SuperSport Schools News

Eindstryd tussen Tralies en JF kan vir heelwat opwinding sorg

By Hannes Nienaber , in Rugby | News , at 2022-08-13

Die eindstryd van die Vrystaatse A1-liga beloof om vir heelwat opwinding Saterdag in Bloemfontein te sorg.

Die Hoërskool Sentraal sê vir Jim Fouché die stryd op die Hoërskool Fichardtpark se veld aan om die titel.

Die Tralies het vroeër vanjaar op spannende wyse in die FNB Classic Clash tussen die twee spanne met 29-26 die septer geswaai. Die Bloktruie sal dus op die veld draf as gunstelinge, maar slegs met ‘n kortkoppie.

Sentraal is die verdedigende kampioen na hy die einste JF in 2019 se eindstryd verslaan het. JF was laas in 2012 kampioen van die liga toe hy Sentraal in die eindstryd met 29-16 getroef het.

Maar genoeg oor die geskiedenis.

Die skeidsregter vir vandag se wedstryd is Jaco Kotze wat die eerste Vrystaatse skeidsregter was wat die eer te beurt geval het om aan stuur van die hoofwedstryd van ‘n Cravenweek te wees. Interresant is dat Kotze een van die afrigters is van Fichardtpark wat verlede week in die halfeindronde teen JF (17-26) vasgeval het.

Kotze was ook al voorheen by JF se eerstespan in sy loopbaan betrokke en daar is waarskynlik nie ‘n skeidsregter in die Vrystaat wat die twee spanne beter ken as hy nie. Dit kan verder tot die skouspel van die eindstryd bydra.

Die Tralies se heelagter, Jermairon Ruiters, was vanjaar ‘n lid van die Vrystaatse-span na die Cravenweek in Kaapstad. Hy sal ‘n sleutelrol vanuit die laaste vesting vir die Bloktruie vertolk.

Sy direkte teenstander van JF, GJ Vos, het vanjaar die punte behoorlik met die skopskoen ingeryg en dit kan vandag weer ‘n reuse bate vir sy skoolspan wees. Die Groen Masjien se skakelpaar, Justin Pieterse en Jadon Roodt, behoort ook sleutelrolle in vandag se wedstryd te speel.

Albei die spanne het reeds vir die Kovsiestreekkompetisie se Shimla-liga gekwalifiseer. Die uitslag van die eindstryd sal slegs bepaal wie volgende week na Kimberley en wie na Welkom sal reis.

Die spanne is: 

Hoërskool Sentraal: 15 Jermairon Ruiters, 14 Hendré Botha, 13 Hanco Smith, 12 André Buys, 11 Valken Goosen, 10 Ruan van Niekerk, 9 Jaydon Botes, 8 GF Linde, 7 Bernard Kachelhoffer, 6 Hein Champion, 5 Gerhard Faber, 4 Rikus Louw, 3 JC Kruger, 2 Christiaan Barnard (kaptein), 1 HJ Human.

Jim Fouché: 15 GJ Vos, 14 Tristan van der Walt, 13 Marcus Gordon, 12 Dalen Watkins, 11 Dylan Calitz, 10 Justin Pieterse, 9 Jadon Roodt, 8 Phillip Noëth, 7 Stefan Venter, 6 CJ Raath, 5 R Nieuwoudt, 4 Calvin Bolt, 3 W van der Berg, 2 E Nelson, 1 MJ Meyer.

Afskop: 14:10
Skeidsregter: Jaco Kotze

Hannes Nienaber
error: Sorry ol' chap, those shenanigans are not permissible.