SuperSport Schools Plus

Du Preez skitter vir Wessies, Klerksdorp troef Middies in die doodsnikke

By Franco Oberholzer , in Rugby | Featured Rugby | News , at 2025-05-25 Tags: , , , , , , , , , , ,

FOTO: Hoërkool Klerksdorp op Facebook.

Ondanks talle ontwrigtinge kort voor die afskop, kon Hoërskool Wesvalia steeds daarin slaag om sy aanspraak op vanjaar se Plaat-titel in die SDC Noordvaal Cup met ‘n sege van 43-38 oor Hoërskool Oos-Moot te verstewig.

Herleef al die aksie op SuperSport Schools – (www.superpsortschools.com) 

Die Wessies het losskakel en kaptein, Eduard Dreyer, ter elfder ure verloor, wat skielik ‘n taamlike leemte gelaat, vernaam wat Dreyer se veelsydigheid agterlangs betref.

Binnesenter, Wian du Preez het oorgeskuif om Dreyer te vervang op losskakel, waar hy terloops verlede jaar die Luiperds se junior spanne verteenwoordig het, terwyl Fafa Calitz van vleuel middeveld toe moes skuif.

Du Preez het ‘n groot paar skoene gehad om vol te staan, maar homself uitstekend van die taak gekwyt. Hy het spel puik dikteer en self ‘n paar keer die Oosies se verdediging gefnuik, wat op ‘n drie vir hom uitgeloop het.

Boonop was sy korrelwerk pale toe ‘n bonus en het dit op die einde van die dag ‘n vername rol gespeel in die Wessies se triomf. Du Preez was in die kol met vier doelskoppe en vier strafdoele, wat sy persoonlike totaal op 25 punte te staan gebring het.

Die Oosies se werkesel op slot, Stian de Vente, was ‘n onbesonge held in die Pretorianers se pak en het drie keer oorgebars vir ‘n welverdiende driekuns in straks sy beste wedstryd van die seisoen.

In Klerksdorp het Hoërskool Klerksdorp, met tyd bykans verstreke, gedruk om vir Hoërskool Middelburg naelskraaps met 25-24 te klop. Losskakel, Dorian Isaacs, gaan van krag tot krag sedert sy skuif van heelagter, terwyl buitesenter, Winton Abrahams, ook weer beïndruk het wanneer hy geleentheid gekry het om die Middies se verdediging te beproef.

Middies se Matthew Abbey het op losskakel nie teruggestaan vir Isaacs nie en kon op die ou einde spog met ‘n persoonlike bydare van 14 punte. Voorlangs het Middies se vaskopstut, Dewald du Toit, ‘n barshou gespeel en een van sy span se drie drieë gedruk.

Hoërskool Marais Viljoen se kaptein, Ethan Weideman, het van voor gelei in sy span se tweede agtereenvolgende sege in die Plaat-afdeling. Die klein skrumskakel het twee keer agter Ligbron Akademie se doellyn gaan draai vir nogmaals ‘n naelbytsege van 37-26 oor die besoekers van Ermelo.

Vir die Liggies het staatmaker-senter, Siynada Dennison, sy dansskoene aangehad om self twee keer deur te wals vir drieë.

Hoërskool Zwartkop het sy onoorwonne veldtog vir 2025 voortgesit met ‘n redelik gemaklike sege van 26-10 oor Hoërskool Kempton Park in Centurion. Dit was die Zwarries se 12de agtereenvolgende oorwinning vanjaar, met haker, Reagn Blignaut, wat vir sy vyfde drie in twee wedstryde oorgeduik het.

Vir die Kempies was losskakel, Stian de Villiers, se balverspreiding puik, maar dir kon oplaas nie ‘n wesenlike verskil aan die uitslag maak nie.

Puntemakers: 

Wesvalia 43 (27) – Drieë: Joshua Pieters, Wian du Preez, Fafa Calitz, Martin Bierman. Doelskoppe: Wian du Preez (4). Strafdoel: Du Preez (4). Oos-Moot 38 (14) – Drieë: Stian de Vente (3), David Joubert, Clayton du Bruyn, Dewron Aford. Doelskoppe: Jeandré Venter (4)

Hoërskool Klerksdorp 25 (20) – Drieë: Rellston Wilson, Winton Abrahams, Tyrand Masango. Doelskoppe: Dorian Isaacs (2). Strafdoele: Isaacs (2). Hoërskool Middelburg 24 (10) – Drieë: Dewald du Toit, Matthew Abbey, Zanempilo Mahlangu. Doelskoppe: Abbey (3). Strafdoel Abbey.

Marais Viljoen 37 (12) – Drieë: Ethan Weideman (2), Cayden Scheepers, Lloyd Shoko-Schenck, Kabelo Thloaele. Doelskoppe: Raynhardt Kruger (4). Strafdoel: Kruger. Ligbron Akademie 26 (8) – Drieë: Siyanda Dennison (2), Janco Claassen, Gaston Brown. Doelskoppe: Eben Degenaar (2). Strafdoel: Brown.

Zwartkop 26 (12) – Drieë: Regan Blignaut, Logan Knott, Luan Isaacs, Etienne van Niekerk. Strafdoele: Tilon Baron (2). Hoërskool Kempton Park 10 (5) – Drieë: Wian Rieckert, Roccow Louw.

Ander spanne: 

o.16: Oos-Moot 34, Wesvalia 14; Middelburg 17, Klerksdorp 12; Marais Viljoen 23, Ligbron Akademie 21; Kempton Park 21, Zwartkop 18.

o.15: Wesvalia 10, Oos-Moot 7; Klerksdorp 21, Middelburg 12; Ligbron Akademie 28, Marais Viljoen 14; Zwartkop 24, Kempton Park 0.

o.14: Wesvalia 31, Oos-Moot 3; Klerksdorp 7, Middelburg 7; Ligbron Akademie 29, Marais Viljoen 17; Kempton Park 19, Zwartkop 0.

Franco Oberholzer
error: Sorry ol' chap, those shenanigans are not permissible.