Durbanville die ontwakende reus van die noordelike voorstede kan ‘n paar skokke lewer
Is 2019 die jaar wat die sluimerende reus van die noordelike voorstede, die Hoërskool Durbanville, ontwaak?
Die skole uit die suidelike voorstede soos Durbanville, Stellenberg en DF Malan suig nog altyd aan die agterspeen indien talentvolle rugbyspelers moet kies tussen hulle en die Bolandse skole wat spelers van die Westelike Provinsie verskaf.
Durbies en Stellenberg het die afgelope paar jaar weer sterk tot die voorgrond met hul onderskeie rugbyprogramme getree. Durbanville kan in 2019 uiteindelik die deurbraak maak waarop hy die afgelope paar seisoen gewag het.
Durbies het wel ‘n strawwe seisoen wat op hulle wag. Die skool hou proewe tussen 14 en 16 Februarie teen Augsburg Gimnasium op Clanwilliam. Daarna wag groot honde soos Paul Roos Gimnasium en Paarl Gimnasium op hulle. Durbanville se meeste wedstryde in die Westelike Provinsie se Premier B-afdeling is wel op sy tuisveld.
As dit kom by Durbies se afrigters is dit gewis ‘n geval van “Cooler as Ekke” soos hul oud-leerling Jack Parow se deurbraak enkelsnit se titel lui. Daar is nie ‘n skool in Suid-Afrika wat met meer spelers-ervaring spog as die van Durbanville nie.
Die span se hoofafrigter, Shaun Huygen, het ‘n uitgebreide Rugby CV met ervaring van klubafrigting in Italië en Maties asook as afrigter van . Durbanville se skoolhoof, George Germishuys, brei die manne voorlange, terwyl die gewese Springbok-senter Marius Joubert die spelers agterlangs touwys maak.
Die gewese slot van Montpellier en WP Drikus Hancke sal die span met sy lynstane bystaan, terwyl die voormalige Bok-skrumskakel Norman Jordaan hand by sal sit om die skakelpaar leiding te gee.
Gepraat van Germishuys, sy seun George Germishuys jr. was in 2008 en 2009 die eerstespan se skrumskakel. Germishuys jr. was in 2017 en 2018 een van Media24 se voorste rugbyskrywers. Nog ‘n voormalige rugbyskrywer van formaat, Johann Thormahlen, het as generaal van Durbies se agterlyn in 2004 sake beheer. Thormahlen is deesdae ‘n erkende kommentator op RSG en het ook al sy kennis van die spel en woord op SuperSport gedeel.
Huygen kan vanjaar weer op tien spelers se knoppie druk wat verlede jaar ook vir Durbies se eerstes gespeel het. Hulle is Wiaan Schmidt, Jarrod Pretorius (vasskopstut), Rynhardt Ferreira, Vincent van Dyk (albei slotte), Juan Mouton (flank), Ruben Jooste (agtsteman), Fritz van Sittert, Xander van der Westhuizen (albei senters) en Diagho Miggel (heelagter).
Veral Durbies se skrum behoort stewig met Schmidt en Pretorius geanker te word. Boonop is daar nog twee voorrymanne wat al van die plaasvervangersbank vir Durbies gespeel het in Jonathan Nango en Tihan Vermeulen wat weer vanjaar beskikbaar is. Die flank JW Wessels het ook verlede jaar ‘n paar geleenthede vanaf die plaasvervangersbank benut.
“Ons wil graag kompeterend in 2019 wees in al ons wedstryde en onder die voorste 30 skolespanne in die land tel,” het Huygen gesê. Die span se kragmetings teen veral Paarl Gimnasium, Waterkloof, EG Jansen, Oakdale Landbou, Outeniqua, SACS en Stellenberg behoort elk unieke uitdagings aan hom te bied.
Ronaldo Ismail (haker) was verlede jaar ‘n lid van die Westelike Provinsie se span na die Grant Khomo-week in Kimberley. Hy behoort vanjaar ‘n sterk aanspraakmaker op ‘n plek in Durbies se eerstespan te wees.
Al die tuiswedstryde van Durbanville sal regstreeks op DurbiesTV se kanaal op DigiTV.co.za uitgesaai word.
Durbanville se bepalings vir 2019:
| 1 | 23/02/2019 | Durbanville | vs | TBC | Hopefield Rugby Day |
| 2 | 28/02/2019 | Durbanville | vs | Paul Roos Gimnasium | |
| 3 | 2/03/2019 | Durbanville | vs | TBC | Boland Rugby Day |
| 4 | 9/03/2019 | Durbanville | vs | Paarl Gimnasium | Brackenfell Sports Day |
| 5 | 12/03/2019 | Durbanville | vs | Hans Strijdom | |
| 6 | 15/03/2019 | Durbanville | vs | EG Jansen | Noord/Suid |
| 7 | 19/03/2019 | Durbanville | vs | Waterkloof | Noord/Suid |
| 8 | 6/04/2019 | Durbanville | vs | SACS | Tuis |
| 9 | 13/04/2019 | Durbanville | vs | Oakdale Landbou | Tuis |
| 10 | 27/04/2019 | Durbanville | vs | Hugenote | Tuis |
| 12 | 4/05/2019 | Durbanville | vs | DF Malan | Tuis |
| 13 | 11/05/2019 | Durbanville | vs | Tygerberg | Tuis |
| 14 | 25/05/2019 | Durbanville | vs | Brackenfell | Tuis |
| 15 | 1/06/2019 | Durbanville | vs | Parel Vallei | Tuis |
| 16 | 13/07/2019 | Durbanville | vs | Bellville | Tuis |
| 17 | 27/07/2019 | Durbanville | vs | Outeniqua | George |
| 18 | 3/08/2019 | Durbanville | vs | Milnerton | Milnerton |
| 19 | 17/08/2019 | Durbanville | vs | Stellenberg | Tuis |




