Ellisras vuur waarskuwingskote; Pieties té sterk vir Montana

Die vreugdevure in die Limpopo het hoog gebrand nadat Hoërskool Ellisras daarin kon slaag om vir Hoërskool Zwartkop, op hul tuisveld, met 21-7 te troef.
Die Rassies was van meet af in beheer en het ‘n daadwerklike waarskuwing gerig aan hul toekomstige opposisie.
Die grondslag vir die sege was voorlangs gelê, met die agtsteman, Funi Simba, wat die kollig gesteel het met sy barslopies wat die besoekers deurentyd op die voorvoet gehou het. Simba het twee van sy span se drie drieë gedruk, terwyl die loskopstut, Wessel Strooh, ewe indrukwekkend was en vroeg reeds deurgebars het om die Rassies se eerste vyf punte aan te teken.
Anzio Swartbooi het in alle fasette van die spel uitgeblink, en al drie sy span se drieë maklik verdoel. Hy was ‘n katalisator vir die Rassies se aanskoulike spel, en het keer op keer spasie vir FJ Drorskie en die res van die agterlyn geskep.
Vir die Zwarries lê daar heelwat werk voor, alvorens die Pretorianers die res van die SDC Noordvaal-beker se Plaat-Afdeling aanpak. Hul haker, Jaden-Lee Conwright, het goed vertoon en, vanaf ‘n kragtige dryfmaalbeweging, die tuisspan se enigste drie gedruk. Die losskakel, Luhardt Booyens, het die drie verdoel en ook belowend op die aanval vertoon.
Hoërskool Pietersburg het ook vir ietwat van ‘n opskudding gesorg deur Hoërskool Montana met 25-20 af te stof. Die Pieties, wat vanjaar in die SDC Noordvaal-beker se Skild-Afdeling meeding, se selfvertroue sou ‘n taamlike hupstoot met hierdie vertoning gekry het.
Die senterpaar, Nick Jones (binnesenter) en Hanno van Zyl (buitesenter), het gewoel in die middeveld en, met hul venynige aanvalslyne, groot vraagtekens oor die Montie-verdediging laat hang. Jones, in besonder, het die besoekers druk besig gehou en is met ‘n vyfpunter van sy eie beloon, na ‘n uitstekende lopie vanuit sy eie halfgebied.
Van Zyl het ook sy skopskoene aangehad en twee van die Pieties se drie drieë, waarvan hy self een gedruk het, verdoel, asook ‘n strafdoel deur die pale gejaag. Die agtsteman, Hardus Otto, kon ook na ‘n uitstekende lopie met vyf punte agter sy naam spog.
Die Monties het nietemin ‘n verbete stryd opgesit. Voorlangs het agtsteman, Richard Botha, heelwat probleme vir die Pieties se verdedigers veroorsaak en ook sy lyf op die spel geplaas met ‘n paar groot duikslae. Die Monties se agterlyn het met rukke en stoote onkeerbaar gelyk. Sam Schoeman, die besoekers se linkervleuel, het daarop gekapitaliseer om kort na rustyd sy span terug in die wedstryd te kry deur een so ‘n beweging mooi af te rond.
Hoërskool Middelburg het, selfs so vroeg in die seisoen, ook na ‘n goed afgeronde span gelyk. Die Middies het hulle rekening vanjaar met ‘n sege van 26-20 teen Hoërskool Eldoraigne oopgemaak. Losskakel, Matthew Abbey, was uitstekend en het nie alleen sekuur pale toe gemik nie, maar dikwels ook die Eldo’s met slim taktiese skopwerk laat omdraai.
Die steelkantflank, Khensani Buthelezi, het self puik vertoon, en, na ‘n stukkie vernuftige voetwerk, agter die besoekers se doellyn gaan kuier. Wandisa Mtembeni (vaskopstut) was egter die groot uitblinker. Hy was oral op die veld in aksie en het, na ‘n vinnige tikskoppie, ook oor die Eldo’s se doellyn gebars vir ‘n drie.
Die Eldo’s het egter gewys waar hulle krag lê. Die span van die Jakarandastad het tot die bittereinde aanhou veg.
Hul plaasvervanger-haker, Jhuandre Meyer, het die terugvegpoging gelei deur die doellyn eerste oor te steek, voordat die steelkantflank, SW Liebenberg, beloon is vir ‘n ywerige vertoning met ‘n drie van sy eie. Losskakel, JP Meyer, het altwee drieë verdoel en ook met twee strafdoele geslaag.
Hoërskool Jeugland het welverdiend met 38-10 as oorwinnars teen Hoërskool Dr. Malan uit die stryd getree. Die span se slotpaar, Shammah Nsenda en Sharon Nsenda, het die vuur voorlangs aangesteek. Shammah het oor Dr. Malan se doellyn gebars vir ‘n tweekuns, terwyl Thando ook ‘n drie gedruk het.
Dian van der Berg was Dr. Malan se beste speler. Hy het die Jeugland-verdedigers deurgaans aangevat en sy span se enigste drie gedruk, wat hy ook self verdoel het.
Puntemakers:
Hoërskool Ellisras: 21 (14) – Drieë: Funi Simba (2), Wessel Strooh. Doelskoppe: Anzio Swartbooi (3)
Hoërskool Zwartkop: 7 (7) – Drie: Jaden-Lee Conwright. Doelskop: Luhardt Booyens.
Hoërskool Pietersburg: 25 (14) – Driee: Hardus Otto, Nick Jones, Hanno van Zyl. Doelskoppe: Van Zyl (2). Stranfdoele: Vincent Luckhoof, Van Zyl.
Hoërskool Montana: 20 (17) – Drieë: Richard Botha, Sam Schoeman. Doelskoppe: Ruwald Goosen (2). Strafdoele: Goosen (2).
Hoërskool Middelburg: 26 (13) – Drieë: Khensani Buthelezi, Wandis Mtombeni. Doelskoppe: Matthew Abbey (2). Strafdoele: Abbey (4).
Hoërskool Eldoraigne: 20 (3) – Drieë: Jhuandre Meyer, SW Liebenberg. Doelskoppe: JP Meyer (2). Strafdoele: Meyer (2).
Hoërskool Jeugland: 38 (26) – Drieë: Shammah Nsenda (2), Jayden Hoskins, Thando Ngomane, Sinenhlanhla Ndlovu, Sharon Nsenda. Doelskoppe: Ruan Steenkamp (4).
Hoërkool Dr. Malan: 10 (3) – Drie: Dian van der Berg. Doelskop: Van der Berg. Strafdoel: Van der Berg.




