Fichardtpark behou onoorwonne status met klinkende sege in Wesgrow-reeks
Die Wesgrow Sentrale Sportreeks het Saterdag na die vakansie weer hervat en Fichardtpark is nou na 16 wedstryde hierdie seisoen steeds onoorwonne na ‘n 41-17 sege oor Goudveld in Bloemfontein.
Volg al die aksie op SuperSport Schools – Registreer nou
Die Bloemfonteiners het die wedstryd oorheers, en ‘n drie op sy tuisveld was die perfekte manier om hul held, Fichardtpark se eerste SA Skolespeler, Jaco Grobbelaar (slot), terug te verwelkom in die Fichie trui na sy prestasies gedurende die skoolvakansie.
Vir Goudveld was hul heelagter, Tyrece Britz, die uitblinker met sy twee drieë.
Die Fichie Leeus het egter die wedstryd oorheers en as hulle volgende naweek teen Witteberg nog ‘n oorwinning kan kry sluit hulle hul Wesgrow veldtog onoorwonne af, met slegs die 17-elk gelykop teen Hoërskool Trio wat hulle nie gewen het nie.
Voortrekker het ook in ‘n omvattende vertoning in Bethlehem met 46-17 teen Diamantveld gewen.
Craig Mann (senter) en hul Cravenweek-flank, Fano Linde, kon elk twee drieë druk.
Linde is ook onlang gekies as deel van die SA o.18 Sewes groep wat by die Statebond Jeugspele in Trinidad en Tobago gaan deelneem in Augustus.
Die Trekkers se losskakel, Tiaan van Rooyen, was ook deurlopend betrokke en kon 21 punte bydra met ‘n drie, vyf doelskoppe en twee strafdoelle.
Na Witteberg in ‘n opwarmingswedstryd Maandag vir Transvalia met 32-12 kon klop, kon hulle nie dieselfde ritme teen Jim Fouché vind nie.
JF kom met 45-24 as oorwinaars uit daardie ontmoeting uit na hul Cravenweek haker, Stefan Venter, hul agsteman, Calvin Bolt, en hul groot slot, SW van der Merwe, elk twee drieë kon druk.
Na 45 minute was die telling nog gelykop op 24-elk, voor die besoekers die sluise kon oopdraai.
Hul skrumskakel, Tristan van der Walt, het ook weer uitgestaan in daardie wedstryd.
Hoërskool Trio se ster-losskakel, Byron Biennas, het weer uitgeblink vir die span van Kroonstad met ‘n drie, drie doelskoppe en twee strafdoelle in hul 37-14 oorwinning oor Sentraal in Bloemfontein.
Biennas het gedurende die vakansie ook uitgestaan vir die Griffons by die Akademieweek in Johannesburg.
Sentraal was met halftyd nog 14-10 voor, maar kon in die tweede helfte nie weer punte aanteken nie.
Puntemakers:
Fichardtpark 41 (17) – Drieë: Duan Viviers, Luhan du Plessis, Jaco Grobbelaar, Zaine van Zyl, Jan-Nel du Plessis, Edward Mpinga, MJ Hattingh. Doelskoppe: Dailen Geldenhuys (2), Devanté Claassen. Goudveld 17 (7) – Drieë: Tyrece Britz (2), Urban Pienaar. Doelskop: Ruben Crous.
Voortrekker 46 (27) – Drieë: Craig Mann (2), Fano Linde (2), Tiaan van Rooyen, Kamohelo Moses. Doelskoppe: Van Rooyen (5). Strafdoele: Van Rooyen (2). Diamantveld 17 (12) – Drieë: Valentino Lenge (2), Simon Liversage. Conversion: Liversage.
Jim Fouché 45 (19) – Drieë: Stefan Venter (2), Calvin Bolt (2), SW van der Merwe (2), Hanko Botha. Doelskoppe: Tristan van der Walt (5) Witteberg 24 (12) – Drieë: Dries Stemmet, Kenyon Morat, Xavier Lotter, Pieter Nel. Doelskoppe: Stemmet (2).
Hoërskool Trio 37 (10) – Drieë: JP Botha, Byron Biennas, Ewald Tolmay, Haaron Kabeya, JD Kirstein. Doelskoppe: Biennas (3). Strafdoelle: Biennas (2). Sentraal 14 (14) – Drieë: Johan van der Merwe, Reece van Rooyen. Doelskoppe: Van Rooyen (2).
Ander spanne:
o.19B: Hoërskool Trio II 29, Sentraal II 8; Diamantveld II 25, Voortrekker II 14; Fichardtpark II 36, Goudveld II 22; Witteberg II 44, Jim Fouché II 24.
o.16: Hoërskool Trio 64, Sentraal 0; Diamantveld 21, Voortrekker 14; Fichardtpark 24, Goudveld 8; Jim Fouché 29, Witteberg 7.
o.15: Sentraal 31, Hoërskool Trio 7; Voortrekker 24, Diamantveld 20; Fichardtpark 29, Goudveld 5; Witteberg 43, Jim Fouché 0.
o.14: Hoërskool Trio 7, Sentraal 0; Voortrekker 50, Diamantveld 0; Fichardtpark 19, Goudveld 7; Jim Fouché 7, Witteberg 5.




