Fichie Leeus brul aan die Oos-Rand, terwyl JF en Secunda sussies soen

Fichardtpark is op toer na Benoni, en is besig om aan hul uitstekende onoorwonne streek hierdie seisoen te bou.
Die span van Bloemfontein het Donderdag teen Hans Moore gespeel en gemaklik met 40-0 gewen.
Wian Pienaar (flank), Edward Mpinga (vleuel) en Devante Claassen (skrumskakel) kon al drie in die eerste helfte druk.
Die Fichie Leeus het die tweede helfte met dieselfde energie begin, en vroeg na spel hervat is het hulle ‘n strafdrie afgedwing.
Daarna het Janco Mollentze (vleuel) twee skitterende drieë gedruk. Albei bewegings het op die halflyn begin, met Mollentze wat eenvoudig te vinnig was om te keer sodra hy die bal in spasie ontvang het.
Mollentze, Claassen en Pule Motsilili (heelagter) het uitstekende wedstryde beleef en Dailen Geldenhuys (losskakel) se skopvoet was ingestel.
Die Bloemfonteiners was toe Saterdag weer in aksie teen Brandwag van Benoni. Hierdie wedstryd het hulle ook goed met 50-19 gewen.
Die toerspan het agt drieë teen Brandwag gedruk. Twee van die agt is deur hul staatmaker haker, Jaco Janse van Rensburg, gedruk en Geldenhuys en Motsilili kon 12 ekstra punte met doelskoppe bydra.
Jim Fouché is nog ‘n Bloemfonteinse span wat ‘n goeie wenrekord op die oomblik geniet, maar hulle het hul grootste toets tot dusver in die seisoen Vrydag beleef teen die Hoërskool Secunda.
Dit was ‘n enorme stryd in Bloemfontein maar toe die eindfluitjie blaas was daar steeds niks om die spanne te skei nie. Die wedstryd eindig met die telling op 31-elk.
Vir JF het hul haker en kaptein, Stefan Venter, weer uitgestaan. Venter is nog heel seisoen ‘n uitblinker en doen baie goed om die kapteinskap verantwoordelikhede oor te neem terwyl Phillip Noëth nog beseer is.
Hul skrumskakel, Tristan van der Walt, is net so indrukwekkend. Hy het ‘n drie gedruk en 16 addisionele punte met verdoelings en strafskoppe bygelas.
Luan Lottering het ‘n driekuns drieë gedruk vir die span van Mpumalanga.
Secunda het al reeds met ‘n sege oor Hilton College en Hoërskool Nelspruit, en ‘n stewige vertoning teen Paul Roos Gimnasium bewys dat hulle ‘n gedugte span hierdie jaar in die veld stoot, maar Jim Fouché is ook op topvorm die seisoen.
Die puntemakers:
Fichardtpark 40 (21) – Drieë: Janco Mollentze (2), Wian Pienaar, Edward Mpinga, Devante Claassen, Strafdrie. Verdoellings: Dailen Geldenhuys (4) Hans Moore 0.
Fichardtpark 50 – Drieë: Jaco Janse van Rensburg (2), Devante Claassen, Edward Mpinga, Janco Mollentze, MJ Hattinngh, Jaco Grobbelaar, Nathan Dodd. Verdoelings: Dailen Geldenhuys (4), Pule Motsilili (2). Brandwag (Benoni) 19.
Jim Fouché 31 – Drieë: Stefan Venter (2), Tristan van der Walt. Verdoelings: Tristan van der Walt (2). Strafskoppe: Tristan van der Walt (4). Secunda 31 – Drieë: Luan Lottering (3), Lie-Chaen Müller, Tiaan de la Rey. Verdoelings: Luan Lottering (3).




