Duineveld dominant, Tralies herstel by Standard Bank-fees

Sentraal het Saterdag daarin geslaag om hul jaarlikse Standard Bank-fees in Bloemfontein op ‘n hoë noot af te sluit deur vir Hoërskool Kalahari in die hoofwedstryd te verslaan.
Beleef al die aksie weer op SuperSport Schools – Registreer nou
Die Tralies het hulself op die eerste dag teen ‘n dominante Duineveld-span vasgeloop en met 14-61 verloor, maar het uitstekend herstel om op die laaste dag vir Kalahari met 38-28 die loef af te steek.
Die tuisspan het tot ‘n voorsprong van 38-7 gestorm in die eerste helfte, maar na die omdraaislag was dit slegs die besoekers wat kon punte aanteken. Die bloktruie moes teen die einde sweet om vas te klou aan hul vroeë voorsprong, maar die span van Kuruman het hul ritme net té laat gevind om die kastaiings uit die vuur te krap.
Kalahari se se lewendige binnesenter, Thlompo Matilo, het twee keer bresse in die Tralie-verdediging geslaan om die agterstand na slegs 10 punte te laat krimp, maar ‘n halfdosyn drieë, in die eerste helfte, deur Marnus Earle, Lee-Yagin Arendse, CJ Cloete, Hendrik Jonker, Simon Janse van Rensburg en Zander Jansen van Vuuren, was genoeg om aan die Bloemfonteiners ‘n waardevolle sege te besorg voor hul tuisskare.

Duineveld het ongetwyfeld die meeste aandag getrek in die Rosestad met twee puik vertonings.
Donderdag het die Velties hul spiere gebult teen die tuisspan, met Gregan Jansen, AJ Burger en Jaquin Jasson wat elkeen twee keer agter die Tralies se doellyn gaan kuier het.
Saterdag het hulle weer ‘n meesterklas gelewer om 39 punte sonder antwoord teen Goudveld aan te teken. Kaptein, Arno Luttig, het ‘n driekuns behaal vir die span van Upington om die fees onoorwonne af te sluit.
In die voorlaaste wedstryd het Jim Fouché vir Hentie Cilliers met 27-17 geklop.
Nes die hoofwedstryd, het die kragmeting bestaan uit twee uiteenlopende helftes. JF het teen rustyd ‘n voorsprong van 22-0 geniet, maar moes vasklou om Henties na die omdraaislag in toom te hou. JW Stone en Franco Oberholzer het elk twee drieë bygedra vir die Bloemfonteiners.
Fichardtpark was Donderdag ook in aksie, met ‘n wegholsege van 62-17 oor Kalahari. Die Fichie-Leeus se ster-skrumskakel, Devanté Claasen, was aan die spits van die aanslag met twee drieë, terwyl agsteman, MJ Herbst, 17 punte met ‘n drie en ses doelskoppe bygevoeg het.
Puntemakers:
Saterdag, 4 Mei
Sentraal 38 (38) – Drieë: Marnus Earle, Lee-Yagin Arendse, CJ Cloete, Hendrik Jonker, Simon Janse van Rensburg, Zander Jansen van Vuuren. Doelskoppe: SJ Coetzee (4). Kalahari 28 (7) – Drieë: Thlompo Matilo (2), Letlotlo Assegaai, Zelwyn Julie. Doelskoppe: Zelwyn Jukis (4).
Jim Fouché 27 (22) – Drieë: JW Stone (2), Franco Oberholzer (2), Bendré Vermaak. Doelskop: Christiaan Strydom. Hentie Cilliers 17 (0).
Duineveld 39 (20) – Drieë: Arno Luttig (3), Franco Erasmus, Wihan Liebenberg. Doelskoppe: PJ Smith (4). Strafdoelle: Smith (2). Goudveld 0.
Donderdag, 2 Mei
Duineveld 61 – Drieë: Gregan Jansen (2), AJ Burger (2), Jaquin Jasson (2), Adriaan Burger, Franco Erasmus. Doelskoppe: PJ Smit (7). Sentraal 14.
Fichardtpark 62 – Drieë: Devanté Claasen (2), Devan Martens, Nathan Swanepoel, Junior Titoti, Duan Viviers, Martin Kalp, Tumelo Leputla, MJ Herbst, Pieter Tembo. Doelskoppe: Herbst (6). Kalahari 17.
Ander tellings:
Saterdag, 4 Mei
o. 16 – Sentraal 38, Duineveld 19; Jim Fouché 36, Hentie Cilliers 31; Hoërskool Upington 44, Goudveld 0.
o. 15 – Sentraal 26, Hoërskool Upington 17; Jim Fouché 50, Hentie Cilliers 0; Goudveld 14, Duineveld 12.
o. 14 – Sentraal 41, Duineveld 17; Kalahari 29, Jim Fouché 17; Hoërskool Upington 21, Goudveld 7.
Donderdag, 2 Mei
o. 16 – Hoërskool Upington 26, Sentraal 10; Fichardtpark 38, Kalahari 27.
o. 15 – Sentraal 17, Duineveld 7; Hoërskool Upington 31, Fichardtpark 21.
o. 14 – Sentraal 55, Hoërskool Upington 12; Kalahari 22, Grey-kollege C 19; Fichardtpark 28, Duineveld 14.