Garsie Bere geen gelyke noord van die Vaalrivier, Welkom Gim kampioen van die Shimla-liga

PRETORIA. – Die Garsie Bere het Saterdag die kroon op waarskynlik sy beste seisoen nog op die rugbyveld gespan.
Die Hoërskool Garsfontein het Saterdag met ‘n kliniese vertoning in die eindstryd van die SDC Noordvaal Cup se Beker-afdeling vir Dr. EG Jansen met 41-22 op Berepark verslaan. Die Bere het daarmee sy derde titel as kampioen van die reeks beklink.
Die Garsies het in 2015 en 2016 ook die kroon gedra. Dit was wel nie ‘n lang droogte sonder ‘n trofee nie, maar die Garsies sou voel dat hul dalk met ‘n tikkie meer geluk dalk al ‘n titel of twee ektra kon inpalm.
Die Garsies was van die begin in beheer in die eindstryd. Dit was veral die heelagter, Jason Hugo, wat weer uitstaande was. Hugo het telkens daarin geslaag om gapings in EG Jansen se verdediging te vind. Hy is sonder twyfel ‘n speler wat nog groot rugby in die toekoms kan speel.
Voorlangs het die haker, De Wet Lottering, waarskynlik sy beste vertoning van die jaar vir laaste gelos. Hy het die fisieke aanslag gelei en ook in die los gewoel.
Die Jansies het nooit gaan lê nie, maar het teen ‘n oormag baklei. Die span se slot Duwan Potgieter verdien ‘n klop op die skouer vir sy spel.
Hoërskool Rustenburg is as kampioen van die Plaat-afdeling gekroon toe hy vir Kempton Park met 49-24 in die eindstryd uitoorlê het.
Secunda het op sy tuisveld nie net daarin geslaag om Oos-Moot as kampioen van die Skild-afdeling te onttroon nie, maar is ook vir die tweede agtereenvolgende jaar as kampioen van een van Groep 1 se afdelings gekroon.
Secunda het die besoekers uit Pretoria met 35-29 in die Skild-eindstryd verslaan. Verlede jaar het Secunda vir Die Anker van Brakpan met 19-18 in die eindstryd in die Bowl-afdeling uitgestof.
Oos-Moot was die verdedigende kampioen van die Skild-afdeling na hy verlede jaar vir Hoërskool Klerksdorp in die eindstryd met 25-20 verslaan het.
Die Anker het vanjaar op sy tuisveld nie weer oor die laaste hekkie gestruikel nie. Die span van Brakpan het vir Wesvalia van Klerksdorp met 37-28 geklop om as kampioen van die Bowl-afdeling gekroon te word.
Die trofee as kampioen van die Kovsiestreekkompetisie se Shimla-liga het weer staanplek in Welkom gekry.
Welkom Gimnasium is welverdiend as kampioen van die reeks gekroon toe hy die Hoërskool Upington met 52-19 in die eindstryd op Shimlapark in Bloemfontein verslaan het.
Die span van Welkom se Cravenweek-losskakel, Renaldo Kiewiet, was weer op sy stukke en het twee keer gaan druk en ook drie doelskoppe oorgeklits. Die blitsige regtervleuel, Naven Goeda, was ook weer witwarm op die aanval.
Die Uppies het nooit moed opgegee nie. Sy kaptein en stut, PA Karsten, het al drie sy span se drieë afgerond.
Wilgerivier van Frankfort het vir St Andrew’s van die Rosestad met 71-17 in die eindstryd van die Irawa-liga gekarnuffel. Hoopstad het in die Colt-liga koning gekraai deur Postmasburg met 45-14 te klop.
Stellenberg het die bordjies met 21-14 teen die Hoërskool Durbanville in die twee spanne se jaarlikse tweestryd verhang. Die Jade Brigade se vaskopstut, Herman Lubbe, en binnesenter, Ruben Thompson, was uitstaande.
Rondebosch Boys’ High se kaptein en binnesenter, Matthew Malherbe, het in die doodsnikke gaan druk om sy span ‘n kans tot ‘n sege oor Bishops te gee. Die linkervleuel, Ethan Gordon, het die drie vervyf om aan sy span ‘n sege van 37-36 te besorg.
Al die uitslae:
SDC NOORDVAAL CUP EINDSTRYDE
Beker – o.19: Garsfontein 41, EG Jansen 22. o.16: Helpmekaar 36, Garsfontein 19. o.15: Monument 17, Helpmekaar 8. o.14: Monument 31, Noordheuwel 29. Plaat – o.19: Hoërskool Rustenburg 49, Kempton Park 24. o.16: Transvalia 15, Hoërskool Middelburg 12. o.15: Zwartkop 15, Kempton Park 12. o.14: Hoërskool Middelburg 13, Hoërskool Rustenburg 12. Skild – o.19: Secunda 35, Oos-Moot 29. o.16: Jeugland 11, Ligbron 9. o.15: Heidelberg Volkskool 33, Ben Vorster 7. o.14: Oos-Moot 30, Ben Vorster 26. Bowl – o.19: Die Anker 37, Wesvalia 28. o.16: Hoërskool Alberton 22, Wesvalia 7. o.15: Hoërskool Pietersburg 28, Wesvalia 13. o.14: Hoërskool Pietersburg 15, Die Anker 3.
KOVSIESTREEKKOMPETISIE EINDSTRYDE
Shimla-liga: Welkom Gimnasium 52, Hoërskool Upington 19. Irawa-liga: Wilgerivier 71, St Andrews 17. Colt-liga: Hoopstad 45, Postmasburg 14.
WES-KAAP
Rondebosch Boys’ High 36, Bishops 35; Wynberg Boys’ High 36, SACS 14; Stellenberg 21, Hoërskool Durbanville 12; Vishoek 39, Grootte Schuur 0.
- Grey College favourites once again to be crowned Champion of Champions - 2025-09-19
- RUGBY | Grey College – 2025 - 2025-09-18
- Witwarm Wilgies sal Prieska se Gadeija moet hokslaan - 2025-08-30