SuperSport Schools News

Garsie Bere en Jansies weet dat al wat saak maak is die laaste 70 minute van dié seisoen

By Hannes Nienaber , in Rugby | News , at 2023-08-24

CASSIE PRINSLOO (met bal), linkervleuel van die Hoërskool Garsfontein. FOTO: Frans Lombard/Actionpix

Al wat saak maak is daardie 70 minute se rugby hierdie Saterdag op Berepark in Pretoria.

“Dit is ‘n eindstryd. Dit maak nie saak wat ses jaar gelede gebeur het, of drie weke gelede of selfs verlede week nie. Dit is net Saterdag se wedstryd wat saak maak,” het Johan du Plessis, hoofafriger van die Hoërskool Garsfontein gesê.

Die Garsie Bere draf om 15:30 op sy tuisveld as die gunsteling teen Dr. EG Jansen van Boksburg in die eindstryd van die SDC Noordvaal Cup se Beker-afdeling uit.

Die tuisspan is die gunsteling omdat hy nog nie vanjaar in die reeks verslaan is nie en boonop nog net een keer vanjaar teen die land se voorste span, Grey-kollege (9-23) die knie gebuig het. Die Bere het vir EG Jansen in hul kragmeting vroeër vanjaar in die reeks met 42-36 in Boksburg getroef.

“Ons het baie respek vir EG en hul afrigters, Rudi (Dames) en Reghardt (Botha), is goeie afrigters. Ek glo albei spanne het hul huiswerk gedoen vir Saterdag en dat dit ‘n klipharde wedstryd met mooi hardlooprugby sal wees,” het Du Plessis gesê.

Dié kragmeting sal Du Plessis se 88ste as hoofafrigter van die Garsie Bere wees. Hy is egter al 137 wedstryde as afrigter by die span betrokke. Garsies het laas in 2017 teen EG Jansen (28-34) die knie gebuig. Dit was ‘n kragmeting in die destydse Tuks-reeks.

Die laaste keer wat Garsies teen die span van Boksburg in die Noordvaal-reeks vasgeval het, was in 2013 (8-17) in die kwarteindronde van die destydse Beeldtrofee.

Dit sal EG se hoofafriger, Rudi Dames, se eerste eindstryd in die reeks as breier wees. Hy was natuurlik in 1999 in die eindstryd as skrumskakel vir HTS Vereeniging teen Affies in aksie. Dames wat die SA Skole-span ook daardie jaar verteenwoordig het, se direkte teenstander in die eindstryd was ‘n ene Fourie du Preez. Affies het met 19-8 as kampioen van die veld gestap.

Dames is egter ook ‘n ervare breier op skoolvlak. As hoofafrigter het hy al 154 eerstespanwedstryde op die kerfstok. Hy het in sy loopbaan tot dusver vir Glenwood (2014-16), Pretoria Boys’ High (2017-18) en EG Jansen (2019-hede) gebrei. Reghardt Botha was in 2013 EG Jansen se hoofafrigter toe die span as kampioen van die reeks gekroon was. Die Jansies het destyds vir Kempton Park in die eindstryd met 38-17 verslaan.

Saterdag sal die Hoërskool Garsfontein se vyfde verskyning in die eindstryd van die gesogte reeks wees. Die Bere het in 2015 en 2016 die kroon as kampioen gedra. In 2015 se eindstryd het hulle die Rooi Bulle van HTS Middelburg (42-40) in die eindstryd getroef om die kroon te dra.

In 2016 het hulle teen EG Jansen op Bere-park in die eindstryd ontmoet en met 32-22 koning gekraai. Interresant is dat van die vier eindstryde waarin die Garsies in aksie was hulle albei op hul tuisveld gewen het en in albei wegeindstryde die aftog moes blaas.

EG Jansen was ook drie keer in die eindstryd betrokke. Die span van Boksburg was in 2004, 2013 en 2016 teen onderskeidelik Affies, Kempton Park en Garsfontein in die eindstryd in aksie.

Die tweestryd tussen die SA Skole-buitesenter, Demitri Erasmus (Garsfontein), en sy direkte teenstander, Jeandré Jacobs, behoort een van die hoogtepunte van die eindstryd te wees. Erasmus se vermoë op verdediging op buitesenter op skolevlak waarskynlik sonder weerga, terwyl Jacobs met 12 drieë tot dusver in vanjaar se reeks die voorste driedrukker is.

EG Jansen se agtsteman, Zaide-Leigh Rippenaar, sal ook ‘n sleutelrol moet vertolk indien sy span vir ‘n opskudding wil sorg. Rippenaar het die Valke op die Cravenweek as flank verteenwoordig en sal sy span oor die voordeellyn met sy stormramlopies moet kry. Hy draf op agtsteman uit in die plek van die Jansies se kaptein, Nathan Matthee, wat ‘n kniebesering tydens die Cravenweek in George opgedoen het.

Matthee los sonder twyfel ‘n leemte in EG se span nie net as speler nie, maar ook as leier.

Die stryd in die skrums tussen EG se kaptein en vaskopstut, Marnus Swarts, en Garsfontein se DA Swart sal ook onder die vergrootglas wees.

Die spanne is:

Garsfontein: 15 Jason Hugo, 14 Ruan Enslin, 13 Demitri Erasmus, 12 Heinrich Cloete, 11 Cassie Prinsloo, 10 Nicallen Gabrielsen, 9 Zian Cilliers, 8 Abri van der Westhuysen (kaptein), 7 Stephan Pretorius, 6 Luan Olivier, 5 Divan Brits, 4 Aiden King, 3 Leighton-Jon Cloete, 2 De Wet Lottering, 1 DA Swart. Plaasverangers: 16 Aiden Holtzhausen, 17 Ethan van Wyk, 18 Jacques Swarts, 19 Harmandt Aucamp, 20 Thinus Oosthuizen, 21 Brooklyn Newman, 22 Luan Ferreira, 23 Handré Maree.

EG Jansen: 15 David Twala, 14 R-Jay Pietersen, 13 Jeandré Jacobs, 12 Keanu Engelbrecht, 11 Cameron van Wyk, 10 Ruan van Heerden, 9 Gordon Smith, 8 Zaide-Leigh Rippenaar, 7 Reon Pretoris, 6 Damian Kruger, 5 Michael Devy, 4 Duwan Potgieter, 3 Marnus Swarts (kaptein), 2 Danré Pike, 1 Shawn Simpson. Plaasvervangers: 16 Quan Snyman, 17 Zian Marais, 18 Ettiene Smit, 19 Gerhard van Aswegen, 20 Storm Labuschagne, 21 Waldo Werner, 22 Matthew Bergman, 23 Jeandré Claassen.

Skeidsregter: Vusi Msibi (Goue Leeus).
Afskop: 15:30

Ander eindstryde: 

14:00 – o.16 – Garsfontein vs Helpmekaar
12:30 – o.15 – Monument vs Helpekaar
11:00 – o.14 – Monument vs Noordheuwel

Vorige kampioene | SDC Noordvaal Cup Beker-afdeling:

Jaaro.19o.16o.15o.14
2022MonumentEG JansenHelpmekaarHelpmekaar
2019MenloparkHTS MiddelburgHelpmekaarMonument
2018MonumentMonumentMenloparkHelpmekaar
Hannes Nienaber
error: Sorry ol' chap, those shenanigans are not permissible.