SuperSport Schools News

Garsfontein maak geskiedenis met eerste sege ooit oor Boishaai

By Franco Oberholzer , in Featured | Main Rugby | Featured Rugby | News , at 2026-03-30 Tags: , , ,

SW POTGIETER (met bal), slot van Hoërskool Garsfontein se Bere, was ‘n doring vir die span van Pretoria in sy geskiedkundige sege van 31-28 oor die Hoër Jongenskool Paarl in Pretoria. Levi Jordaan (links) leen ‘n hand van ondersteuning. FOTO: Frans Lombard/Actionpix.

Die Hoërskool Garsfontein se losskakel, Ruan Fluks, wat met ‘n skitterende vertoning aan die voorpunt van die Turkoois Bere se geskiedkundige oorwinning van 31-28 oor die Hoër Jongenskool Paarl tydens die derde dag van die jaarlikse NMI Toyota Noord/Suid-toernooi in Pretoria.

Dit was die eerste keer wat die Garsie Bere daarin kon slaag om Boishaai om te dop. Die naaste wat die span van die Jakarandastad voorheen aan ‘n sege kon kom was in 2022 die einste hoofveld van Affies toe die twee spanne met 19-elk gelykop gespeel het.

Kyk weer na al die aksie op SuperSport Schools (www.supersportschools.co.za).

Fluks se vertoning was nie net genoeg om die toekenning van Speler van die Wedstryd te gaps nie. Hy is ook uiteindelik as Fairtree Speler van die Dag aangewys.

Dié vertoning deur Fluks sal die Garsies se hoofafrigter, Sylvester Booysen, met ‘n lekker probleem vir later in die seisoen los, wanneer sy eerstekeuse losskakel, Joshua Gouws, sy terugkeer maak. Fluks het spel goed afgewissel en spel dikteer. Sy taktiese skopwerk, saam met ‘n foutlose uitstappie vanaf die skopkegel was uiteindelik die verskil tussen die twee spanne.

Die span van die Paarl was vinnig uit die blokke. Steelkantflank, Luhan Hattingh, het na ‘n goed afgeronde string fases die doellyn oorgesteek. Daarna het die res van die eerste helfte egter aan die Bere behoort. Die span in turkoois het niemand laat twyfel dat sy plan was om die vir Boishaai met fisieke duikslae en barslopies onder druk te plaas nie.

Dit het die Pretorianers toegelaat om ook die afbreekpunte te teiken, iets wat hy baie suksesvol vermag het.

Dit het ook daartoe gelei dat twee van sy drieë in die eerste 35 minute deur voorspelers, naamlik haker, Justin Blom, en die woelige oopkantflank, Stefan van der Vyver, gedruk is. Die haastigr regtervleuel, Yuvrah George, het daarna ook gewys wat hy kan doen indien hy net ‘n rapsie spasie gegun word. George het die Bere se derde drie van die helfte gedruk en sy span met 19-7 teen die omdraaislag laat voorloop.

Die wind was egter nog lank nie uit Boishaai se seile nie. Nes die Bere in eerste helfte het Boishaai se drie keer gaan druk sonder om punte af te staan.

Regtervleuel, Aleit Stander, se langafstand drie was moontlik die hoogtepunt van die dag, aangesien dit heeltemal teen die verloop van spel gekom het. Dié drie het ook aan die span van die Paarl weer die voortou gegee.

Dit was egter die Bere se staatmaker Drewyn Baron wat die oomblik in Garsfontein se geskiedenis gegrafeer het, nadat hy met tyd byna verstreke in die hoekie oorgeduik het.

Puntemakers: 

Garsfontein 31 (21) – Drieë: Justin Blom, Stefan van der Vyver, Yuvrah George, Drewyn Baron. Doelskoppe: Ruan Fluks (3). Strafdoel: Fluks. Paarl Boys’ High 28 (7) – Drieë: Luhan Hattingh, Aleit Stander, Ruben de Jager, Trichard van Tonder. Doelskoppe: ⁠⁠Daniël Meisenheimer (4).

Franco Oberholzer
error: Sorry ol' chap, those shenanigans are not permissible.