Eldo-Drake herwin wengevoel

Hoërskool Eldoraigne se Drake het hul weg na oorwinning teruggevind.
Die span van Centurion het in hul eerste wedstryd van die SDC Noordvaal Cup se Bowl-afdeling naelskraaps met 17-15 teen Hoërskool Alberton, in Alberton, geseëvier.
Die Drake se agtsteman, Jaydon Niehaus, het vroeg reeds toegeslaan om ‘n drie te druk, maar die tuisspan het deurgaans gespook om die lewe vir die besoekers van Centurion moeilik te maak.
Selfs toe Eldoraigne se ander losvoorspeler, oopkantflank, Rikus Rheeder, ook oorgebars vir ‘n tweede drie, het Alberton steeds geweier om die handdoek in te gooi en het hul losskakel en generaal, Dewald de Jager, kort voor rustyd die Eldo’s se doellyn oorgesteek.
Die tweede helfte het die toeskouers, en verál die tuisspan se ondersteuners, laat regop sit. Alberton se hardwerkende slot, Kay-C Nel, en regtervleuel, Nathen Reicherdt, het albei vir die Drake onverhoeds betrap om elk ‘n drie te druk.
Eldo’s se staatmaker, JP Meyer, wat weer in sy gunstelingposisie van losskakel diens verrig het, het in dié naelbytstryd uiteindelik die verskil tussen die twee spanne bewerkstellig met twee doelskoppe en ‘n uiters belangrike strafdoel om slegs Eldoraigne se tweede sege van die jaar te beklink.
Puntemakers:
Eldoraigne 17 (14) – Drieë: Rikus Rheeder, SW Liebenberg. Doelskoppe: JP Meyer (2). Strafdoel: Meyer. Alberton 15 (5) – Drieë: Dewald de Jager, Kay-C Nel, Nathen Reicherdt.
Ander spanne:
o. 16: Alberton 31, Eldoraigne 26.
o. 15: Eldoraigne 33, Alberton 0.
o. 14: Eldoraigne 41, Alberton 0.