SuperSport Schools Plus

Fichies en Henties deel louere op Clover Sportdag

By Hannes Nienaber , in Rugby | News , at 2015-03-09 Tags:

Die Hoërskool Fichardtpark en Hentie Cilliers van Virginia se eerste rugbyspanne het 24-elk gelykop in die hoofwedstryd van Fichies se jaarlikse sportdag in ‘n wipplankstryd gespeel.

Albei spanne het met rukke se stote gespeel, maar die kere wat hulle aan die gang gekom het, het albei gevaarlik op die aanval gelyk. Die gasheer se buitesenter, Myburgh van Zyl, was sy span se beste speler op die dag. Hy het boonop twee indrukwekkende drieë afgerond. Sy sentermaat, Lohan Zeelie, het self twee keer gaan druk.

Henties se losskakel, Domenic Smit, was egter die beste speler op die veld. Hy het telke male verby verdedigers met sy vinnige voetwerk gedans. Smit het self twee keer gaan druk en sy taktiese skopwerk het Fichies ook op hulle tone gehou. Die span van Virginia se kantman, Gift Leremi, was alomteenwoordig en is vir sy goeie opvolgwerk met ‘n drie beloon.

Sentraal se Jeremy Koen het met speeltyd reeds verstreke vanaf ‘n tikskoppie vyf tree van die doellyn af oorgeval om aan sy span die kans te gee om uiteindelik vir Diamantveld met 24-22 te troef. Die doelskop van die losskakel, Timmy Robertson, het aan Tralies die sege besorg.

Diamonds se agtsteman, Vannas Herhold, het vier keer vir die verloorspan oorgeval vanaf dryfmaalbewegings van lynstane af.

Louis Botha moes hard werk om Landboudal van Jacobsdal met 14-3 tot oorgawe ted wing. Die held in die oorwinning was gewis die buitesenter, Luciano Jones, wat ‘n hele paar sterk lopies ingekry het. Die kantman, Siya Luwaca, het ook met sy spel beïndruk. Lanties se agttal het in die skrums oorheers met hulle skrumskakel, CD Wilke, wat met dié gehalte balbesit baljaar het.

Noord-Kaap was in ‘n verwoestende bui teen Welkom Gimnasium en het uiteindelik met die telling op 38-28 as oorwinnaars van die veld gestap. Die span van die Diamantstad het in die laaste vyf minute twee drieë afgestaan.
Northerns se Cravenweek-heelagter, Wilfred Bowers, het ‘n hele paar gevaarlike aanvalle vanuit die laaste vesting geloots. Die span se agtsteman, Gerhard Holtzhausen, het ook ‘n paar goeie lopies ingekry en leiding voorlangs gegee. Die losskakel, Cleo Adams, en vleuel Cameron Hufke, kan ook meer as tevrede met hulle vertonings voel.

Gimmies se senter, Richmon Gora, het Northerns se verdediging deurgans beproef, maar dit was dalk sy rotsvaste verdediging wat die meeste uitgestaan het. Die span se heelagter, Ezrick Alexander, het in die tweede helfte ook ‘n paar gevaarlike lopies ingekry.

Puntemakers: 

Fichardtpark 24 (7) – Drieë: Myburgh van Zyl (2), Lohan Zeelie (2). Doelskoppe: Janco Pretorius (2). Hentie Cilliers 24 (5) – Drieë: Domenic Smit (2), Gift Leremi, Thebe Letsholo. Doelskoppe: Smit (2). 

Sentraal 24 (12) – Drieë: Roan van der Westhuizen, Stephano Ekkard, Hennie Terblanché, Jeremy Koen. Doelskoppe: Timmy Robertson (2). Diamantveld 22 (5) – Drieë: Vannas Herhold (4). Doelskop: Sergio Casper. 

Louis Botha 14 (0) – Drieë: Azakhiwe Afrika, Siya Luwaca. Doelskoppe: Jeandré Christian (2). Landboudal 3 (0) – Strafdoel: Tiaan van Wyk. 

Noord-Kaap 38 (19) – Drieë: Cameron Hufke (2), Zayne Farmer (2), Gladwin Nieuwenhuysen, Schalk Smit. Doelskoppe: Hufke (4). Welkom Gimnasium 28 (7) – Drieë: Richmon Gora, Danie Hendriks, Karabo Rantacko, Triston Rothman. Doelskoppe: Jason Olivier (4).

Hannes Nienaber
error: Sorry ol' chap, those shenanigans are not permissible.