Fichie Leeus steeds onoorwonne vanjaar na sege oor Trekkers

Die Hoërskool Fichardtpark kon hul merkwaardige rekord hierdie seisoen verdedig toe hulle Vrydag in hul laaste Wesgrow Sentrale Sportreeks bepaling vir hierdie kwartaal teen Voortrekker in Bloemfontein gespeel het.
Die wedstryde op die A-veld is almal beskikbaar om te kyk op SuperSport Schools – Registreer nou
Die Fichie Leeus maak dit dan 15 agtereenvolgende wedstryde sonder om te verloor hierdie seisoen, na hulle gemaklik met die besoekers uit Bethlehem kon afsien om ‘n 33-18 oorwinning in die sak te steek.
Dit was weer die Bloemfonteiners se sterspeler wat vroeg in die wedstryd al hul stempel afgedruk het.
Na ‘n vroeë strafdoel vir Tiaan van Rooyen, Voortrekker se losskakel, was dit die tuisspan wat al die druk toegepas het.
Dailen Geldenhuys (losskakel), Devanté Claassen (skrumskakel) en kaptein, Jaco Grobbelaar (slot) was op hul stukke, en dit was hul volgehoude druk wat gelei het na Fichardtpark se eerste drie binne die eerste sewe minute toe hul groot stut, Nathan Swanepoel, die bal langs die losgemaal kon oordra.
Claassen kon kort daarna ook aan sy eie rekord bou met nog ‘n drie. Hy is onstuitbaar rondom die losgemaal hierdie seisoen, en kon weer twee verdedigers saam met hom oor die doellyn dra.
Luhan du Plessis (haker) kon toe ook ‘n rolmaalbeweging afrond vir sy eerste drie, en ondanks ‘n geel kaart vir die tuisspan laat in die eerste helfte, was hulle redelik gemaklik in beheer van die wedstryd met 19-6 teen halftyd.
Du Plessis verbeter toe hul posisie met nog ‘n drie net na die breuk.
Die Trekkers het weereens goeie karakter gewys en geveg tot die einde. Met 20 minute oor in die wedstryd het hulle ‘n pragdrie gedruk, toe Alexander Maree (skrumskakel) ‘n beweging begin deur om die bal aan Craig Mann (senter) te gee, Mann vang toe die Fichie Leeus uit met ‘n uitstekende langaangee na die blitisige Kaneng Komane (vleuel) wie ‘n oop doellyn voor hom gehad het.
Die Fichie Leeus slaan toe egter terug met mening, en na ‘n lang periode van volgehoue druk, waar die Trekkers moes skarrel om hulle uit te hou, is dit toe die tuisspan se kaptein wat hul laaste drie druk. Hy het dit definitief verdien vir al sy harde werk op die dag.
Alberto Argentino (slot), wie ook heel dag uitgeblink het vir die besoekers, kry toe die laaste woord in vir die span van Bethlehem met ‘n drie aan die einde, maar dit was te min, te laat, en die Fichie Leeus sit hul merkwaardige seisoen voort met nog ‘n indrukwekkende sege.
Jim Fouché beleef self ‘n sterk rugby jaar. Hulle het goed gedoen om Saterdag vir Landboudal 27-12 te wen danksy drieë deur hul staatmaker spelers, wie week na week vir hulle uitstaan.
CJ Raath (flank), Calvin Bolt (no. 8), SW van der Merwe (slot), Altus du Plessis (vleuel), Triton van der Walt (skrumskakel) en hul kaptein en rots, Stefan Venter (haker) was almal op die telbord vir die Bloemfonteiners.
Sentraal se binnesenter, Reece van Rooyen, het sake in sy eie hande geneem teen HTS Louis Botha. ‘n Driekuns vir hom het hulle toegelaat om ‘n belangrike wen oor hul buurskool te kry.
Na Hoërskool Bloemfontein en Zastron verlede jaar op Zastron 19-elk sussies gesoen het, was dit Zastron wat hierdie jaar die oorhand gehad het in Bloemfontein. Hulle wen 39-17.
Puntemakers:
Fichardtpark 33 (19) – Drieë: Luhan du Plessis (2), Nathan Swanepoel, Devanté Claassen, Jaco Grobbelaar. Doelskoppe: Dailen Geldenhuys (4). Voortrekker 18 (6) – Drieë: Kaneng Komane, Alberto Argentino. Doelskop: Tiaan van Rooyen. Strafdoelle: Van Rooyen (2).
Jim Fouché 27 – Drieë: CJ Raath, Calvin Bolt, Stefan Venter, SW van der Merwe, Altus du Plessis, Triston van der Walt. Doelskop – Van der Walt. Lanbdoudal 12 – Drieë: Marius Etzebeth, Bielie Davel. Doelskop: Vuyani Moore.
Sentraal 31 (14) – Drieë: Reece van Rooyen (3), Marnus Earle. Doelskoppe: Van Rooyen (3), Ruan van Niekerk. Strafdoel: Van Rooyen. HTS Louis Botha – 21 (7) .
Zastron 39 – Drieë: Lecha Leballo, Kamo Mailoane, A Diba, Reeinico Nel, Jaycee Knoetse. Doelskoppe: Nel (3), Diba. Strafdoel: Nel (2) Hoërskool Bloemfontein 17 – Drieë: Caydon Ontong, Frans Goliath, Merlique May. Doelskop: Waylon Cedras.
Ander uitslae:
o.19 – Voortrekker II 26, Fichardtpark II 19; Voortrekker III 53, Fichardtpark 7; Landboudal II 12, Jim Fouché 5.
o.16 – Voortrekker 48, Fichardtpark 0; Voortrekker II 29, Fichardtpark 0; Jim Fouché 26, Landboudal 0.
o.15 – Fichardtpark 22, Voortrekker 19; Fichardtpark II 17, Voortrekker II 12; Landboudal 29, Jim Fouché 0.
o.14 – Voortrekker 13, Fichardtpark 3; Voortrekker II 45, Fichardtpark II 17; Jim Fouché 63, Landboudal 0.




