SuperSport Schools Plus

Eldoraigne se rugbyprogram kry so bietjie meer skop met Naas aan stuur van sake

By Willem Louw , in Rugby | Featured Rugby | News , at 2023-10-11 Tags:

Naas Botha of the Springboks playing rugby in South Africa.. (Photo by Wessel Oosthuizen/Gallo Images)

“Vir my tel een ding, watter bydrae kan ons lewer, op watter vlak ook al, tot Suid-Afrikaanse rugby.”

Dit is die voornemensverklaring van Hoërskool Eldoraigne se nuwe Direkteur van Rugby, Naas Botha.

Die gewese Springbok-kaptein en -losskakel se aanstelling tree met onmiddellike effek in en Botha sluit eersdaags aan by die skool in Centurion.

“Ek dink daar is ‘n lekker paar uitdagings wat wag, dit gaan interesant raak. Di’s regtig aangename mense met wie ek te doen het daar, sover is die gesindheid teenoor my baie positief,” sê Botha oor die skuif terug na Pretoria, waar hy steeds legendariese status geniet vir die 179 wedstryde wat hy in ‘n Noord-Transvaal trui gespeel het.

“Daar gaan hekkies in die pad kom. Di’s hoe dit werk, veral in sport. Partykeer dink jy, jy is op die regte pad en dan skielik kom jy agter jy is dalk bietjie verdwaal, maar dan vind mens maar net ‘n oplossing.”

“Ek is maar net een van daai ouens. Ek kan nie sê dat ek altyd positief is oor die lewe nie, maar ek glo definitief dat elke probleem ‘n oplossing het.”

Botha het die Noord-Transvaal span op 128 geleenthede aangevoer, en in sy tyd kon hulle die Curriebeker nege keer in Pretoria staanplek gee.

Dit is slegs ‘n fraksie van die magdom ondervinding wat Botha vir die skool se rugbyprogram sal bied.

“Mens kan sien Eldoraigne wil hul rugby op die regte vlak kry, nou ek sê nie ek is die ou wat dit daar gaan kry nie, maar ek gaan probeer om ‘n rol te speel in hul ontwikkeling” vertel hy oor sy visie.

“Ek lei af die laaste paar jaar was nie baie suksesvol nie. Sukses word natuurlik verskillend gemeet deur verskillende mense. Party spanne gaan Wêreldbeker toe om Wêreldbeker toe te gaan, ander spanne gaan om te wen. Sukses is relatief.”

Hy sê die eerste stap sal wees om te bepaal wat hy tot sy beskkiking het om mee te werk, “Ons sal moet vasstel wat die kwaliteit van die spelers is, daar is noemingswaardige laerskole in daardie omgewing, maar wat ek aflei is dat baie van die kinders uit die area uit beweeg na ander skole toe.”

“Die eerste ding wat ‘n mens dus wil bewerkstellig is ‘n rugbyklimaat wat aanvaarbaar is vir die plaaslike spelers, sodat hulle voel dit is ‘n omgewing waar hulle betrokke wil wees, en die ouers moet ook voel dat dit ‘n omgewing is waar hulle hul kinders wil hê.”

Dit is waar sy rugbyfilosofie inkom, hy ag Suid-Afrikaanse rugby in geheel as groter as die individuele dele wat dit opmaak.

“Ek dink bietjie anders oor skolesport. Vir my gaan dit oor wat mens kan doen met skoletalent om hulle voor te berei vir die profesionele spel, en uiteindelik om vir hul land uit te draf. Ek dink as iemand tekens van talent wys moet mens dit ten volle probeer ontgun sodat hy in die toekoms ‘n rol kan speel vir Suid-Afrikaanse rugby.”

“As mens êrens langs die pad dalk ‘n diamant kan optel, waarokal jy betrokke is, en daardie diamant eindig op by ‘n wereldbeker, dan het jy ‘n bydrae gemaak.”

Hy is egter gefokus op die verantwoordelikheid wat aan hom besorg is, “Die eerste prioriteit bly die skool. Dit is belangrik om die ouers en die kinders te respekteer sodat hulle kan inkoop in die program in. Dit is nie ‘n ‘one-man show’ die nie, di’s die gemeenskap.”

“Dit is iets wat vir my nogal uitstaan van die Amerikaners. Die hele dorp koop in en staan agter sy span. Dit is wat ek wil hê in Pretoria. Ek wil hê die gemeenskap rondom Eldoraigne moet inkoop, en so ook by al die ander skole. Die gemeenskap rondom Menlopark moet bankvas staan agter Menlopark, Die Garsfontein gemeenskap moet trots wees op die Garsfontein span.”

“Wat lekker is van gemengde skole waar daar ‘n beperkte aantal sportmanne en meisies is, is dat hulle aan alles deelneem, wat fantasties is vir hul ontwikkeling. Dit gee jou ‘n goeie balans en die vaardighede wat mens optel in van die sportsoorte skep weer ‘n basis vir die ander sportsoorte. So ek hou nogal daarvan as jy sit met ‘n briljante rugbyspeler wat kan presteer in atletiek of krieket of enige ander sportsoort. Di’s vir my ‘n goeie teken.”

As daar iemand is wat potensiaal sal herken is dit Botha, wie vier keer as die Suid-Afrikaanse rugbyspeler van die jaar aangewys is.

Sedert hy sy tokse opgehang het is hy al vir jare ‘n hoogs gerespekteerde rugby-analis vir SuperSport en het as afrigter al sukses ervaar by Tukkies, asook in 2019 toe hy op ‘n kort kontrak Indië se nasionale spanne afgerig het en die vrouespan gehelp het tot hul eerste toets oorwinning.

“Ek is mal oor talent. Talent fasineer my altyd, of dit in die musiekwêreld of op die sportveld is of selfs in die besigheidswêreld. Talent fasineer my. Daar is ‘n rede dat nie almal ‘n Springbok word nie, dit vat talent, so daardie talent moet gesoek word, en as jy dit dan vind moet jy dit tot die beste van jou vermoëns ontgun, dan beweeg die speler na ‘n ander afrigter wat hom weer tot die beste van sy vermoëns verder moet ontgun, en so hou dit aan tot hy die dag in ‘n Springboktrui op die veld draf, dan het jy jou deel gedoen.”

“Dit is hoe ons ‘n bydra kan lewer om die noordelike skole te kry om bietjie beter te vaar teen die suidelike skole. Die feit is, oor die algemeen oorheers die suidelike skole. Daar is partykeer ‘n noordelike skool wat goed doen, maar as mens na die statistieke kyk is daar geen twyfel dat die suidelike skole voor is nie. Natuurlik dink elke skool sy span is die beste, dit is hoe dit hoort, maar mens moet nie sig verloor van die groter prentjie nie. Ons almal werk saam aan ‘n groter doel, en dit is om te kyk watter talent ons kan ontwikkel vir Suid-Afrika.”

Botha was al vroeër by Suid-Afrikaanse skolerugby betrokke toe hy sy afrigtingsloopbaan in 2012 begin by Waterkloof. Hy beaam sy liefde vir die junior weergawe van die spel, “Ons het ongelooflike talent in skolerugby in Suid-Afrika. Sekere skole beskik nie noodwendig oor die nodige talent om nommer een in die land te wees nie, maar die talent wat daar is moet ten volle ontwikkel word en ontgun word op ‘n manier wat die gemeenskap trots maak om geassosieer te word met daardie skool.”

“Die ding wat my bietjie bekommer, en ek moet nou my woorde mooi kies dat dit nie verkeerd opgeneem word nie, is dat ons moet oppas dat ons nie begin glo sekere skole is tot voordeel van jou kind nie. Elke skool moet ‘n geleentheid kan bied aan sy leerders, ons wil nie hê mense moet begin dink dat hulle by ‘n spesisifieke skool aanvaar moet word om ‘n Springbok te kan word nie.”

“Wat jou ‘n Springbok maak is jou talent, nie jou skool nie. Daar is sekere skole wat net ‘n fantastiese werk doen, ek gee hulle alle krediet. As jy kyk na Grey-kollege, Paarl Gimnasium of Boishaai, hulle is fantasties in wat hulle doen, maar ek dink dit moet vir al die ander skole ‘n uitdaging wees, nie noodwendig om daardie spanne te ‘match’ nie, maar om ook hul bydrae te lewer.”

Dit is dan die missie, vir elke afrigter by elke skool om sy spelers se talent so goed as moontlik te ontwikkel, sodat die wat die geleentheid kry om die land te verteenwoordig selfs harder moet werk om hul plek te verdien, en sodoende ‘n rol te speel tot die ontwikkeling van sport in ons land.

“Ons het ongelooflike skole talent in Suid Afrika. As mens kyk na die onlangse sukses van ons netbal, hokkie, krieket, atletiek en selfs ons sokker wat nou lekker aan die gang kom, sien jy dit deurkom op nasionale vlak, maar ek wil hê ons moet dit selfs nog meer sien.”

Willem Louw
error: Sorry ol' chap, those shenanigans are not permissible.