Eldo’s voor reuse taak in Benoni
Hoërskool Eldoraigne het ‘n groot taak op hande wanneer hulle Saterdag teen ‘n kookwater Hans Moore-span in Benoni te staan kom.
Die stryd tussen bal en kolf sal ‘n interessante een afgee. Eldoraigne beskik oor ‘n vurige boulaanval, met Ruan Boshoff en Ruwan Oliphant, wat die boulaanval sal lei.
Die twee kranige boulers het verlede week in die Pretorianers se oortuigende sege oor Hoërskool Montana ‘n beduidende rol gespeel.
Hans Moore se kaptein, Warren Minnaar, is egter, na ‘n ietwat sukkelende begin tot die reeks, nou stewig op dreef, en sal saam met Stephan Vermaak en Xavier Coetzee oorgehaal wees om hul stempel, op tuisbodem, af te druk.
Die Eldo’s se kolflys is egter nie te versmaai nie. Johan Broekman het oor die afgelope twee rondes bewys hoekom hy so hoog onder die Eldo’s aangeslaan word. Kyle de Bruin het ook beïndruk en sal wil voortbou op sy waardevolle 70-tal teen Montana .
Die twee sal ingewag word deur die witwarm, Adrian Watson. Watson is huidiglik die Hansies se voorste paaltjievraat in die kompetisie, en kon tot dusver reeds agt paaltjies in twee wedstryde op sy kerfstok plaas.
Potchefstroom Gimnasium reis na Kemptonpark waar hulle teen die Afdeling B se enigste onoorwonne span, Hoërskool Kemptonpark, te staan kom.
Die Kempies se Martin Williams sal die tuistoestande optimaal wil benut, nadat hy ‘n vyftal paaltjies geneem het in sy span se oorwinning oor Hoërskool Monument, en hy hou beslis groot gevaar in vir die Gimmie-kolwers.
Williams is egter nie die enigste gevaarman nie. Wian Pieters is ook witwarm met die bal en sal saam met Williams poog om amok onder die Potchefstromers te saai.
Gimmies lek nog hul wonde na ‘n reuse nederlaag teen Hans Moore in die vorige ronde. Kaptein en keurbouler, Tommie Botha, sal sake hierdie week wil regstel.
Botha is ‘n sleutelspeler vir die besoekers met die kolf . Margeo Joubert behoort sy kaptein goed by te staan, en was ook die enigste Gimmie-bouler wat die Hansie-kolwers op hulle tone gehou het.
Die twee sukkelende spanne tans in die afdeling, Hoërskool Montana en Hoërskool Monument, spook sake om die laaste plek in die Jakarandastad uit. Dit wil egter voorkom asof Monnas oor die laaste paar wedstryde belowende momentum begin opbou het.
Die span se boulwerk teen die Kempies, alhoewel steeds aan die verloorkant, was indrukwekkend. Hier het André van Niekerk en Werner Durheim die voortou geneem.
Aan die kant van Montana, lyk dit of die jong span se kolwers uiteindelik hul voete begin vind. Luca Bairos sal weer ‘n sleutelrol vir die Monties vertolk, en sal hoop dat Schalk van Jaarsveld sy goeie spelpeil van die vorige ronde kan voortsit.
Altwee spanne is uitgehonger vir ‘n eerste sege.