SuperSport Schools Plus

Fletcher en Jansen baljaar in die middelveld vir Brandwag in Super-reeks


Tuis - HOËRSKOOL LINDENDie Hoërskool Brandwag van Benoni en Hoërskool Linden sal mekaar in die eindstryd van vanjaar se Super-reeks die stryd aansê.

Albei spanne moet egter nog komende Saterdag teen onderskeidelik Generaal Hertzog van Witbank en die Hoërskool Tuine van Pretoria in hul laaste groepwedstryde uitdraf voordat hul aandag na die eindstryd op 12 April kan verskuif.

Brandwag was op sy stukke en het Birchleigh Saterdag met 71-10 kaf gedraf. Die wenspan het in totaal 11 drieë ingeryg waarvan die buitesenter en onderkaptein, Tristan Fletcher, drie gedruk het. Fletcher was sonder twyfel sy span se beste speler op die dag.

Die span se haker, Damian Minnaar, asook die binnesenter, Dirk Jansen, het elk ook twee keer ‘n draai agter die doellyn gemaak. Minnaar het met sy stormramlopies gesorg dat sy span deurgans op die voorvoet bly.

Brandwag se kaptein en loskopstut, Wian Riekert, het in die skrums vir Birchleigh laat kreun. Die flank Ian Venter het by die afbreekpunte ook seker gemaak dat Birchleigh se besit so ietwat stadiger was, as wat hul dit graag sou wou hê.

Die wenspan se skrumskakel, Jason Coetzer, het gesorg dat sy agterlyn skoon balbesit van die voorspelers ontvang. Dit het bygedra tot die feit dat Jansen en Fletcher agterlangs kon baljaar. Die heelagter, Zander Gower, verdien ook vermelding vir die manier hoe hy aansluiting by die agterlyn gevind het.

Linden het sy onoorwonne status in die reeks behou deur Vereeniging Gimnasium op laasgenoemde se tuisveld met 30-12 te klop.

Dit was veral die flank Heinrich Bothma se verdediging wat gesorg het dat die Gimmies nie op die voorvoet kon kom nie. Agterlangs het die binnesenter, Etienne Fouché, deurgans daarin geslaag om bresse in die verdediging te slaan. Hy is sy skitterende aanvallende spel met twee drieë beloon.

Hoogenhout van Bethal het vir Generaal Hertzog van Witbank met 55-7 geklop. Die span se binnesenter, Pieter Viljoen, het vanaf die afskop gaan druk om die besoekers onder druk te plaas. Viljoen het ‘n driekuns aan drieë behaal.

Die linkervleuel, Mongezi Dlamini, het met vlugvoetigheid ‘n hele paar verdedigers na lug laat gryp.

Puntemakers: 

Linden 30 – Drieë: Etienne Fouché (2), Roelof Smit. Doelskoppe: Schuler van der Berg (3). Strafdoele: Van der Berg (3). Vereeniging Gimnasium 12 – Drië: Lemarium Sandamela, AJ Theron. Doelskop: JJ Herbst.

Hoogenhout 55 (15) – Drieë: Pieter Viljoen (3), Thabang Mphore (2), Sonwabo Simelane, Siyabonga Shabangu, Dandré Els. Doelskoppe: Jacques Bosch (4), Shabangu (2). Strafdoel: Shabangu Generaal Hertzog 7 (0).

Brandwag (Benoni) 71 – Drieë: Tristan Fletcher (3), Damian Minnaar (2), Dirk Jansen (2), Johndré Pienaar, Ruben Crauwcamp, Jayden Diedericks, Jayden van Staden. Doelskoppe: Jason Coetzer (7), Zander Gower. Birchleigh 10.

Ander spanne: 

Eerstespanne: Hoërskool Tuine 20, HTS Tuine 6 (Ongelukkig geen puntemakers van enige van die spanne ontvang nie).

o.16: Hoogenhout 33, Generaal Hertzog 13; Linden 28, Vereeniging Gimnasium 5; Hoërskool Tuine 31, HTS Tuine 10; Brandwag 43, Birchleigh 0.

o.15: Hoogenhout 40, Generaal Hertzog 5; Linden 8, Vereeniging Gimnasium 0; Hoërskool Tuine 40, HTS Tuine 5; Brandwag 32, Birchleigh 3.

o.14: Hoogenhout 8, Generaal Hertzog 0; Linden 50, Vereeniging Gimnasium 7; HTS Tuine 26, Hoërskool Tuine 5; Brandwag 36, Birchleigh 5.

Hannes Nienaber
error: Sorry ol' chap, those shenanigans are not permissible.