof 11; Garsfontein 24, Boland Landbou 20; HTS Drostdy 36, Stellenberg 19; Grey-kollege 49, Welkom Gimnasium 12; Pretoria Boys’ High 14, Noordheuwel 12; Marlow Landbou 53, Duineveld 8; Witteberg 59, Ermelo 20; Jeppe 32, St John’s College 9; King Edward VII 29, St Stithians College 19; Warmbad 24, HF Verwoerd 12; Merensky 36, Southdowns College 0; Brandwag (Uitenhage) 72, Solomon Mahlangu 3; Frans du Toit 24, Bergvlam 22; Eric Louw 15, Stanford Lake College 12; Curro Nelspruit 60, Curro Hazeldean 8; Brandwag (Uitenhage) 24, Liceo Mendoza (ARG) 17; St Benedict’s College 35, Queen’s High 5; Barberton 26, Morgenzon Landbou 24; Wessel Maree 34, Hendrik Potgieter 15; Kingswood College 61, Muir College 3; Kearsney College 23, Northwood 22; Frikkie Meyer 36, Wonderboom 8; Maritzburg College 32, St Charles College 12.

TUKS-REEKS

Monument 73, Hoërskool Pietersburg 3; Menlopark 17, Hoërskool Nelspruit 14; Transvalia 68, HTS Middelburg 7; Hoërskool Rustenburg 50, Eldoraigne 12.

NWU-PUKKE PRESTIGE-REEKS

Zwartkop 21, Hoërskool Middelburg 16; Noordheuwel 20, Die Anker 15; Noordheuwel 41, Wesvalia 7; Randburg 34, Driehoek 14; Potchefstroom Gimnasium 39, HTS Witbank 21; Montana 57, Oosterlig 5; Lichtenburg 36, Jeugland 24; Hugenote (Springs) 50, Marais Viljoen 29.

NWU-PUKKE SUPER-REEKS

Linden 57, Hartbeespoort 12; Hoogenhout 13, Riebeeckrand 12; Hoërskool Alberton 24, Secunda 20; Standerton 28, Bastion 20; Hans Moore 24, Dr. Malan 24; Florida 52, Brits 0.

NWU-PUKKE 16-REEKS

Stoffberg 33, Oosterland 3; Pretoria-Noord 38, Delmas 6; Leeuwenhof 50, Bekker 7, Fochville 14, Schoonspruit 11.

GOUDVELD SPORTDAG

Goudveld-Hoërskool 54, Fichardtpark 5; Louis Botha 17, AHS Kroonstad 17; Hoërskool Kroonstad 13, HTS Welkom 7; Bothaville 26, Ficksburg 3.

GRENS RUGBYDAG

Selborne College 31, Stirling 10; Queen’s College 24, Hoërskool Grens 8; Dale College 8, Hudson Park 3.

NWU-PUKKE PROVINSIALE REEKS

Ben Vorster 39, Centurion 7; Oos-Moot 22, Hoërskool Klerksdorp

SUPER-REEKS

Brandwag (Benoni) 47, Wagpos 10; Generaal Hertzog 29, Hoërskool Tuine 8.

FOTO: Brakkies Sport Fotos

Hannes Nienaber
error: Sorry ol' chap, those shenanigans are not permissible.