SuperSport Schools Plus

Drieëvraat Dempsey dryf Brandfort tot oorwinning

By Willem Louw , in Rugby | Featured Rugby | News , at 2024-04-15 Tags: , , , ,

FOTO: Ri-Mari van Heerden

Die Vrystaat B-liga het die afgelope naweek in Bloemfontein by Sand du Plessis afgeskop, met SPS Brandfort, Zastron en Reddersburg (Hendrik Potgieter) wat hul onderskeie veldtogte met goeie seges kon loods.

Brandfort se groot agsteman, Greyven Dempsey, het vir die tweede naweek agtereenvolgens vier drieë ingeryg.

Verlede week het Dempsey ‘n vierkuns behaal teen Hoërskool Heilbron in sy span span se wegholoorwinning van 48-6, en Saterdag was hy weer in die kollig toe Brandfort vir ‘n begeesterde Hoërskool Bloemfontein met 31-12 kon tem.

Verlede jaar het die Brandfort-span ook gereeld hul agsteman ingespan om aanvalle af te rond, met Wehan Strydom wat een van hul voorste driedrukkers was. As Dempsey en sy pak hierdie tempo kan volhou behoort die Brandfort-manne vir nog heelwat vermaaklike rugby te sorg vanjaar.

Gashere, Sand du Plessis, het die dag se aksie afgeskop met ‘n riller teen Jim Fouché se vierdes. Die kragmeting het ‘n wipplankstryd afgegee en met die omdraaislag het die tuisspan nog met 12-14 agtergeloop.

Na ‘n aksiebelaaide tweede helfte was die besoekers steeds met twee punte voor, maar ‘n strafdoel in die doodsnikke deur Zander du Toit het vir sy span ‘n naelbytsege van 27-26 beklink. Keanu Rafferty het ook twee drieë bygedra om met die louere as Speler van die Wedstryd weg te stap.

Zastron het met 51 punte teen geen met Bloemfontein South High School afgereken, met Magwethu Magidela wat ‘n driekuns behaal het.

Reddersburg het ook ‘n indrukwekkende vertoning teen President Steyn gelewer om met 40-7 die botoon te voer. Stirling Batties, Reddersburg se binnesenter wat verlede seisoen reeds by die VKB Reitz-week as lid van die Vrystaat Kiewiete uitgeblink het, was weer op sy stukke met ‘n bydrae van 13 punte.

Volgende naweek kom die spanne by St Andrew’s in Bloemfontein bymekaar, waar Brandfort en Zastron mekaar aanvat in wat vroeg in die seisoen reeds beloof om ‘n bepalende kragmeting te wees.

Hoërskool Bloemfontein sal ook spoedig na die wenpad wil terugkeer wanneer hulle vir St Andrew’s op hul tuisveld die stryd aansê.

Puntemakers:

SPS Brandfort 31 (19) – Drieë: Greyven Dempsey (4), Cecil Lee. Doelskoppe: Amolang Maloisane. Hoërskool Bloemfontein 12 (5).

Sand du Plessis 27 (12) – Drieë: Keanu Rafferty (2), NJ Oelofse, Siya Sebata. Doelskoppe: Zander du Toit (2). Strafdoel: Du Toit. Jim Fouché IV 26 (14).

Zastron 51 (36) – Drieë: Mawethu Magidela (3), WG Rautenbach (2), Lechabile Leballo, Jacques-Philip Franzsen, Marthin Naude, Migael Burger. Doelskoppe: Leballo (3). Bloemfontein South 0.

Reddersburg 40 (21) – Drieë: Boitshepo Nthipe, Waylon Strydom, Attie Melato, Tumi Pholoane, Stirling Batties, Pieter Jacobs. Doelskoppe: Batties (4), Enslin van Wyk. President Steyn 7 (0).

 

Ander tellings:

o. 16 – Zastron 19, Bloemfontein South 5.

o. 15 – Reddersburg 24, President Steyn 19.

Willem Louw
error: Sorry ol' chap, those shenanigans are not permissible.