SuperSport Schools Plus

Eerste skote in Virsekerbeker behoort aan Nellies, Garsies en Transvalia

By Hannes Nienaber , in Rugby | News , at 2018-05-13 Tags: , ,

31392 VS SCHOOL OF RUGBY HEADER v1

NewsGTiaanduPlessisNelliesDie eerste skote in die Virsekerbeker se Beker-afdeling het Saterdag het geklap en dit is duidelik dat vanjaar se reeks van die strafstes nog in die geskiedenis sal wees. 

Transvalia het nie op alle silinders gevuur nie en moes sodoende hard sweet op Helpmekaar-kollege met 23-20 te klop. Die span van Vanderbijlpark se slot Thabang Mholasi was ‘n groot doring in Helpies se vlees. Sy drie was ook een van die hoogtepunte van die kragmeting. 

Transvalia het voorlangs die oorhand gehad wat die grondslag vir sege gelê het. Vir Helpies was sy haker, Ricardo van der Merwe, asook sy flank Alex Skudder uitmuntend.

Die Hoërskool Garsfontein se Turkoois Bere het die moeilike taak gehad om sy aanslag op die titel in Middelburg teen HTS Middelburg af te skop. Garsies het die tweestryd uiteindelik met 46-29 gewen, maar maklik was dit nie. 

HTS Middelburg se Rooi Bulle het met vuur en vlam weggespring en vroeg ‘n voorsprong van 12-0 opgebou. Garsies kon vir die eerste keer in die 27ste minuut die voorsprong neem toe sy flank Johandré Buitendag oor die doellyn gebars het.

Teen rustyd het Garsies ‘n skrale voorsprong van 19-17 geniet. Die wenspan se haker, Ricardo Botha, het sy beste vertoning nog in ‘n Garsie-trui opgedis en is ook vir sy goeie spel met twee drieë beloon. Garsies se SA Skole-senter, Diego Appollis, het gewys hoekom hy so hoog aangeslaan word. 

Appollis het goeie ondersteuning van die heelagter, Juandré Scheepers, en losskakel, Campwill Willemse, gekry. Willemse het later in die kragmeting ook in die laaste vesting diens gedoen. 

In Mbombela het die Hoërskool Nelspruit met ‘n skitterende terugvegpoging op sy tuisveld teen EG Jansen van Boksburg vorendag gekom om uiteindelik met 34-28 as oorwinnaars van die veld te stap. Die besoekers van Boksburg het teen lemoentyd ‘n voorsprong van 25-15 geniet. 

EG Jansen se enigste punte in die tweede helfte was ‘n strafdoel deur sy losskakel, Aurelio Philander. Nelspruit se losskakel, Tiaan du Plessis, het nie ‘n goeie dag met die skopskoen beleef nie. Nie een van die Rhinos se vyf drieë is verdoel nie. 

Nelspruit het sy geleenthede om drieë te druk goed benut en die regtervleuel, Anton van Eijk, het drie keer Jansies se doellyn oorgesteek. Hy en die plaasvervanger-losskakel, Timothy Townsend, het blink vertonings opgedis. Die skrumskakel, Riandré van der Merwe, verdien ook ‘n klop op die skouer vir sy spel. 

Voorlangs het die flank Devon Nell meer as sy kant gebring. Die Jansies gaan nog gebuk onder die beseringspook wat hom tydens die Wildeklawer-toernooi in Kimberley getref het. Die span moet dus nie vir die res van die reeks onderskat word nie.

Puntemakers: 

Transvalia 23 (11) – Drieë: Ryan Nell, Dewald Strydom, Thabang Mholasi. Doelskop: Zian de Jager. Strafdoele: De Jager (2). Helpmekaar 20 (8) – Drieë: Dean Potgieter, Francois Scholtz, Ricardo van der Merwe. Doelskop: Tiaan Botes. Strafdoel: Botes.

Garsfontein 46 (19) – Drieë: Ricardo Botha (2), Diego Appollis (2), Johandré Buitendag, Juandré Scheepers, Campwill Willemse, Jayden Visagie. Doelskoppe: Keagan Johannes (3). HTS Middelburg 29 (17) – Drieë: Zhander Briedenhann, Ricardo Schonveldt, MC Kuhn, Edwin Till, Damon Grobler. Doelskoppe: Schonveldt, Tjaart Kruger.

Hoërskool Nelspruit 34 (15) – Drieë: Anton van Eijk (3), Stefan Smit, Estian Schroeder. Strafdoele: Timothy Townsend (2), Tiaan du Plessis. EG Jansen 28 (25) – Drieë: Kyle Potgieter (2), Dylan Schwartz, Darren Timmens. Doelskop: Aurelio Philander. Strafdoele: Philander (2). 

Ander spanne: 

o.16: Helpmekaar 22, Transvalia 7; Garsfontein 20, HTS Middelburg 15; EG Jansen 40, Nelspruit 12.

o.15: Helpmekaar 26, Transvalia 0; HTS Middelburg 32, Garsfontein 13; Nelspruit 20, EG Jansen 7.

o.14: Helpmekaar 15, Transvalia 8; HTS Middelburg 25, Garsfontein 19; Nelspruit 24, EG Jansen 24.

FOTO: Johan Orton

Hannes Nienaber
error: Sorry ol' chap, those shenanigans are not permissible.