SuperSport Schools Plus

Erasmus, Bere verniel Klofies, Jansies behaal driekuns oor Monnas

By Franco Oberholzer , in Rugby | Featured Rugby | News , at 2025-05-10 Tags: , , , , , , ,

JUNAIDE STUART, Hoërskool Garsfontein se kookwater-vleuel, op pad doellyn toe. FOTO: Riaan De Bruyn.

Hoërskool Garsfontein was Saterdagmiddag in ‘n vernietigende bui op sy tuisveld, Berepark, en het Hoërskool Waterkloof met 53-19 verrinneweer.

Herleef al die aksie op SuperSport Schools – (www.supersportschools.com) 

Die Bere, die SDC Noordvaal Cup se Beker-kampioen vir die afgelope twee jaar, het daarmee hul tweede oorwinning in vanjaar se reeks behaal en vir die Klofies, 2024 se naaswenner, behoorlik laat les opsê in die twee spanne se eerste kragmeting sedert verlede jaar se eindstryd.

Dit was van meet af aan duidelik dat Garsies se plan was om deurentyd die tempo hoog te hou. Buitesenter, Xian Erasmus, en skrumskakel, Derrick Kuhn, het die voortou geneem. Kuhn se diens, agter ‘n pak met die hef in die hand, was oudergewoonte uit die boonste rakke, terwyl hy ook op die aanval woelig was en met ‘n tweekuns beloon is.

Erasmus het egter die kollig gesteel, vier keer! Die Bere se senter was uiteindelik vir nie minder nie as vier van sy span se nege drieë verantwoordelik. Hy was uitmuntend in die middeveld, met vernaam sy bedrieglike aanvalslyne wat die Klofies se verdediging gereeld oorhoeks gehad het.

Old School

Voorlangs het Justin Blom, ‘n sterk aanspraakmaker op die haker-posisie in die Blou Bulle se Cravenweekspan, ‘n barshou gespeel. Fisies is hy vanjaar besig om eenvoudig van krag tot krag te gaan.

Ten spyte van die oormag, het Klofies se kaptein, Ronan Bastiaanse, steeds ‘n kapteinsbeurt gelewer. Die losskakel het sy goeie spelpeil tydens die Wildeklawer-toernooi voortgesit, soos wat sy tweekuns aan drieë, wat hy self verdoel het, aandui.

In Krugersdorp het Hoërskool Dr EG Jansen dit drie uit drie gemaak teen Hoërskool Monument. Dit was nie alleen die Jansies se derde agtereenvolgende sege oor die Wit Bulle nie, maar ook hul tweede oor die Monumentare op hul tuisveld, die Ras van Rooyen.

Die besoekers van Boksburg se agterlyn het vir die Wit Bulle menige hoofbrekens besorg, met regtervleuel, Otlatleng Zulu, se tweekuns wat die doodskoot vir die tuisspan toegedien het. Heelagter, Deshean Pietersen, het ook beïndruk deur dikwels deur die Monnas-verdediging te vleg.

Ewan van der Walt, die Monumentare se heelagter en onderkaptein, het die Jansies ‘n paar keer op die aanval gefnuik, maar dit was nie genoeg om die momentum wat die besoekers voorlangs bewerk het te stuit nie.

Deveraux Weideman, die Arende se vaskopstut, het waarskynlik sy beste wedstryd van die jaar opgedis, terwyl oopkanflank, Craig Lightfoot, hoewel ietwat klein van statuur, gewoeker het by die afbreekpunte.

Puntemakers: 

Garsfontein 53 (20) – Drieë: Xian Erasmus (4), Derrick Kuhn (2), Lourenz de Jager, Junaide Stuart, Justin Blom. Doelskoppe: Kuhn (4). Waterkloof 19 (7) – Drieë: Ronan Bastiaanse (2), Zack Jordaan. Doelskoppe: Bastiaanse (2).

EG Jansen 39 (27) – Drieë: Otlatleng Zulu (2), Christopher Combrink, Deveraux Weideman, Joseph Diesel, Craig Lightfoot, Jordan van der Westhuizen. Doelskoppe: Juan van Aswegen, Deshean Pietersen. Monument 31 (21) – Drieë: Juandré Ehlers, Ewan van der Walt, Evan Bernhardi, Loghan Huges, Vincent Roberts. Doelskoppe: Cameron Kourie (3).

Ander spanne: 

o.16: Garsfontein 36, Waterkloof 20; Monument 61, EG Jansen 30.

o.15: Garsfontein 61, Waterkloof 17; Monument 38, EG Jansen 0.

o.14: Garsfontein 71, Waterkloof 10; Monument 53, EG Jansen 0.

Franco Oberholzer
error: Sorry ol' chap, those shenanigans are not permissible.