Ermelo smag steeds na eerste Bowl-sege


Gedurende die laaste twee rondes van die SDC Noordvaal Cup se Bowl-afdeling het Hoërskool Ermelo hard aan die deur geklop vir ‘n eerste oorwinning as nuweling in vanjaar se reeks. Dit maak van Saterdag se tuiswedstryd teen Hoërskool Eldoraigne ‘n interessante kragmeting.
Volg al die Bowl-aksie regstreeks op SuperSport Schools – (www.supersportschools.com)
In sy onlangste uitstappie, het die span van Ermelo byna ‘n merkwaardige sege oor Hoërskool Randburg behaal. In ‘n wedstryd wat gesamentlik 99 punte opgelewer het, het hy naelskraaps met 47-52 vasgeval. Hoewel hy oplaas die onderspit gedelf het, het Ermelo nietemin sewe aanskoulike drieë om ‘n duidelike waarskuwing aan die Eldos te rig voor hierdie Saterdag se stryd.
Die besoekers van Centurion sal beslis moet let op hul dissipline, andersins kan die skopskoen van Ermelo-heelagter, WJ Pretorius, hulle kwaai straf. Pretorius se taktiese skopwerk behoort ook die besoekers se agterste driehoek vir die volle 70 minute op hul tone te hou.
Voorts sal die tuisspan se binnesenter, en driekunsheld teen Randburg, Nicolas Steyn, fyn dopgehou moet word in die middeveld.
Uit die kamp van die Drake is die goeie nuus dat hulle einde ten laaste die tog na Ermelo aanpak met hul sterkste moontlike span. Die terugkeer van die woelige slot, MC Scheepers, verleen heelwat woema aan die Eldos se pak, terwyl Justin Meintjies ook weer die agterlyn vir die loopgraafoorlogvoering voorlangs, op agsteman, verruil.
In die agterlyn verwelkom Eldos vir staatmaker, Kevin Earle, terug op binnesenter, wat ‘n aanskoulike tweestryd met Steyn beloof. Earle sluit aan by sentermaat, Juawan Pieterse, wat die vorige week nog op agsteman diens verrig het. Kaptein, Darren Bruwer, is weer in aksie op losskakel, waar hy sedert sy terugkeer van ‘n besering ‘n daadwerklike impak gemaak het.
Die spanne:
Hoërskool Ermelo t. Eldoraigne om 13:20 in Eldoraigne:
Ermelo (moontlik): 15 WJ Pretorius, 14 Luthando Mahlangi, 13 HJ Hobkirk, 12 Nicolas Steyn, 11 Thabo Mokwena, 10 Janco Kleynhas, 9 Dick Rouillard, 8 Cules Hamman, 7 Marco de bruin, 6 WJ Cronje, 5 Janneman Malan, 4 De La Rey Hattingh, 3 Jacques Diedericks, 2 Ruan Grobler, 1 Hennie Geel.
Eldoraigne: 15 Hugo Theron, 14 Tristan Lee, 13 Juawan Pieterse, 12 Kevin Earle, 11 Hanno Jacobs, 10 Darren Bruwer, 9 Aiden Labuschagne, 8 Justin Meintjies, 7 Kyle de Bruin, 6 Cameron Killian, 5 MC Scheepers, 4 Esdee Kotze, 3 Luan du Preez, 2 Jean de Villiers, 1 Wian White.
- St David’s topples Grey High in super over finish - 2025-10-19
- Waterkloof exceptional in regaining Wildeklawer T20 title - 2025-10-19
- As tight as it gets, but Northwood perseveres over Parkies - 2025-10-17