SuperSport Schools News

Garsie Bere soek soete wraak teen gewonde Wit Bulle

By Hannes Nienaber , in Rugby | News , at 2023-06-10

PRETORIA. – Wanneer die Hoërskool Garsfontein en die Hoërskool Monument op die rugbyveld bots is daar altyd maar ‘n paar onafgehandelde sake om uit te sorteer.

Dit kan nie anders nie die twee spanne het die afgelope paar seisoene die pas in die Noordvaal-streek en veral in die SDC Noordvaal Cup se Beker-kompetisie aangegee.

Volg al die aksie regstreeks op SuperSport SchoolsKyk Regstreeks.

Vanjaar is dit weer die geval en die twee spanne wat verlede jaar mekaar in die eindstryd gepak het se mekaar ook Saterdag op Bere-park in Pretoria in ‘n titaniese stryd in die oudste skolereeks in Suid-Afrika die stryd aan.

Monument is die verdedigende kampioen en die onoorwonne Garsies sal vanjaar die bordjies teen die Wit Bulle wil verhang. Die Garsie Bere het verlede jaar slegs twee keer in alle wedstryde die knie gebuig en albei die nederlae was teen Monnas.

Die Wit Bulle is boonop gewond na hulle verlede week met 17-41 deur EG Jansen op hul tuisveld in Krugersdorp verslaan is. Dit was Monnas se eerste nederlaag in die SDC Noordvaal Cup sedert die halfeindronde van 2019 se reeks toe dit nog as die Virsekerbeker bekend gestaan het.

Garsfontein spog daarenteen met ‘n onoorwonne status in vanjaar se reeks en is feitlik weer op volsterkte na hy sy vorige twee kragmetings teen Menlopark (48-6) en Marais Viljoen (64-12) sonder ‘n hele paar staatmakers moet speel.

Die Bere het vanjaar nog net teen die land se voorste span, Grey-kollege (9-23), die knie gebuig.

Monnas se hoofafrigter, Tjaart van der Walt, het egter duidelik die resep hoe om die Bere te klop. Hy was voorheen ook die Bere se hoofafrigter en het ook vir die Bere se eerstespan uitgedraf.

Sedert hy Pretoria vir Krugersdorp verruil het, het Monnas nog net een keer in 2018 (39-49) teen Garsfontein die knie gebuig. Van der Walt het sedert sy skuif reeds sewe seges oor sy alma mater behaal.

Die Bere se hoofafrigter, Johan du Plessis, is self ‘n oud-Garsie en sy lemonade sal gewis Saterdag ‘n soeter smaak he indien sy span as oorwinnaars van die veld kan stap.

Waterkloof sal na Johannesburg reis vir ‘n baie belangrike kragmeting teen Helpmekaar-kollege. Die Klofies se kanse om tot die halfeindrondes van die Noordvaal-reeks deur te dring sal waarskynlik deur vandag se uitslag bepaal word.

Helpies beklee op die oomblik die boonste posisie op die puntelys en is tot dusver vanjaar ‘n moeilike span om tot oorgawe op sy tuisveld te dwing.

Volg al die aksie van die kragmeting regstreeks op SuperSport Schools Kyk Regstreeks.

Dr. EG Jansen van Boksburg sal op sy tuisveld vir Menlopark die stryd aanse. Die Jansies is nog onoorwonne vanjaar en kan die Parkies dalk so bietjie karnuffel.

Die kragmeting word regstreeks op SuperSport kanaal 216 uitgesaai. Dit kan ook regstreeks op SuperSport Schools gestroom word – Kyk Regstreeks.

Die Parkies het wel in die week ‘n hele paar tree gegee om hul rugbyprogram weer ‘n hupstoot te gee. Hulle het in die week aangekondig dat Jaco Dames by hul sal aansluit om die wintersporte te bemark.

Hy is reeds in die week ook by die afrigting op o.14-vlak nader getrek.

Die spanne is: 

Garsfontein: 15 Jason Hugo, 14 Ruan Enslin, 13 Dimitre Erasmus, 12 Heinrich Cloete, 11 Cassie Prinsloo, 10 Nicallen Gabrielsen, 9 Zian Cilliers, 8 Abri van der Westhuizen (kaptein), 7 Aiden King, 6 Luan Olivier, 5 James Schnetler, 4 Jacques Swarts, 3 Leighton Cloete, 2 De Wet Lottering, 1 DA Swart.

Monument: 15 Daylon Myners, 14 Nathan Venter, 13 Kelvin van Wyk, 12 Zain Henery, 11 Ernesto Oerson, 10 Justin Viljoen, 9 Ceano Everson, 8 Jamaal Feldman, 7 RJ Barnard, 6 Ryan Coetzee, 5 Uli van der Westhuizen, 4 Jacques Botha, 3 Ricardo du Plessis, 2 Tristan da Costa, 1 Muller van Reenen.

Afskop: 13:20

Ander wedstryde: 

12:30 – Helpmekaar vs Waterkloof; 14:00 – EG Jansen vs Menlopark.

Hannes Nienaber
error: Sorry ol' chap, those shenanigans are not permissible.