SuperSport Schools Plus

Eendeweer het laaste sê in NWU Prestige-reeks

By Franco Oberholzer , in Rugby | Featured Rugby | News , at 2025-04-25 Tags: ,

Old School
Een van die betrokke velde van die NWU Prestige-reeks, deurdrenk met water na die aanhoudende reën in Potchefstroom. FOTO: Verskaf deur Potchefstroom Gimnasium.

‘n Druppel déjà vu het vandeesweek oor die NWU Prestige-reeks gespoel nadat die geskeduleerde eindstryde van dié reeks ook deur die onophoudelike reën en uiters nat toestande in Potchefstroom gesink is.

Die eindstryde was geskeduleer om Saterdag, 26 April, op Olënpark, tuiste van die Luiperds Rugbyunie, asook die velde van Potchefstroom Gimnasium en Potchefstroom Volkskool, plaas te vind.

Die sopnat speeloppervlaktes het die bestuur van die reeks egter vir ‘n tweede keer genoodsaak om ál die aksie af te las weens kommer oor spelers se veiligheid, asook die skade wat die hoeveelheid rugby aan die betrokke oppervlaktes kan aanrig.

“Weens onvoorsiene omstandighede buite ons beheer, is ons ongelukkig genoodsaak om die eindstryd-ronde se rugbywedstryde vir die komende naweek te kanselleer,” lui ‘n verklaring deur die Prestige-reeks se voorsitter, Fielies Coetzee.

“Verskeie alternatiewe is oorweeg soos met die halfeindrondes en ons het die finale besluit so laat as moontlik uitgestel. Ongelukkig kan ons nie nog langer wag nie, want skole moet hul ouers inlig sodat die nodige verblyf en vervoerreëlings getref kan word. Skole moet ook vroegtydig vervoermaatskappye in kennis stel van die besluit.”

Die bestuur het ook lank gekoukus om uiteindelik die regverdigste bepaling van posies te bereik. Daar is op die volgende besluit:

“Die halfeindronde se bepalings word oorgedra na die eindstryde. Die spanne in die posisies 1-4, 5-8, 9-12 en 13-15 sal die hoogste posisie en punte deel. Sodoende kan ons by ‘n regverdige en werkbare uitslag uitkom.

“Die hokkie-, netbal- en tenniswedstryde sal soos beplan hierdie naweek voortgaan. Alle uitslae, insluitende dié van hierdie sportsoorte, sal ingereken word om die algehele wenners en rangorde te bepaal soos in die verlede,” het Coetzee bygevoeg.

Franco Oberholzer
error: Sorry ol' chap, those shenanigans are not permissible.