SuperSport Schools Plus

EG Jansen en Monument styg uit in Tuks-reeks

By Hannes Nienaber , in Rugby | News , at 2016-03-13 Tags: , , , ,

NewsG DandrePrinslooDie span wat vanjaar as kampioen van die Tuks-reeks gekroon wil word, moet die trofee in Boksburg kom haal.

Dit was die duidelike boodskap wat EG Jansen van Boksburg met sy sege van 40-33 oor Garsfontein in Pretoria aan die ander spanne in die reeks gestuur het. Hoewel die telling dalk ’n verhaal van ’n opwindende wedstryd vertel is die realiteit dat albei spanne maar heelwat foute in die wedstryd begaan het. Een ding is ’n feit soos ’n koei as die twee spanne mekaar dalk iewers weer vanjaar ontmoet gaan dit ’n titaniese stryd wees.

Jansies se skakelpaar, Ginter Smuts en Ruben Beytell, het die grootste invloed in hul span se sege gehad. Smuts is ’n generaal agter die skrum, terwyl sy akkurate stelskopwerk ook verseker het dat sy span altyd ’n kortkoppie voor bly.

Garsies se beste speler was sy losskakel, Austin Davids, maar sy span het te veel hanteerfoute begaan.

Monument van Krugersdorp het ’n oortuigende sege van 66-0 oor Transvalia behaal. Die wedstryd is na slegs 50 minute gestop, terwyl Transvalia se Hardus van der Berg na slegs tien minute ’n rooikaart gekry het.
Monnas se ysterslot, Ruan Vermaak, was sy span se speler van die wedstryd. Die senterpaar, MJ Pelser en Bakkies Potgieter, het ook goed vertoon.

Paul Roos Gimnasium het geen genade in die hoofwedstryd van sy sportdag teen Windhoek Gimnasium gehad nie. Paul Roos was met 69-0 baas na hy ook vroeër in die week vir Swartland met 56-0 kafgedraf het. Paarl Gimnasium het HTS Drostdy met 52-0 uit die pad gevee, terwyl Outeniqua op Brackenfell se jaarlikse sportdag die gasheer met 19-3 geklop het.

Die Afrikaanse Hoër Seunskool behoort ook onder die voorste spanne te tel en het sy seisoen met ’n sege van 58-12 oor Helpmekaar afgeskop. Affies en Paarl Gim het albei nog spelers wat volgende week aan die nasionale T20-krieketeindronde in Potchefstroom gaan deelneem.

Op Graeme College se jaarlikse rugbydag in Grahamstad het Selborne College, Grey PE en Marlow Landbou die meeste met hul spel beïndruk.

Diamantveld van Kimberley gaan nie maklik vanjaar in die sentrale streek gestuit word nie. Na die span van die Diamantstad se drie blink vertonings tot dusver vanjaar teen Monument (10-15), Goudveld-Hoërskool (61-5) en Sentraal (40-0) is dit dalk net Grey-kollege van Bloemfontein wat hom kan klop.

Dit sal interresant wees indien Grey toegelaat word om later vanjaar in die Kovsiestreek-kompetisie deel te neem. Dan kan die twee spanne moontlik nog vanjaar koppe stamp. Diamonds se losskakel, Charles Williams, het soos in die ou dae met torpedo lynskoppe die bal met tye 80 meter verder teen Sentraal uitgeskop. Donderweer het Diamonds so ietwat ontwrig na hy rustyd reeds ’n voorsprong 35-0 opgehou.

Grey-kollege het sy seisoen met ’n sege van 54-22 oor Welkom Gimnasium afgeskop. Duineveld het op Diamonds se sportdag met ’n oorwinning van 13-10 oor Louis Botha ook gewys dat hy vanjaar ’n span is om mee rekening te hou.
Goudveld-Hoërskool het in die hoofwedstryd van sy sportdag teen Waterkloof van Pretoria met 14-42 die knie gebuig.

Hannes Nienaber
error: Sorry ol' chap, those shenanigans are not permissible.