Garsfontein los die uitklophou ter elfder ure teen Affies by Montana o.17-sewestoernooi

Garsfontein moes sweet om hul groot vyande, Affies, te verslaan in verlede naweek se eindstryd by die Montana o.17 Sewetoernooi.
Die Garsie Bere het hul ritme na die halftyd-breuk gevind en teruggeveg om in die doodsnikke van die wedstryd ‘n wendrie aan te teken en Affies se harte te breek met ‘n epiese 29-26 sege.
Vang al die aksie op SuperSport Schools – Registreer nou – Skakel na die toernooi
Nathan Schwarts kon, met speeltyd iets van die verlede, ‘n laaste pragdrie druk om die titel vir sy span te verower, ondanks die onvermoeide verdediging deur die Affies seuns.
Nadat Affies verlede naweek op die Sutherland Sewes kroon beslag gelê het, en Garsfontein goed vertoon het by die NWU Prestige Sewestoernooi in Potchefstroom, het alle tekens daarna gedui dat hierdie twee spanne mekaar in ‘n titaniese stryd sal ontmoet hierdie naweek.
Die feit dat dit in die eindstryd plaasgevind het maak die kragmeting net nog meer opwindend.
Met ‘n gemiddelde telling van 38-8 oor die ses wedstryde die naweek is daar geen twyfel dat Garsies die toernooi domineer het nie, maar Affies het uiters goed gespeel om hul teenstanders in ‘n hoekie te druk. Hulle kon egter net nie lank genoeg uithou nie.
Die Garsfontein eerstespan het ‘n barsseisoen agter die rug. Hul enigste nederlaag hierdie jaar was teen Grey-kollege, toe hulle in April die knie moes buig teen die Bloemfonteiners by die Absa Wildeklawer Fees in Kimberley.
Die o.17 sewesspan lyk huidiglik net so indrukwekkend en verdien met hierdie oorwining dan ook hul plek by die Kampioenskap-toernooi wat in Oktober by Grey-kollege plaasvind.
Stephan Pretorius, Luann Olivier en hul kaptein, Brooklyn Newman is drie van Garsfontein-spelers wat uitgestaan het by die naweek se byeenkoms.
Newman is vroeër die jaar ingesluit by die SA Skole A span na sy vertoning by die Cravenweek in George, en Olivier was deel van die SA o.18 Sewesspan wat ‘n brons medalje verdien het by die Statebond Jeugspele in Trinidad en Tobago.
Hierdie toernooi het dan ook gedien as ‘n kans vir die Blou Bul keurders om die spelers in aksie te sien voordat die streekspanne eersdaags aangekondig word.
Menlopark het in net so ‘n titaniese stryd vir die derde posisie teen Waterkloof gewen met 22-19.
In die eerste helfte het albei spanne nog die water getoets en na sewe minute was daar nog bitter min tussen hulle op 7-5 in die Klofies se guns.
Na die breuk het albei spanne die bal laat loop en skielik was dit ‘n baie opwindende wedstryd.
Met net 30 sekondes oor op die horlosie was Waterkloof in die bestuurssitplek met ‘n 19-15 voorsprong. Menlo kon egter die besit van die bal oorneem en uit hul eie gevaargebied breuk om vir Leskin Samuels oor te stuur vir die wendrie om ‘n dramatiese einde aan die wedstryd te bring.
Oos-Moot kon met 15-5 teen die tuisspan die loef afsteek in die Plaat-eindstryd.
Montana het in die kwareindronde teen Menlopark vasgeloop, wie hul veldtog vir die beker kon kortknip met ‘n omvattende 31-0 sege, voor daardie wedstryd was die tuisspan egter nog onoorwonne, met drie goeie seges oor Eldoraigne (14-10), Sutherland (42-0) en Curro Roodeplaat (32-0) om bo aan hul groep te eindig.
Menlopark het op hul beurt weer teen Affies uitgeval in die halfeindstryd. Teen halftyd was die wedstryd nog oop vir albei spanne om te gryp op 14-12 in Affies se guns.
In die tweede helfte was daar egter net een span in die wedstryd en Affies kon 27 punte sonder antwoord aanteken.
Die uitslae:
Poel A: Garsfontein 48, Wonderboom 5; Pretoria-Noord 35, Erasmus Uitnodigingspan 7; Garsfontein 54, Erasmus Uitnodigingspan 0; Pretoria-Noord 21, Wonderboom 17; Garsfontein 39, Pretoria-Noord 0; Wonderboom 12, Erasmus Uitnodigingspan 7.
Poel B: Waterkloof 45 HTS John Vorster 0; Amberfield College Uitnodigingspan 19, Die Wilgers 17; Waterkloof 26, Amberfield College Uitnodigingspan 7; HTS John Vorster 17, Die Wilgers 12; Amberfield College Uitnodigingspan 26, HTS John Vorster 19; Waterkloof 43, Die Wilgers 5.
Poel C: Affies 24, Zayo Academy 19; Centurion 19, Rietondale 0; Affies 59, Rietondale 5; Zayo Academy 21, Centurion 12; Affies 43, Centurion 0; Zayo Academy 42, Rietondale 14.
Poel D: Oos-Moot 12, Zwartkop 5; Curro Hazeldean 34, Gerrit Maritz 0; Oos-Moot 71, Gerit Maritz 0; Zwartkop 57, Curro Hazeldean 0; Oos-Moot 52, Curro Hazeldean 0; Zwartkop 59, Gerrit Maritz 0.
Poel E: Montana 14, Eldoraigne 10; Sutherland 29, Curro Roodeplaat 0; Eldoraigne 39, Curro Roodeplaat 14; Montana 42, Sutherland 0; Montana 32, Curro Roodeplaat 0; Eldoraigne 42, Sutherland 5.
Poel F: Erasmus 24, Montana Uitnodigingspan 14; Menlopark 19, Pretoria Boys’ High 12; Menlopark 47, Montana Uitnodigingspan 5; Pretoria Boys’ High 21, Erasmus 17; Menlopark 38, Erasmus 21; Pretoria Boys’ High 40, Montana Uitnodigingspan 7.
Kwarteindronde
Beker: Garsfontein 38 (19), Zwartkop 7 (7); Waterkloof 24 (14), Oos-Moot 0; Menlopark 31 (19), Montana 0; Affies 59 (19), Zayo Academy 7 (0).
Bowl: Pretoria-Noord 31 (17), Sutherland 12 (5); Wonderboom 21 (12), HTS John Vorster 12 (7); Eldoraigne 33 (19), Centurion 7 (7); Pretoria Boys’ High 21 (14), Erasmus 17 (7);
Halfeindronde
Beker: Garsfontein 19 (12), Waterkloof 12 (7); Affies 41 (14), Menlopark 12 (12).
Plaat: Montana 31 (19), Zayo Academy 7 (0); Oos-Moot 28 (12), Zwartkop 17 (0).
Eindstryd
Beker: Garsfontein 29 (10), Affies 26 (14); (Derde plek) Menlopark 22 (5), Waterkloof 19 (7).
Plaat: Oos-Moot 15 (10), Montana 5 (0).
Bowl: Eldoraigne 29 (17), Pretoria-Noord 0.
Skild: Die Wilgers 26 (12), Montana Uitnodigingspan 0.
Die kampioenspan
Garsfontein: JP Pieterse, Ruan Enslin, Handre Maree, Ruwald Horn, Nathan Schwartz, 7 Brooklyn Newman, Luann Olivier, Xian Erasmus, Luan Ferreira, Wihan van den Berg, Stephan Pretorius, Aiden King.





