SuperSport Schools Plus

Fichie Leeus maak geskiedenis in Vrystaat-liga

By Hannes Nienaber , in Rugby | Featured Rugby | News , at 2025-08-18 Tags: , , ,

Die Hoërskool Fichardtpark se Leeus het Saterdag in die Toyota-stadion in Bloemfontein geskiedenis gemaak.

Die Leeus het met sy sege van 17-10 oor Jim Fouché in die eindstryd van die Vrystaatse A-liga die eerste eerstespan in die skool se geskiedenis geword om as kampioen van dié liga gekroon te word.

Fichies het voor Saterdag nog net een keer vantevore tot die eindstryd deurgedring. Dit was in 2023 toe hy teen Jim Fouché met 25-31 die knie gebuig het.

Soos verwag het dit ‘n reuse spanpoging van die Fichie Leeus geverg, veral op verdediging. JF het die ligawedstryd tussen die twee spanne vroeër vanjaar met 22-13 gewen.

Boonop was dié eindstryd JF se hoofafrigter, Corné Erasmus, se 11de in die Vrystaatse A-liga. Erasmus is ook een van die Vrystaat se Cravenweek-afrigters.

Die eerste helfte was kliphard met Fichies wat ‘n voorsprong van 7-3 teen rustyd geniet het. Hul drie was danksy ‘n uitmuntende rolmaalbeweging vanaf JF se kwartlyn met flank John Nelson wat gedruk het.

JF het boonop een van hul sterspelers die Cravenweek-skrumskakel, Brendon de Wee, na slegs 20 minute se spel weens ‘n besering verloor.

Die Leeus se tweede drie is deur sy regtervleuel, Matthew Valentine, gedruk. Hy het die verloorspan elke keer probleme besorg as hy in besit gestel is. Sy pa William Valentine het op sy dag vir Griekwas asook die Vrystaat se seniorspanne uitgedraf.

Buiten Valentine het die haker, Marno Smit, Nelson asook die kaptein en skrumskakel, JM Rensburg, blink vertonings vir die wenspan opgedis. Die grondslag vir die sege is egter deur die span se rotsvaste verdediging gelê.

Die Fichie Leeus word deur Zandré Pienaar en André Burger afgerig.

Fichardtpark sal nou eerskomende Saterdag in die halfeindronde van die Kovsiestreekkompetisie se Shimla-liga teen Diamantveld te staan kom. Dit sal die derde keer vanjaar wees dat die twee spanne kragte meet na hulle ook op Fichardtpark se Sportdag asook tydens die Wesgrow-reeks teen mekaar te staan gekom het.

In die Wesgrow-wedstryd het die Leeus met 5-61 in die stof gebyt, terwyl hulle tydens hul sportdag met 7-25 die onderspit gedelf het.

In die ander halfeindstryd van die reeks sal Witteberg in Welkom teen Hoërskool Upington te staan kom.

Puntemakers: 

Fichardtpark 17 (7) – Drieë: Matthew Valentine, Josh Nelson. Doelskoppe: JM Rensburg (2). Strafdoel: Rensburg. Jim Fouché 10 (3) – Drie: HJ Noeth. Doelskop: JG Noeth. Strafdoel: JG Noeth.

Hannes Nienaber
error: Sorry ol' chap, those shenanigans are not permissible.