Duineveld behou die spogregte in Upington
Die Groot Interjol op Upington het weereens alle verwagtings oorskrei, met ‘n dag vol hoë-gehalte kompetisie en sportgees.
Al die wedstryde is beskikbaar op SuperSport Schools – Registreer nou
Duineveld het die tempo vroeg in die wedstryd gestel deur om van die afskop af gevaarlik te lyk. Die Wittes was op die ou einde met 29-23 baas.
Dit was toe ook die Wittes wat eerste bloed kon trek na ses minute van druk, toe hul vleuel, Jaquin Jasson, kon afrond in die hoekie.
Hoërskool Upington kon egter die voorsprong kry nadat hul een vleuel, Louwan Harper, sy spanmaat, die ander vleuel, Khayalenkosi Maganga, kon deursit met ‘n goeie aangee, en sy ster heelagter, Ruwin Isaks, die verskil kon maak deur om met die verdoellingspoging te slaag.
Die besoekers het die oorhand terug gekry na ‘n drie deur hul vleuel, Shamaro de Klerk, kort voor halftyd om die breuk met ‘n 19-13 voorsprong te betree.
Uppies het in die tweede helfte meer punte as die besoeker aangeteken maar dit was net nie genoeg om die oorwinning te steel nie, en Duineveld is vir nog ‘n jaar bobaas in Upington nadat hulle verlede jaar ook die Groot Interjol met 26-13 op eie bodem kon wen.
De Klerk, Wyndham Bouwer (senter), DJ Wandrag (senter), Freddie Collen (flank), Ean le Rich (agsteman) en Gert-White Grobbelaar (slot) was verlede jaar ook deel van die Wittes se eerstespan, en sluit dan hul skolerugby loopbane af met twee seges in die jaarlikse hoogtepunt.
Die Velties se losskakel, Ethan van Zyl, het weer uitgestaan vir sy span en kon twee drieë agter sy naam kry.
Vir Uppies het hul groot stut, PA Kartstens, die derde generasie Karstens by Hoërskool Upington na sy oupa en pa, uitgeblink, saam met sy pak wat vir die Duineveld voorspelers kon besig hou.
Upington kan egter steeds met trots terugkyk na hul seisoen, waarin hulle onder andere die Noord-Kaapse liga kon verower.
Die tuisspan het ook die drie laer ouderdomsgroeppe se A-span wedstryde gewen, en lyk goed ingerig om Duineveld volgende jaar weer die stryd aan te sê in die grootste interskole in die Noord-Weste.
Volgende jaar sal hulle dit egter moet doen sonder Mnr Riaan Kotze, die voormalige Hoërskool Upington hoof en eerstespan afrigter wat al by 41 van die 55 Groot Interjols oor die jare betrokke was as ‘n afrigter of ‘n speler. Hierdie was Mnr Kotze se laaste Interjol en al het die wedstryd nie in sy span se guns geeindig nie, was dit ‘n goeie manier om afskeid te neem van iemand wat al soveel bygedra het om hierdie jaarlikse bepaling te verander in wat dit vandag is.
Goudveld-Hoërskool kon vir Diamantveld in die tweede helfte wegsien, nadat hulle halftyd nog met 3-0 agter was om uiteindelik 15-6 te wen.
Die Gouties kon die besoekers verhoed om ‘n drie aan te teken, twee pragdrieë deur hul vleuel, Ru-Bran Kock en nog een deur hul senter, Ruben Crous, in die tweede helfte het hulle toegelaat om 2019 se sukses te herhaal, toe Goudveld in hul vorige ontmoeting ook vir die Diamonds kon verslaan met 21-12.
In die afwesigheid van hul ster-doelskopper, die Akademieweek senter, Simon Liversage, het Charl Swanepoel die verantwoordelikhede behartig vir die besoekers.
Swanepoel kon met twee strafdoelle slaag, maar die tuisspan se verdediging het beteken dat hul drieë genoeg was om vir Diamantveld met leë hande terug te stuur.
Die Diamonds het volgende naweek dan ‘n laaste kans om hul seisoen op ‘n hoogtepunt af te sluit waneer hulle teen Kalahari in Kuruman uitdraf.
Puntemakers:
Duineveld 29 (19) – Drieë: Ethan van Zyl (2), Jaquin Jasson, Ravian Wessels, Shamaro de Klerk. Doelskoppe: DJ Wandrag (2). Hoërskool Upington 23 (13) – Drieë: Siphe Msebenzi, Khayalenkosi Maganga. Doelskoppe: Ruwin Isaks (2). Strafdoele: Isaks (3).
Goudveld 15 (0) – Drieë: Ru-Bran Kock (2), Ruben Crous. Diamantveld 6 (3) – Strafdoelle: Charl Swanepoel (2).
Ander tellings:
o.19 B – Duineveld II 22, Hoërskool Upington 7; Goudveld 15, Diamantveld 12.
o.16 – Hoërskool Upington 15, Duineveld 11; Diamantveld 31, Goudveld 5.
o.15 – Hoërskool Upington 7, Duineveld 6.
o.14 – Hoërskool Upington 19, Duineveld 12; Diamantveld 28, Goudveld 5.




