SuperSport Schools Plus

Drie skole onttrek teen Helpmekaar

By Hannes Nienaber , in Rugby | News , at 2014-06-26 Tags:

“Ons gevoel is dat Helpmekaar se rugbykrag te sterk vir ons skole is,”

Dit is hoe Hoërskool Linden se skoolhoof, Dr. Jorrie Jordaan, sy skool asook Hoërskool Randburg en Hoërskool Riebeeckrand se besluit om nie teen Helpmekaar in die onderskeie eindstryde van die Leeus se Groot-skoleliga verduidelik.

“Die Groot-skole voel dat Helpmekaar nie in ons liga behoort te speel nie. Die afgelope Saterdag se uitslae bewys dit. Helpmekaar het al sy wedstryde met meer as 50 punte gewen, terwyl ons week na week teen mekaar mededingede wedstryde speel. Al die skole voel op grond van Saterdag se uitslae dat dit vir hulle seuns ’n vernedering gaan wees om met groot tellings in die finaal te verloor,” is van die redes in ’n brief deur die Leeus se Groot-skole aan die voorsitter van die Leeus se Hoërskolerugby-vereniging (LHRV), Tinus Diedericks.

Helpies se spanne sal nou tot die Beeldtrofee as die Leeus se voorste spanne in die Groot-skole afdeling deurdring.

Helpmekaar se eerstespan wat teen Linden in die eindstryd sou meeding op 26 Julie, het Randburg met 52-15 in die halfeindstryd van die liga verslaan. Linden sou ook die teenstanders in die eindstryd van die o.16-liga gewees het. Helpies het in sy halfeindstryd van dié liga vir Dinamika met 59-8 uit die pad gevee.

In die o.14-liga waar Helpmekaar met ’n sege van 53-0 oor Alberton tot die eindstryd deurgedring het, sou hy teen Randburg te staan gekom het. Riebeeckrand sou in die o.15-eindstryd vir Helpmekaar ontmoet het. Helpies het tot dié eindstryd met ’n sege van 53-0 oor Jan Viljoen deurgedring.

Die Groot-skole voer ook aan dat Helpmekaar teen Makro-skole soos Affies, Waterkloof en Menlopark meeding en dit is dalk die afdeling waar die skool hoort.

“Ons het laas jaar die voorstel op die LHRV se jaarvergadering gemaak dat ons eers in die halfeindstryde tot die liga toetree. Die voorstel is toe aanvaar. Ons oorweeg dit en sal in die toekoms na die liga vir Makro-skole skuif,” het Eugene Meyer, hoof van rugby by Helpmekaar, gesê.

Helpmekaar het reeds vriendskaplike kragmetings vir sy spanne teen Garsfontein vir die datum van die eindstryde gereël.

“Dit was reg toe ons in die vorige tien jaar gereeld teen dié skole verloor het, insluitend ons o.16-span van verlede jaar teen Linden in die eindstryd. Ons moes dit aanvaar en maar op die ken gevat het. Nou is hulle nie bereid om teen ons te verloor nie,” het Marais gesê.

Linden het 350 seuns in die skool wat beteken dat hy eintlik ’n mediumskool volgens die Beeldtrofee se getalle is. Dié skool het in 2012 laas as mediumskool meegeding en boks dus bo sy gewig. Helpmekaar het 480 seuns in die skool wat heelwat minder as die Makro-skole vereiste van 600 of meer seuns is.

“Die Beeldtrofee is vir ons belangrik en ons sou ook ’n kans gehad het om beserings teen ’n sterker span in die eindstryd op te doen. As dit gebeur dat ons en Helpmekaar tot die eindstryd van die kompetisie deurdring sal ons speel,” het Jordaan gesê.

Affies het vroeër vanjaar van sy kragmetings teen Garsfontein en Menlopark onttrek. Die verdedigende kampioen van die Beeldtrofee vir Makro-skole, EG Jansen van Boksburg, was self vanjaar in ’n moeilike posisie na Jeugland en Die Anker teen hom onttrek het en die span nie belangrike wedstryd-oefening gekry het nie.

Daar is ook nie vanjaar ’n eindstryd om die Leeus se Makro-skole kampioen te bepaal nie. Weens die Suid-Afrikaanse Skole-proewe wat op 26 Julie in Kemptonpark gaan plaasvind het Monument en Florida besluit dat hulle die eindstryd gaan aflas oor die moontlikheid dat van hulle spelers by dié proewe betrokke sal wees.

 

Hannes Nienaber
error: Sorry ol' chap, those shenanigans are not permissible.